Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
UV tevrede met ingrypings, studente terug na Pelonomi

Kort nadat die Universiteit van die Vrystaat (UV) die naweek die opleiding van sy voorgraadse studente by die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein gestaak het, het hy Maandag aangekondig die opleiding word hervat.

Prof. Francis Petersen, rektor, sê uit die oogpunt van die UV is die jongste veiligheidsingrypings van so ’n aard dat die universiteit tevrede is om sy studente en personeel na die Pelonomi-hospitaal terug te stuur.

Die UV is van mening dat alles weer normaliseer, gegrond op die ingrypings wat nou gedoen word. “Ons sal natuurlik seker maak dat dit met spoed geïmplementeer word.”

Prof. Francis Petersen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat. Foto: Mlungisi Louw

Dié aankondiging volg nadat die UV Saterdag die opleiding van sy studente by die Pelonomi-hospitaal gestaak het nadat twee vrouedokters binne ’n week by die hospitaal aangeval is.

Nadat ’n 24-jarige inwonende dokter verlede Dinsdagaand byna deur ’n man in die hospitaal verkrag is, is nog ’n vrouedokter Saterdag in die vroeë oggendure deur drie gewapende mans in die parkeerterrein aangeval en beroof.

Petersen sê uit gesprekke met voorgraadse mediese studente blyk dit dat daar ’n mate van trauma en onsekerheid onder studente is, maar dat hulle bereid is om na die hospitaal terug te keer.

Hy sê die twee voorvalle het die universiteit opnuut laat besef hoe belangrik die veiligheid en sekuriteit van die studente en personeel is.

Volgens Petersen is die UV sedert verlede week in gesprek met die gesondheidsdepartement en die hospitaal se uitvoerende bestuur om aan ’n gesamentlike veiligheid- en sekuriteitsplan te werk.

Hy sê van die onmiddellike ingrypings sluit in beter beligting, meer veiligheidswagte, veral op strategiese plekke, die herstel en aanbring van meer slotmeganismes, die herstel van die omheining om die hospitaal en die installering van kringtelevisie, veral in die parkeerterrein.

Petersen sê die UV is ook reeds in gesprek met die provinsiale, sowel as die nasionale gesondheidsdepartement, en polisie om ’n sterker polisieteenwoordigheid by die hospitaal te verseker.

Volgens Petersen is traumaberading vir studente gereël. Studente wat nie veilig voel om na die hospitaal terug te keer nie, kan met die universiteit in gesprek tree.

“As studente nie veilig voel ná al die ingrypings wat gedoen is en wat nou ingestel word nie, is dit belangrik om na hulle te luister. Al sê ek ons gaan terug, as daar individue is wat steeds bedreig voel, is dit belangrik om te weet wat ons verder kan doen om dit veilig vir hulle te maak.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.