Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Verpleeglui keelvol vir krisis in Vrystaat

Die Demokratiese Organisasie vir Verpleegkundiges (Denosa) in die Vrystaat het ’n beroep op die nasionale gesondheidsdepartement gedoen om in te gryp in die “voortslepende krisis in gesondheidsorg” in die provinsie, voordat nog pasiënte sterf.

“Verpleegpersoneel word daarvan beskuldig dat hulle onder meer verantwoordelik is vir die swak toestand van talle geriewe in die Vrystaat. Dit word egter veroorsaak deur ’n tekort aan personeellede en medikasie asook werknemers wat nie vir oortydwerk betaal word nie.

Die Demokratiese Organisasie vir Verpleegkundiges (Denosa) is ondanks ’n memorandum van verstandhouding wat die gesondheidsdepartement verlede jaar onderteken het, steeds oor ’n rits kwessies ontevrede. Van links is Thibogang Thole, Denosa-voorsitter, Veronica Fransman-Hendricks, Denosa-sekretaris, Lebitsa Mokhele, Denosa-tesourier, en dr. David Motau, hoof van die Vrystaatse gesondheidsdepartement. Foto: Teboho Setena

Vroedvroue en personeellede van die Pelonomi-hospitaal (in Bloemfontein) se kraamsaal het besluit om te praat omdat hulle die skuld kry vir die talle sterftes in dié afdeling, hoofsaaklik weens ’n tekort aan vroedvroue, sê Thibogang Thole, Denosa se Vrystaatse voorsitter.

Die verpleegsters het ’n lys van griewe oor swak sorg wat aan pasiënte gebied word, oorhandig aan die nasionale gesondheidsdepartement.

Daarin wys hulle uit:

* 30 vroedvroue het bedank en is deur net nege nuwe aanstellings vervang, terwyl drie bevorder is tot verpleegsters;

* Vyf susters is by verloskunde en ginekologie verwyder sonder om vervang te word;

* ’n Swak verwysingstelsel laat pasiënte, vroedvroue en dokters in die steek;

* ’n Tekort aan personeel lei tot ’n gebrek aan behoorlike sorg vir pasiënte in die hoësorgeenheid;

* Die voorgeboorte-eenheid het 17 beddens, maar tot 25 pasiënte word opgeneem, met net drie susters beskikbaar. Dit ly tot swak kontrole oor die pasiënte;

* Sekuriteit word nie 24 uur per dag vir sowel die pasiënte as gesondheidswerkers gebied nie – net vanaf 07:00 tot 20:00; en

* Pasiënte kan nie altyd voor ’n ondersoek bad nie, omdat daar nie warm water beskikbaar is nie.

“Verpleegsters en ander gesondheidswerkers in die provinsie word daarbenewens ook geld geskuld vir bonusse van die laaste paar jaar. Die stresvolle werkomgewing eis sy tol. Die verpleegpersoneel raak uitgebrand en die frustrasies bereik kookpunt.

“Daar is geen geleenthede om hul vaardighede op te skerp om ten minste die benarde omstandighede te probeer hanteer nie, maar die gemeenskap verwag altyd net die beste diens,” sê Thole.

Volgens hom sal Denosa van Woensdag af begin om ook ander gebrekkige geriewe uit te lig wat steeds onopgelos is en wat ’n groot gevaar geword het.

“Om stil te bly oor hierdie dinge, sal net die ongeregtigheid wat die gemeenskap aangedoen word, verleng, want niks word daaraan gedoen nie.”

  • Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse departement van gesondheid, sê hy gaan waarskynlik nie Dinsdag al kommentaar kan lewer nie. Die LUR, Butana Komphela, kon nie direk genader word nie.
Meer oor:  Pelonomi-Hospitaal  |  Denosa  |  Vrystaat  |  Krisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.