Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Uiters aansteeklike’ Delta-variant saai verwoesting

Die Delta-variant van die koronavirus is net so aansteeklik soos waterpokkies, en selfs meer aansteeklik as griep of verkoue, sê die Amerikaanse sentrums vir siektebeheer en -voorkoming (CDC).

Reuters berig dié inligting kom van ’n interne CDC-dokument, wat ook lui dat ’n mens dié variant kan aansteek by mense wat reeds ingeënt is, en dat dit ernstiger siekte kan veroorsaak as enige ander variant.

In die dokument getiteld “Die verbetering van kommunikasie oor die deurbraak en doeltreffendheid van entstowwe”, word gesê dat die variant ’n nuwe benadering verg om die publiek te help om die gevaar te verstaan – insluitende om dit duidelik te maak dat mense wat nie ingeënt is nie, meer as tien keer meer geneig is om ernstig siek te word of te sterf daaraan.

'Erken dat die oorlog verander het'

Voorkomende stappe wat aanbeveel word, sluit in om inenting verpligtend te maak vir gesondheidswerkers, om kwesbare mense te beskerm en om terug te keer na die universele dra van maskers.

inenting
'n Vrou ontvang in 'n hospitaal in Tel Aviv, Israel, haar derde entstofdosis teen die koronavirus. Dié land het begin om mense ouer as 60 'n derde dosis van Pfizer se Covid-19-entstof toe te dien. Foto: Reuters

Die CDC het die egtheid van die dokument bevestig, waaroor die eerste keer deur The Washington Post berig is.

Hoewel mense wat ingeënt is, minder geneig is om besmet te raak, sou hulle deur “deurbraak-infeksies” van die Delta-variant net so geneig wees om die virus oor te dra as diegene wat nie ingeënt is nie.

“Die hoë viruslading dui op ’n groter risiko vir oordrag. Dit wek kommer dat diegene wat ingeënt is en dan met Delta besmet word, die virus kan oordra,” het Rochelle Walensky, hoof van die CDC, in ’n verklaring gesê.

Die CDC het Vrydag data bekend gemaak uit ’n studie van die pandemie in Massachusetts, waarin gesê word dat driekwart van die besmette mense volledig ingeënt is.

“Die studie het hierdie week ’n groot rol gespeel in die CDC se besluit om weer aan te beveel dat ingeënte mense in sommige situasies steeds maskers moet dra,” sê Walensky.

Virus ‘word fikser’

Die CDC sê dat 6 587 mense sedert 26 Julie sogenaamde deurbraak-infeksies gekry het nadat hulle volledig ingeënt is, en dat hulle in die hospitaal opgeneem is of dood is.

Hy het in die Amerikaanse lente opgehou om oor ligte infeksies te rapporteer, maar in die verslag word geraam dat daar ongeveer 35 000 simptomatiese infeksies per week in Amerika was.

In dele van die wêreld waar baie mense nog ingeënt moet word, het die Delta-variant tot stygende sterftesyfers en toenemende hospitaalopnames gelei.

Ons veg teen dieselfde virus, maar ’n virus wat fiks geword het.

Tedros Adhanom Ghebreyesus, hoof van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), sê die gesondheidstelsels in baie lande is nou oorweldig.

Mike Ryan van die WGO het aan verslaggewers gesê dat entstowwe steeds effektief is om ernstige siekte en sterfte te voorkom: “Ons veg teen dieselfde virus, maar ’n virus wat fiks geword het.”

Selfs in ryk lande wat onder die eerstes was met hul inentingsveldtogte, het gevalle toegeneem. Terwyl entstowwe tot dusver die sterftesyfers laer gehou het, bly groot bevolkings kwesbaar, veral waar mense die entstowwe weier.

Dit is in die besonder ’n probleem in dele van die VSA waar kiesers voormalige president Donald Trump gesteun het. Trump is die enigste lewende oudpresident wat nie aan veldtogte van die regering hier deelgeneem het om mense aan te moedig om die entstof te kry nie.

Asiatiese lande stel strenger inperkings in

Lande in Asië, waarvan baie die ergste uitkomste kon vryspring wat Westerse lande verlede jaar getref het, is die afgelope weke besonder swaar getref.

Talle lande het Vrydag strenger inperkings aangekondig.

Die Filippyne het ’n plan aangekondig om die hoofstad, Manila, met sy meer as 13 miljoen mense, twee weke lank in te perk.

In Japan, waar ’n toename in gevalle die Olimpiese Spele oorskadu het, het die regering noodtoestande voorgestel tot einde Augustus in drie distrikte naby Tokio en die westelike distrik van Osaka.

“Die infeksies brei uit. Die situasie is baie ernstig,” het Jasoetosji Nisjimoera, minister van die ekonomie, gesê en gewaarsku dat nuwe infeksies nog nie hul hoogtepunt bereik het nie.

Meer oor:  3De Vlaag  |  Koronavirus  |  Delta-Variant  |  Covid-19  |  Virus-Variante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.