Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
UV wil 1ste studie oor ivermektien in SA doen

Deskundiges by die Universiteit van die Vrystaat (UV) is besig om voor te berei vir die heel eerste kliniese studieprotokol in Suid-Afrika wat sal bepaal of ivermektien doeltreffend in Covid-19-behandeling werk.

Dié verwikkeling kom nadat die burgerregte-organisasie AfriForum Sondag aangedui het dat hy ’n dringende hofaansoek teen die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte Beheerraad (Sahpra), sowel as dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, ingedien het om te verseker dat ivermektien, wat ontwikkel is vir menslike gebruik, vir behandeling gebruik kan word en dokters dit dus sal kan voorskryf.

Dr. Nitha Ramnath, adjunkdirekteur van kommunikasie en bemarking by die UV, het Sondag in ’n verklaring gesê dat Farmovs, ’n navorsingsmaatskappy wat ten volle besit word deur die UV, in samewerking met verskeie mediese en wetenskaplike deskundiges by dié universiteit tans vir die protokolstudie voorberei om dit aan die betrokke reguleringsowerhede vir goedkeuring voor te lê.

“As die kliniese protokol deur die relevante nasionale regulatoriese owerhede goedgekeur word, sal die UV die eerste universiteit in Suid-Afrika wees wat so ’n studie aanpak.”

Volgens Ramnath bly die UV verbind tot noukeurige wetenskaplike en bewysgegronde navorsing, en ondersteun beide Farmovs en die universiteit ten volle die gepubliseerde menings en riglyne van Sahpra en die wetenskaplike adviesrade wat deur die wetenskapsgemeenskap gestig is, sowel as die standpunt van die regering oor ivermektien rakende Covid-19.

Vroeër is berig dat Sahpra die middel vir menslike gebruik verbied het en gesê het dat dit hoofsaaklik gebruik word om parasiete soos luise en wurms in vee te beheer.

Die UV se aankondiging kom nadat The Times in Londen Saterdag ook berig het dat navorsers aan die Universiteit van Oxford aangekondig het dat hulle daar omvattende kliniese studies gaan doen om te bepaal of ivermektien teen Covid-19 kan werk.

Barend Uys, hoof van navorsing by AfriForum, het Sondag in ’n verklaring gesê hul hofaansoek kom nadat “Sahpra tot dusver nagelaat het om aansoeke van mediese dokters goed te keur wat ingevolge relevante wetgewing ingedien is om ivermektien te laat goedkeur vir die behandeling van Covid-19-pasiënte”.

AfriForum wil onder meer hê dat die hof Sahpra se versuim om die art. 21-aansoeke goed te keur ter syde stel en daardie aansoeke goedkeur.

Volgens Uys verkeer die land in buitengewone omstandighede en moet die moontlike risiko’s en voordele van ’n besluit onder sulke omstandighede met dringendheid oorweeg word.

Intussen het Solidariteit ook Sondag aangekondig dat hy in die komende week dringend aan die Wêreldgesondheidsorganisasie en die nasionale koronavirusbevelsraad sal skryf oor die regering se planne om swart ekonomiese bemagtiging (SEB) deur die verspreiding van entstowwe te bevorder.

Dit volg nadat Rapport Sondag berig het dat pres. Cyril Ramaphosa op ’n webinaar van die ANC se Progressiewe Sakeforum (PBF) verlede week gesê het dat daar SEB-geleenthede met die implementering van die land se entstofprogram sal wees. Dit begin in Februarie.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het bygevoeg dat die nasionale bevelsraad regulasies moet afkondig om te verseker dat die aankoop en verspreiding van entstowwe deur die beste en mees effektiewe maatskappye gefasiliteer word. “Lewens en gesondheid moet nou ’n hoër prioriteit as ras geniet.”

Dit volg nadat Ramaphosa Vrydag in sy uitgelekte politieke oorsig aan afgevaardiges by die ANC-lekgotla gesê het dat die interministeriële komitee wat politieke oorsig oor die entstofprogram moet hou, sal toesien dat “gepaste maatreëls in plek is om korrupsie en vermorste uitgawes met die aankoop en verspreiding van entstowwe te verhoed”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.