Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Veldhospitaal opgerig weens ‘ongekende vraag’ na beddens

Weens ’n “ongekende vraag” na hospitaalbeddens weens Covid-19 word ’n veldhospitaal nou op die parkeerterrein van die Netcare Pholoso-hospitaal in Polokwane opgerig.

So lui ’n verklaring van Netcare waarin die private hospitaalgroep sê die Netcare Pholoso-hospitaal is heeltemal vol.

Luidens die nuutste inligting van die departement van gesondheid in Limpopo was daar Woensdag 1 951 aktiewe Covid-19-gevalle in Polokwane.

Sedert Maart verlede jaar is 8 594 mense in Polokwane positief vir die koronavirus getoets en 211 is aan Covid-19 dood.

’n Tent is by die Netcare Pholoso-hospitaal in Polokwane vir Covid-19-pasiënte opgerig. Foto: Marietie Louw-Carstens

’n Dokter wat nie sy naam genoem wil hê nie en self positief vir die virus getoets is, het mense gemaan om versigtig te wees.

“Dit is nou die tyd om by jou huis te bly en nie oor-en-weer te kuier nie. Die tweede variant van Covid-19 is hoogs aansteeklik.”

Daar was Woensdagoggend ’n miernes van bedrywighede op die parkeerterrein van die hospitaal langs die R81-pad, waar mense hospitaalbeddens en tydelike toilette opgerig het.

’n Tent is ook by die noodgevalle-eenheid opgerig. Netwerk24 het in minder as ’n halfuur vyf ambulanse opgemerk wat pasiënte hier afgelaai het.

In Du Preez-straat langs die hospitaal het daar meer as 30 motors gestaan met mense wat wag om by die Ampath-laboratorium vir die koronavirus getoets te word.

Dr. Richard Friedland, uitvoerende hoof van Netcare, sê daar is die afgelope week ’n skerp en aanhoudende toename in mense wat met Covid-19 in die Netcare Pholoso-hospitaal opgeneem moet word.

’n Lang ry motors in Du Preez-straat, Polokwane, wat wag om by Ampath getoets te word. Foto: Marietie Louw-Carstens
Motors wag in ’n ry by die Ampath-laboratorium in Polokwane. Foto: Marietie Louw-Carstens

“Die gesondheidstelsel in Limpopo is onder druk weens die skerp toename in Covid-19-pasiënte wat in die hospitaal opgeneem moet word,” sê Friedland.

Hy sê 60 bykomende gesondheidswerkers sal by die hospitaal ontplooi word.

Die veldhospitaal, oftewel kliniese besluitnemingseenheid, sal teen Donderdag in gebruik geneem kan word. Dit het plek vir 80 beddens en sal help om die druk op die ongevalle-eenheid te verlig.

Pasiënte sal gestabiliseer en behandel word totdat ’n bed in die hospitaal oopgaan of hulle na ’n ander hospitaal in Polokwane oorgeplaas kan word.

“Die doel is om soveel as moontlik mense in hierdie ongekende omstandighede te help,” sê Friedland.

Die provinsiale departement van gesondheid werk saam met Netcare en die veldhospitaal voldoen aan die nodige vereistes.

Daar is ook tente buite die noodgevalle-eenheid van die Mediclinic Limpopo in Burgerstraat, Polokwane, opgerig.

Hospitaalbeddens buite die Netcare Pholoso-hospitaal in Polokwane. Foto: Marietie Louw-Carstens
’nPasiënt word Woensdag by die Netcare Pholoso-hospitaal in Polokwane afgelaai. Foto: Marietie Louw-Carstens

Dokters wat op voorwaarde van anonimiteit met Netwerk24 gepraat het, sê daar is ook in dié hospitaal ’n skerp toename in pasiënte met Covid-19.

“Daar is bykomende beddens gekry wat in die hospitaal gebruik word.”

MC Botha, hospitaalbestuurder van die Mediclinic Limpopo, het nie teen druktyd op navrae gereageer nie.

Daar was Woensdag ’n lang ry mense by die Du Buisson-patologiediens in Burgerstraat waar mense vir die koronavirus getoets word.

Polokwane is in die Capricorn-distrik wat een van twee Covid-19-brandpunte in Limpopo is.

Die Mediclinic Tzaneen sê in ’n verklaring daar is “ ’n skielike en volgehou toename” in die aantal Covid-19-pasiënte by die hospitaal. Bykomende maatreëls soos meer personeellede is ingestel.

“Wanneer ons waakeenheid en hoësorgeenheid vol is, sal pasiënte na ander hospitale geneem word,” lui die verklaring.

Daar was Woensdag 374 aktiewe Covid-19-gevalle in Tzaneen. Sedert Maart verlede jaar is 1 818 mense positief vir die virus getoets. In die ooreenstemmende tydperk is 57 mense aan die virussiekte dood.

Teen Woensdag was daar 5 297 aktiewe gevalle in Limpopo. Sedert Maart is 28 244 mense in Limpopo positief getoets en het 22 322 herstel. 625 mense is hier aan die virussiekte dood.

Meer oor:  Veldhospitaal  |  Polokwane  |  Koronavirus  |  Pandemie  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.