Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
V&A: Wanneer gaan hierdie pandemie eindig?

Die 1918-grieppandemie het slegs twee jaar geduur, maar het ernstige verwoesting gesaai en 1% van die wêreld se bevolking uitgewis.

Hoewel daar minder sterftes in die huidige pandemie is, voel dit vir sommige mense nimmereindigend. Arisa Janse van Rensburg het by kenners gaan uitvind wat ons uit die 1918-pandemie geleer het en hoe lank Covid-19 nog met ons gaan wees.

1. Hoe lank het die vorige groot pandemie in 1918 geduur en hoeveel vlae was daar?

Die grieppandemie van 1918, veroorsaak deur die influenza A-virus, subtipe H1N1, het oor twee kalenderjare gewoed.

Prof. Cheryl Cohen, hoof van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) se sentrum vir respiratoriese siektes, sê dit was egter baie dodeliker as die huidige pandemie en het 1% van die wêreldbevolking uitgewis. Covid-19 is nog nie naastenby daar nie.

Die griep het net ná die einde van die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek en is vermoedelik na Suid-Afrika gebring deur soldate wat van Europa af teruggekeer het.

’n Covid-19-inenting word toegedien in die Milpark-hospitaal in Johannesburg. Foto: Argief

Die gevreesde griep is in September van daardie jaar vir die eerste keer in Durban in Suid-Afrika waargeneem nadat terugkerende soldate per skip hier geland het en dit is van daar af na die binneland versprei.

Later die jaar is die griep in Kaapstad waargeneem nadat soldate ook daar geland het. Dit het van daar na die Noord- en die Oos-Kaap en die Vrystaat versprei.

Cohen sê die virus was net in 1918 en 1919 pandemies en het twee vlae gehad. Dit is moeilik om te sê presies hoeveel mense wanneer dood is omdat data nie destyds so volledig soos vandag aangeteken is nie.

Prof. Susan Goldstein, ’n kenner van openbare gesondheid verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) en ’n lid van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, sê die tweede vlaag was dodeliker as die eerste.

Na raming het 300 000 mense in Suid-Afrika binne ses weke in die tweede vlaag gesterf.

2. Wat het van daardie 1918-virus geword? Het dit uitgesterf of is dit nog met ons?

Die veel kleiner bevolking in daardie stadium het kudde-immuniteit ontwikkel, wat daartoe gelei het dat hoewel die virus nie uitgesterf het nie, was dit nie meer so dodelik nie, sê Cohen.

Daar was nie ’n entstof nie en mense het teenliggaampies via natuurlike infeksies ontwikkel.

Hoewel dit moontlik is dat daardie virus ook gemuteer het, is daar nie bewyse daarvoor nie omdat daar nie moderne tegnologie was waarmee dit bepaal kon word nie.

Volgens haar muteer griep gereeld en word dit pandemies wanneer dit só muteer dat die immuniteit in die bevolking dit glad nie herken nie.

Daar is steeds griepvirusse wat regstreekse afstammelinge van die 1918-virus is. Die griep muteer jaarliks en dit is waarom die griepinenting elke jaar aangepas moet word.

Volgens Goldstein moet griep self nie onderskat word nie. Dit eis jaarliks die lewe van 11 000 Suid-Afrikaners.

Volgens Worldometer is 48 094 Suid-Afrikaners van 15 Februarie 2020 tot 15 Februarie 2021 aan Covid-19 dood.

Prof. Wolfgang Preiser, hoof van virologie aan die Universiteit Stellenbosch, sê die influenza A-virus, subtipe H1N1, het tot in 1957 in die menslike bevolking gesirkuleer en was deel van mense se lewe. In 1957 het dit tydens die “Asiatiese” grieppandemie na die H2N2-griepvirus gemuteer. Dit het op dieselfde manier as H1N1 deel van mense se lewens geword, maar het H1N1 vervang net soos die Delta-variant nou die oorspronklike Ears-CoV-2-virus (wat Covid-19 veroorsaak) vervang het.

Volgens Preiser het die H1N1-virus onverwags in 1977 teruggekeer. “Dit is verdag omdat die H1N1-virus wat in 1977 verskyn het, baie nou verwant was aan dié wat in die 1950’s gesien is. Daar word algemeen aanvaar dat ’n soort ‘ongeluk’ daartoe gelei het dat dit uit ’n laboratorium, vermoedelik in Noord-Asië, ontsnap het.”

Die H1N1-virus is in ’n bevrore staat in laboratoriums gehou sodat dit vir inentings gebruik kon word. Preiser sê dit is onwaarskynlik dat ’n virusmutasie sal terugkeer nadat dit vervang is met een wat dodeliker en aansteekliker is.

3. Watter verskille is daar tussen die koronaviruspandemie en die 1918-grieppandemie?

Goldstein sê die twee pandemies is deur twee verskillende soorte virusse veroorsaak.

Die 1918-pandemie is deur ’n griepvirus veroorsaak en Ears-CoV-2 word soos die afkorting “ears” (ernstige akute respiratoriese sindroom) aandui, meer met verkoues verbind.

Ears-CoV-2 is aansienlik meer aansteeklik en dodeliker as ’n gewone verkoue.

Volgens Goldstein het die feit dat die wêreld via tegnologie aansienlik kleiner geword het as wat dit in 1918 was, ’n negatiewe en ’n positiewe uitwerking.

Suid-Afrika kon sien wat in ander lande gebeur en op grond daarvan voorberei.

Die virus het nou makliker versprei omdat mense vanweë vliegtuie meer gereeld reis. Aan die positiewe kant kon lande danksy tegnologie saamwerk om ’n entstof te ontwikkel.

Sy sê tegnologie – soos televisie, die internet en kommunikasie tussen lande – het ook ’n positiewe impak op Suid-Afrika gehad. “Suid-Afrika kon sien wat in ander lande gebeur en op grond daarvan voorberei.”

Dr. Cloete Jansen van Vuuren, hoof van die departement interne geneeskunde aan 3 Militêre Hospitaal in Bloemfontein en ’n kenner in die voorkoming en behandeling van oordraagbare siektes, benadruk dat die omstandighede toe en nou baie verskil. “Dit was oorwegend jong mense wat in 1918 gesterf het. Hulle het geen suurstof in hospitale gehad vir behandeling nie en ook nie ’n entstof nie. Ons is dus beter af.”

Cohen sê griepentstowwe is eers in die 1930’s ontwikkel en was eers van 1945 af algemeen beskikbaar.

4. Meer as 100 jaar het verloop tussen die twee groot pandemies. Hoe lank gaan dit wees voordat ons nog so een beleef?

“Dit gaan waarskynlik nie weer so lank duur voor die volgende pandemie nie,” sê Goldstein. Maar dit is moeilik om te voorspel presies wanneer en hoe nog ’n pandemie kan ontstaan.

Die Ebola-virus het amper ook ’n pandemie veroorsaak, maar dit is vinnig genoeg ingeperk.

Sy sê die groot wêreldbevolking speel ’n rol omdat mense toenemend meer in kontak met diere kom.

Dit lei tot oorgangsvirusse tussen mens en dier. “Dit is gewoonlik skadeloos, maar dit kan ’n pandemie veroorsaak. Die Ebola-virus het amper ook ’n pandemie veroorsaak, maar dit is vinnig genoeg ingeperk.”

Goldstein sê dit is omdat die Demokratiese Republiek die Kongo, waar Ebola uitgebreek het, nie ’n algemene reisbestemming is nie en omdat reise na Wes-Afrika gestaak is die oomblik toe dit uitgebreek het.

Die uitbreking van die Ebola-virus het gehelp om medici op pandemies voor te berei. Dit is nou byvoorbeeld die eerste keer dat volledige persoonlike beskermende toerusting (PBT) gebruik word.

Preiser sê dit sal help as lande die verkope van pluimvee, soos hoender, beter beheer.

As hoenderboerderye voortdurend vir siektes gemonitor word, kan ons vordering maak, sê Preiser. Voëlgriep kom gereeld in pluimvee voor, wat dit maklik laat versprei, veral omdat mense hul eie pluimvee aanhou of op markte koop.

5. Wat gaan met Ears-CoV-2 gebeur?

Prof. Shabir Madhi, dekaan van die fakulteit gesondheidswetenskappe aan Wits, sê die virus gaan waarskynlik vir die res van ons lewens met ons wees en sal heel moontlik aanhou muteer.

Desnieteenstaande sal ons na ’n “relatief normale leefstyl” kan terugkeer sodra 80% tot 90% van die bevolking ingeënt is.

Hy is onseker wanneer dit gaan wees.

Ons is nou “in die wittebroodfase van inentings” omdat diegene wat ingeënt wíl word, nou geholpe raak. Die uitdaging kom oor ’n paar maande om mense te oortuig wat nié ingeënt wil word nie, sê prof. Shabir Madhi, dekaan van die fakulteit gesondheidswetenskappe aan Wits. Foto: Deaan Vivier

“Ons is nou in die wittebroodfase wat inentings betref omdat mense nou in massas opdaag. Oor twee maande is dit dalk ’n ander storie omdat diegene wat huiwerig is, dan oortuig moet word.”

Madhi sê aanvullende inentings, oftewel boosters, kan wel nodig wees omdat dit nog nie duidelik is hoe lank natuurlike immuniteit of immuniteit danksy ’n inenting sal hou nie.

Almal gaan teenliggaampies kry. Jy gaan dit kry deur ’n inenting of deur natuurlike infeksie, die keuse is joune.

Inentings wat spesifieke variante teiken, word tans ontwikkel.

Hoewel mutasies ’n impak op die inentings sal hê, sal die inentings waarskynlik altyd doeltreffend wees om ernstige siekte en hospitalisering te voorkom.

Jansen van Vuuren sê ook die virus gaan altyd met ons wees, maar wanneer die meeste mense immuniteit het, gaan dit deel van die “agtergrondlawaai” word.

“Almal gaan teenliggaampies kry. Jy gaan dit kry deur ’n inenting of deur natuurlike infeksie, die keuse is joune,” sê Jansen van Vuuren.

Volgens Goldstein kan die virus wel verder muteer, “en hoe langer dit sirkuleer sonder dat almal immuniteit verkry, hoe groter is die kans dat dit gaan muteer”.

6. Hoe lank gaan dit nog duur voordat ons:
Pasiënte word in die Charlotte Maxeke- Akademiese Hospitaal in Johannesburg teen Covid-19 ingeënt. Foto: Deaan Vivier

a) Groot byeenkomste soos troues, begrafnisse en mylpaal-verjaardagpartytjies sonder maskers kan hou?

Volgens Jansen van Vuuren kan dit enigiets tussen een en vyf jaar wees.

“Dit hang af van hoe vinnig mense ingeënt word. Dit lyk asof die regering genoeg voorraad sal hê tot April 2022 vir almal wat ingeënt wil word. Dinge kan daarna stadigaan weer na normaal terugkeer, maar as mense hulle nie wil laat inent nie, kan dit vier tot vyf jaar duur voordat almal natuurlike immuniteit verkry,” sê hy.

Madhi sê daar is ’n moontlikheid dat mense aanvullende inentings sal moet kry. “Dit hang alles af van wat jy wil bereik. As jy infeksies wil voorkom, sal jy meer gereeld aanvullings moet kry, maar as jy teen ernstige siekte wil beskerm, sal dit minder gereeld wees en jy sal waarskynlik net diegene met onderliggende siektes inent.”

b) Sonder maskers in kantore kan werk en sonder maskers winkel toe kan gaan?

Jansen van Vuuren sê dit hang weer eens af van hoe vinnig mense ingeënt word.

Preiser sê omdat die Delta-variant uiters aansteeklik is, sal ons waarskynlik nog lank maskers moet dra.

“Na my mening was die opheffing van die maskervereiste in die VSA vir mense wat ingeënt is, te vroeg. Nou het hulle die aanbeveling weer verander.”

Preiser stel ook voor dat mense in die openbaar altyd maskers moet dra om diegene met ’n swak immuunstelsel te beskerm.

Hy sê dit sal waarskynlik vir die res van ons lewe so wees omdat maskers mense ook teen ander siektes beskerm. Dit kan ook help om toekomstige pandemies te voorkom.

c) Oorsee kan reis sonder om heeltyd bekommerd te wees jy gaan in die vliegtuig, op lughawens of op ander plekke die koronavirus opdoen?

Volgens Jansen van Vuuren sal mense net toegelaat word om te reis as hulle reeds ingeënt is.

“Mense steek steeds aan, maar jy word baie minder siek.”

Volgens hom gaan daar steeds van mense verwag word om maskers te dra in enige openbare plek, soos lughawens.

Preiser benadruk dat ons waarskynlik vir die res van ons lewe maskers in openbare plekke sal moet dra om ook ander siektes te voorkom en omdat die inentings nie oordraagbaarheid keer nie.

Preiser sê voor die koms van die Delta-variant het inentings wel oordraagbaarheid in 'n groot mate gekeer en mense minder aansteeklik gemaak.

“Sommige vroeë studies dui daarop dat die risiko vir infeksie met Delta groter is, dat die siekte erger kan wees en dat besmette ingeëntes steeds aansteeklik kan wees. Een ding bly seker: Inenting verminder die risiko vir ernstige infeksie en dood, insluitend teen die Beta- of Delta-variant, aansienlik,” sê Preiser.

Hy sê die data oor Delta kan moontlik nog verander.

Meer oor:  Prof. Susan Goldstein  |  Pandemie  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.