Die eerste duisend dae van ’n mens se lewe het ’n beduidende invloed op sy of haar toekoms en as dit reg benader word, kan dit tot ’n baie meer vervullende lewe lei.
Dit is die boodskap wat die Universiteit van die Vrystaat (UV) en die Moeder-en-kind- Akademiese Hospitaal- (Macah) stigting, wat onder die UV se vaandel tot stand gebring is, met ’n inligtingsveldtog wil tuisbring.
Dié stigting en die UV se departement pediatrie en kindergesondheid se Eerste 1 000 dae-veldtog sal op 1 November begin, waarmee die aandag vir ’n maand op dié onderwerp gevestig sal word.
Die veldtog sal onder meer voeding vir die ma en baba, borsvoeding, die rol van die pa, die ma se geestesgesondheid en ongewenste swangerskappe aanraak.

Prof. André Venter, die Macah-stigting se stigtersdirekteur.
Prof. André Venter, die Macah-stigting se stigtersdirekteur, sê dit is noodsaaklik dat die eerste duisend dae – van die begin van die swangerskap tot die eerste twee jaar ná geboorte – reg benader word om die kringloop van ellende, armoede en onbeantwoorde drome te breek.
As dit reg benader word, kan dit tot ’n meer bevredigende lewe lei – finansieel, fisiek en emosioneel, sê Venter.
Vir die swangerskap om so goed moontlik te verloop moet die ma se geestes- en fisieke gesondheid goed wees en moet sy goeie maatskaplike en ekonomiese ondersteuning hê, sê hy.

Dr. Lizzy Tabane, hoof van die UV se departement pediatrie en kindergesondheid.
“Sodra die baba gebore word, is daar mense wat na die baba moet omsien. Die baba moet ’n band vorm, en dit is eintlik ’n magiese tyd.”
Venter verwys voorts na die verhouding tussen ma en kind, wat na die kind se voeding, ontwikkeling en emosionele welstand omsien. ’n Gebrek aan emosionele ondersteuning kan tot emosionele en gedragsprobleme lei.
Dr. Lizzy Tabane, hoof van die UV se departement pediatrie en kindergesondheid, sê beter kennis onder die jeug oor die eerste duisend dae is noodsaaklik om vir hul toekoms te beplan, wat ook ’n invloed op hul kinders se toekoms kan hê.