Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
UV se entstof teen Covid-19 op dieresiekte-kennis geskoei

Navorsers aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) het die ontwerp van ’n moontlike entstof vir menslike gebruik teen Covid-19 op navorsing oor die aansteeklike brongitisvirus, ’n koronavirus wat onder pluimvee voorkom, geskoei.

Die UV se departement mikrobiese, biochemiese en voedselbiotegnologie, het onlangs ’n artikel vir publikasie ingedien met die ontwerp van ’n moontlike entstof teen Covid-19.

Prof. Robert Bragg, lid van die navorsingsgroep in veeartsenykundige biotegnologie wat die artikel geskryf het, sê hulle het die geen ontwerp wat moontlik in die ontwikkeling van ’n entstof gebruik kan word.

Dié artikel is ’n uitbreiding op die navorsing in Liese Kilian, ’n lid van die navorsingsgroep, se MSc-tesis in mikrobiologie wat in Desember voltooi is. Kilian se tesis handel oor die ontwikkeling van ’n eetbare subeenheid-entstof teen die aansteeklike brongitisvirus wat veral onder hoenders voorkom.

Van links is prof. Robert Bragg, Samantha McCarlie, Liese Kilian en dr. Charlotte Boucher-van Jaarsveld in 2019 op ’n kongres in Thailand. Foto: Verskaf

Bragg, wat saam met dr. Charlotte Boucher-van Jaarsveld, Kilian se studieleiers met die tesis was, sê koronavirusse word gekenmerk deur die skerppuntige strukture. Die entstof wat ontwikkel word, word op dié pieke gegrond.

“Sy (Kilian) het die piekproteïene van die aansteeklike brongitisvirus geneem en ’n geen ontwerp om in gis uit te druk.

“Jy sit die geen van die aansteeklike brongitisvirus in die gis. Die gis neem dit op en produseer dan hierdie stuk van die virus. Dit kan dan as ’n entsof gebruik word,” vertel Bragg oor die entstof teen die aansteeklike brongitisvirus.

“Ons het gedink aangesien sy al hierdie ontwikkelingswerk oor die aansteeklike brongitisvirus gedoen het, sal ons kyk of ons die volgorde van die koronavirus se piekproteïene in die sisteem wat ons nou gebruik, kan inbring.”

Kilian en Samantha McCarlie, meestersgraadstudent in die navorsingsgroep, het die genetiese kode van die aansteeklike brongitisvirus met die genetiese kode van die Covid-19-virus, wat reeds gepubliseer was, vervang.

’n Geen vir die ontwikkeling van ’n moontlike subeenheid-enstof teen Covid-19 se piekproteïene is ontwikkel om in dieselfde soort gis uit te druk as wat gebruik is om die aansteeklike brongitisvirus se piekproteïene uit te druk.

’n Subeenheid-entstof is ’n deel van ’n patogeen, wat ’n immuunreaksie teen die patogeen waarvan dit afkomstig is, ontlok.

Bragg sê die navorsingsgroep se doelwit was om die navorsing uit te stuur sodat groter farmaseutiese maatskappye dié ontwerp van ’n moontlike entstof teen Covid-19 kan gebruik en sal help om ’n entstof te ontwikkel.

Hy sê die navorsingsgroep werk nie tans verder aan die ontwerp in die staat van inperking nie en hul geld is ook beperk.

Bragg hoop op geldelike steun sodat hulle met hul navorsing in dié verband kan voortgaan.

Gesprekke oor die moontlikheid dat die navorsingsgroep verder saam met ander navorsers oor die land saamwerk is ook reeds aan die gang.

Hy sê ’n entstof sal egter nie ’n vinnige oplossing wees nie en kan maande, selfs jare neem, voordat dit geïmplementeer word.

Meer oor:  Koronavirus  |  Entstof  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.