Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Vakbondlede gooi pasiënte se kos op grond ‘oor bonusse’

’n Klag van vandalisme is by die polisie in Polokwane ingedien nadat werkers Dinsdagmiddag ’n chaos in die gange van die provinsiale hospitaal in die stad veroorsaak het.

Polokwane
Dit is hoe die Provinsiale Hospitaal Polokwane se kraamafdeling Dinsdagmiddag gelyk het nadat ontevrede Nehawu-lede verwoesting gesaai het. Foto: Neil Shikwambana

Vakbondlede van Nehawu het kos en melk, wat die pasiënte se aandete sou wees, in die kraamafdeling en in die hospitaal se kombuis uitgegooi. Vullisdromme is ook in die hospitaal se gange omgekeer.

Hulle is glo ontevrede oor hul prestasiebonusse.

Neil Shikwambana, woordvoerder van die departement van gesondheid in Limpopo, sê die vakbondlede se gedrag is onaanvaarbaar nadat die departement vanjaar reeds R43 miljoen aan prestasiebonusse bestee het.

Die staking en betoging waarmee werkers Dinsdag begin het, is boonop onwettig, sê hy.

Volgens Shikwambana het van die werkers selfs die verpleegsters probeer keer om pasiënte te behandel. Trollies waarop medisyne, verbande en pasiënte-inligting was, is ook omgekeer en het op die vloer gelê.

“Hoekom moet die pasiënte daaronder ly as die werkers ontevrede oor hul bonusse is? Dit is nie reg nie,” het Shikwambana gesê.

Die departement het ’n klag van vandalisme by die polisie in Polokwane ingedien.

Dr. Phophi Ramathuba, LUR van gesondheid in Limpopo, is vroeër vandeesweek deur stakende Nehawu-lede by die Polokwane-hospitaal verjaag toe sy met hulle wou vergader.

Calvin Tshamano, voorsitter van Nehawu in Limpopo, het nie op skriftelike navrae oor die vakbondlede se optrede gereageer nie.

Ontstoke Nehawu-lede het bakke rys in die kombuis van die Provinsiale Hospitaal Polokwane omgekeer. Foto: Neil Shikwambana
Die Provinsiale Hospitaal Polokwane se kombuis is Dinsdagmiddag in ’n chaos gelaat nadat ontevrede Nehawu-lede kos en melk uitgegooi het. Foto: Neil Shikwambana
Werkers van die Provinsiale Hospitaal Polokwane wat glo ontevrede is oor prestasiebonusse het Dinsdagmiddag kos in die hospitaal se kombuis uitgegooi. Foto: Neil Shikwambana
Dít is hoe die gange van die Provinsiale Hospitaal Polokwane Dinsdagmiddag gelyk het nadat Nehawu-lede ’n chaos veroorsaak het. Foto: Neil Shikwambana

Meer oor:  Nehawu  |  Betoging  |  Staking  |  Polokwane  |  Vandalisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.