Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Unieke prostese vir elke pasiënt’

As jy dink die span agter prof. Mashudu Tshifularo se 3D-gedrukte middeloorbeentjies is ’n klomp slim Duitsers of skrander Switsers, dink weer.

Die hoofontwerpers van die beentjieprosteses is ’n trots Suid-Afrikaanse maatskappy, Bunnycorp, van Vereeniging in die Vaaldriehoek.

Tshifularo en sy span het ver­lede week mediese geskiedenis gemaak toe hulle die wêreld se eerste oorplanting van 3D-gedrukte middeloorbeentjies in die Steve Biko- akademiese hos­pitaal in Pretoria gedoen het.

Philip van der Walt

Philip van der Walt, eienaar en hoofontwerper van Bunnycorp, sê dit was ’n spanpoging.

“Ons het die hoofontwerp gedoen in samewerking met prof. Tshifularo en ons kollegas by ProMake International, ’n 3D-drukmaatskappy met kantore in Johannesburg en Brittanje. Hulle is die kenners van die materiale en vervaardiging.”

Van der Walt is ’n grafiese ontwerper wat in 3D-ontwerp spesialiseer.

“Die moontlikhede wat 3D-drukwerk vir bekostigbare mediese prostese skep, is legio,” sê hy.

“In die verlede is prostese uit gietvorms geskep. Die probleem daarmee is dat elke mens se liggaam uniek is, wat dit moeilik gemaak het om vir elke pasiënt ’n pasgemaakte produk te vervaardig.

“Met 3D-drukwerk en -ontwerpe kan jy ’n unieke prostese vir elke pasiënt skep. Die middeloorbeentjie-prostese wat prof. Tshifularo saam met ons ontwerp het, kan byvoorbeeld selfs in die operasie ‘geredigeer’ word.”

Hulle ontwerp ook verskeie ander mediese produkte. Die maatskappy het ’n produk ontwikkel met verstelbare sokverbindings wat prostetiese ledemate baie gemakliker vir pasiënte maak.

Bunnycorp werk tans saam met die Spier-wynplaas en die bewaringsentrum Eagle Encounters om ’n prostetiese been vir ’n beseerde sekretarisvoël te ontwerp wat sy been in ’n strik verloor het.

Bunnycorp is ook besig om saam met die Universiteit van KwaZulu-Natal ’n robotagtige hand te ontwikkel wat pasiënte se lewe kan verander.

Tshifularo sê Bunnycorp is die eerste maatskappy wat sy idee verstaan het, daarin geglo het en bereid was om saam met hom te werk.

“Ek is ’n eindgebruiker-ontwerper. Wanneer ek iets ontwerp, gaan ek dit in ’n prosedure prakties moet kan gebruik.

“Wanneer ek saam met hulle ontwerp, dink ek terselfdertyd aan die uitdagings waarmee ek in die teater gekonfronteer kan word.”

Tshifularo het die Bunnycorp-span in die teater genooi om die baanbrekeroperasie dop te hou.

“Dit was ’n fantastiese gevoel om te weet dat ons produk moontlik mense sal kan help om weer te hoor,” sê Van der Walt.

Bunnycorp werk tans saam met die Spier-wynplaas en die bewaringsentrum Eagle Encounters om ’n prostetiese been vir ’n beseerde sekretarisvoël te ontwerp wat sy been in ’n strik verloor het.

“Bunnycorp was bereid om die uitdaging te aanvaar en idees uit te ruil. Kyk waar is ons nou,” sê Tshifularo.

Meer oor:  Philip Van Der Walt  |  Oorplanting  |  Gesondheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.