Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Verbied siekefondse’

In ’n skielike ommeswaai wil die regering mediese skemas in hul huidige formaat verbied wanneer die omstrede Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) uiteindelik aan die gang kom.

Hy maak beswaar: Ismail Momoniat, waarnemende direkteur-generaal in die tesourie.

Die nuwe ontwikkeling word onthul in ’n gelekte brief wat die tesourie verlede week geskryf het aan dr. Olive Shisana, die hoof van die “NGV-oorlogskamer” in die presidensie.

Die ontwikkeling is ’n ommeswaai omdat die NGV-wetsonwerp wat in Julie gepubliseer is vir openbare kommentaar dit duidelik gemaak het dat mediese fondse sal voortbestaan.

Dr. Jonathan Broomberg, hoof van die maatskappy Discovery Health, het dié weergawe in hul voorlegging aan die regering verwelkom. Hy sê die NGV sal verskeie beperkings op mense plaas oor wie, wanneer en waar hulle mediese verskaffers kan besoek, maar dié beperkings kan omseil word omdat die wetsontwerp toe nog uitdruklik vir uitsonderings voorsiening gemaak het.

Ons indruk is dat die hersiene wetsontwerp die voorleggings wat gemaak is grootliks geïgnoreer het.

“Dis ’n belangrike punt, want dit bevestig dat mediese fondse sal aanhou bestaan saam met die NGV-stelsel en dat pasiënte met mediesefonds-dekking hul vryheid van keuse sal behou oor watter dokters en hospitale hulle wil gebruik.”

Ook Ntando Ndonga, hoof van risiko en regsake by Bestmed, het vroeër aan Rapport gesê wat hulle van die wetsontwerp verstaan, is dat siekefondse sal kan aanhou bestaan.

Maar dié posisie is by die venster uit in die nuwe weergawe van die wetsontwerp wat volgens die gelekte brief reeds aan die kabinet gestuur is vir goedkeuring.

Dié weergawe het ’n nuwe bepaling wat sê nóg siekefondse nóg “enige ander vrywillige versekering vir private gesondheidsorg” soos gapingsdekking sal enigiets mag dek wat deur die NGV aangebied word. Dit is om te sorg dat die NGV in sy doelstellings slaag en “fragmentering van gesondheidsfinansiering” te voorkom, lui die nuwe weergawe.

In ’n brief wat Ismail Momoniat, waarnemende direkteur-generaal in die tesourie, aan Shisana geskryf het, maak hy sterk kapsie hierteen: “Dié bepaling is onnodig in dié stadium en mense met mediese fondse en belastingbetalers sal dit as ’n ekstreme bedreiging vir die hele private gesondheidsektor ervaar.” Hy skryf dié bepaling sal ’n stortvloed van hofsake tot gevolg hê en beleggers in die gesondheidsektor afskrik.

Dit sal ook etlike jare duur voordat daar enige noemenswaardige vordering met NGV-dienste is en intussen kan die siekefondsbedryf met 8,8 miljoen lede nie geslag word nie.

Luidens Momoniat se brief het die kabinet juis voor Julie besluit om dié bepaling in die wetsontwerp te skrap. Hy sê dit is om onverklaarbare redes weer terug.

Momoniat se brief maak beswaar teen verskeie ander bepalings:

  • Geen kostebepalings is nog gedoen nie, al lui die nuwe weergawe van die wet dat 300 nuwe entiteite geskep gaan word om gratis primêre gesondheidsorg te verskaf. “Die fiskale situasie het ook drasties verander sedert die oorspronklike kosteberamings vir die witskrif gedoen is,” skryf hy.
  • Die nuwe wetsontwerp het in werklikheid ten doel om R150 miljard per jaar wat tans aan provinsies gegee word vir hospitale en gesondheidsdienste weg te neem en in die NGV-fonds te stort sonder enige parlementêre toesig. Momoniat sê die funksies van die onderskeie provinsies word in die Grondwet uitgestippel en kan nie sommer deur die NGV-wet en sonder konsultasie met die provinsies verander word nie.
  • Die wetsontwerp lui dat dit voorkeur geniet bo enige ander wetgewing oor verantwoordelike bestuur van openbare finansies. Die tesourie is bekommerd oor so ’n reusefonds wat deur ’n handvol mense beheer gaan word sonder noemenswaardige oorsig.

Momoniat sê hy kan nie die nuwe weergawe ondersteun nie en die tesourie is nie gekonsulteer oor die veranderinge nie. Hy stel voor dat die “oorlogskamer” wat Ramaphosa in sy kantoor ingestel het eerder omskep word in ’n interministeriële projek waar almal wat geraak word, geken word. “Ons indruk is dat die hersiene wetsontwerp die voorleggings wat gemaak is grootliks geïgnoreer het,” skryf Momoniat.

Spotlight, ’n nuuspublikasie van die burgerregteorganisasie Section27 en die Treatment Action Campaign, berig dié beskouing word gestaaf deur die feit dat Shisana se nuwe wetsontwerp geskryf is net 14 dae ná die spertyd vir openbare kommentaar.

Die tesourie het Vrydagmiddag wal gegooi en in ’n verklaring ontken dat daar ’n oorlog met die oorlogskamer is. Die brief is deel van die “lewendige en voortdurende konsultasie” tussen die verskillende departemente, het die tesourie gesê. Volgens die woordvoerder het die oorlogskamer intussen die tesourie gelyk gegee oor sekere besware, maar daar is nie uitgebrei oor watter toegewings gemaak is nie.

Die openbare kommentare wat Rapport al onder oë gehad het, beloop duisende bladsye wat grootliks hoogs krities was oor die NGV-wetsontwerp, hoewel elkeen saamstem met die nodigheid vir ’n drastiese verbetering van gesondheidsorg vir almal.

Section27 waarsku in voorleggings dat daar byna geen wigte en teenwigte vir korrupsie en bedrog is met so ’n reusefonds nie en dat verskeie rolspelers in die fonds buitengewoon baie mag sal hê.

Die Suid-Afrikaanse Privaatprakti- syns­forum (SAPPF), wat sowat 3 000 spesialiste en 3 500 ander medici verteenwoordig, het ’n hele alternatiewe model vir universele gesondheidsorg voorgestel. Dit berus grootliks op verpligte private mediese versekering vir almal wat ’n inkomste verdien, sodat dit meer bekostigbaar vir almal is deur groter risiko-poele.

Die SAPPF se voorlegging detailleer tientalle teenstrydighede in die wetsontwerp, gebreke in die raamwerk oor hoe die NGV sal werk en ’n dawerende stilte oor hoe die NGV gefinansier gaan word.

Die forum maak ook beswaar teen die “sertifikaat van behoefte” wat medici sal moet kry. Dit kom neer op toestemming om net in sekere gebiede waar daar behoefte aan dienste is te praktiseer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.