Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Verbod kan baie laat ophou rook’ – NDZ

Sy verwag die verbod op tabakprodukte in die nasionale staat van inperking weens die Covid-19-pandemie sal uiteindelik daartoe lei dat ’n beduidende aantal Suid-Afrikaners ophou rook.

Só voer dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, in hofstukke aan in die saak tussen die Fair Trade Independent Tobacco Association (Fita) en die regering oor die tydelike verbod op die verkoop van tabakprodukte.

Fita het hom tot die hooggeregshof in Pretoria gewend om dié verbod ongeldig verklaar te kry. Die saak sal op 9 Junie aangehoor word.

Dlamini-Zuma voer in die regering se antwoord oor hoekom hy die verbod ingestel het aan dit is waarskynlik veral die armes en die jeug wat die rookgewoonte sal los.

Sy wys daarop die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing het in twee peilings onder sowat 70 000 rokers bevind 88% van rokers kon tydens vlak 5 van die inperking nie sigarette te koop kry nie.

Meeste rokers kan sonder hulp ophou

Die minister sê daar is al bewys 95% van rokers kan sonder medikasie of amptelike hulp ophou rook.

“Die meerderheid oudrokers sê dit was makliker om op te hou rook as wat hulle verwag het.”

Daar is volgens haar ook al bewys die derde en vyfde dag nadat mense opgehou rook het, is die moeilikste.

Dlamini-Zuma en pres. Cyril Ramaphosa is die twee respondente in die saak.

As minister van samewerkende regering en tradisionele sake is Dlamini-Zuma verantwoordelik vir die toepassing van die inperkingsmaatreëls.

Sy voer aan die regering se oorkoepelende beweegrede vir die tydelike verbod is om menselewens en mense se gesondheid te beskerm.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma
Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma Foto: Argief

Dit sal moontlik uiteindelik die druk op die gesondheidstelsel verlig.

AfriForum het Woensdagmiddag bekend gemaak hy het ’n prokureursbrief op Dlamini-Zuma beteken waarin sy in kennis gestel word dié organisasie sal verdere regstappe doen indien die rookverbod nie opgehef word nie.

Hy sê die regering se “geheimsinnigheid in dié opsig kom neer op ’n skending van die publiek se burgerregte”.

Die brief is ook aan dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, gestuur.

Volgens Dlamini-Zuma steun “belangrike organisasies in die mediese gemeenskap” die verbod.

Israel, Botswana en Indië het ook weens die pandemie ’n verbod op tabakprodukte ingestel.

Dlamini-Zuma, wat destyds as minister van gesondheid al bekend was om haar afkeur aan rook, sê hoewel Covid-19 nog ’n nuwe siekte is en wetenskaplike kennis daaroor geleidelik ontwikkel, het navorsing wat reeds gedoen is gewys die virus hou ’n groot gevaar in vir rokers.

Die gebruik van tabakprodukte verhoog nie net die verspreiding van die virus nie, maar ook die kans om erger siek te word daarvan as mense wat nie rook nie.

Hoe minder mense rook, hoe minder sal die vraag na sigarette wees en dit sal lei tot ’n afname in onwettige handel.

Sy sê in haar beëdigde verklaring van 17 bladsye ’n oorsig van Chinese navorsing onder pasiënte wat Covid-19 opgedoen het, dui aan rokers se kans was 2,4 keer groter as dié van nierokers om in die waakeenhede van hospitale te beland, aan ventilators gekoppel te word, of te sterf.

Dlamini-Zuma sê as 1% van die sowat agt miljoen rokers in die land (gegrond op inligting van 2017-sensussyfers) die virus opdoen, sal 80 000 rokers siek word.

As 10% van hulle sorg in waakeenhede nodig het, kom dit neer op 8 000 beddens in waakeenhede en 8 000 ventilators. Tans is daar net sowat 4 000 ventilators in Suid-Afrika.

Onwettige handel lank al probleem

Die minister wys ook daarop dat die kans goed is dat mense in die armer gemeenskappe rookgoed soos sigarette, pype, zolle en sigaretaanstekers sal deel. Dít verhoog die kans op die verspreiding van die virus.

Oor die kwessie van die onwettige handel in sigarette sê sy dit is nie deur die verbod veroorsaak nie. Die onwettige handel is al dekades lank ’n probleem.

Hoe minder mense rook, hoe minder sal die vraag na sigarette wees en dit sal lei tot ’n afname in onwettige handel.

Tog staan die regering simpatiek teenoor dié mense vir wie dit moeilik is om nie te rook nie.

Sinenhlanhla Mnguni, president van Fita, sê die organisasie se regsvereenwoordigers bestudeer die regering se antwoord en sal teen Vrydag ’n aanvullende verklaring by die hof indien.

Die regering het dan tot 3 Junie tyd om hierop te antwoord.

Meer oor:  Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma  |  Fita  |  Hof  |  Tabakprodukte  |  Rook  |  Sigarette
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.