Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Verslap eiendomsreg op entstowwe, vra AU

Die Afrika-Unie (AU) ondersteun oproepe aan vervaardigers van farmaseutiese produkte om sommige van hul intellektuele handelsregte op Covid-19-medikasie en -entstowwe prys te gee om die verspreiding daarvan na armer lande te bespoedig.

So het John Nkengasong, direkteur van die Afrika-sentrums vir siektebeheer en -voorkoming (CDC), Donderdag gesê.

Suid-Afrika en Indië, wat albei medikasie en entstowwe vervaardig, het verlede jaar dié voorstel by die Wêreldhandelsorganisasie gemaak en gesê dat intellektuele eiendomsreëls die dringende vervaardiging van entstowwe en die voorsiening van mediese produkte aan sekere pasiënte kortwiek.

Hulle het teenkanting van sekere ontwikkelde lande gekry, maar die ondersteuning van die AU mag ’n hernude dryfkrag vir die vraag na die verslapping van intellektuele eiendomsreëls bring.

Nkengasong het Donderdag op ’n mediakonferensie gesê die verslapping van intellektuele eiendomsreëls is ’n wen-wen-situasie vir almal en dat dit die grootskeepse ongelykhede in openbare gesondheid wêreldwyd sal takel.

Hy het twee voorbeelde gegee waar die ontwikkelde wêreld gely het weens beperkte toegang tot medisyne: die varkgrieppandemie in die laat jare 2000 en MIV/Vigs in die 1990’s.

“In 1996 was MIV-medikasie beskikbaar, en ons het gesien hoe die dodetal drasties daal. Maar dit sal nog tien jaar neem voordat daardie medikasie op ’n betekenisvolle manier in Afrika beskikbaar sal wees,” het hy gesê.

“Intussen het 12 miljoen Afrikane gesterf, so ek gebruik net daardie syfers om te sê: enige oordrag van intellektuele eiendom sal voordelig vir almal wees, want niemand wil terugsit en trots wees op daardie tragiese gebeurtenis nie.

“Ons wil aan die regte kant van die geskiedenis wees.”

Nkengasong het bygevoeg die Afrika-CDC se regulatoriese owerheid het twee weergawes van AstraZeneca se Covid-19-entstof vir noodgebruik goedgekeur.

Dit kom ’n dag nadat Ghana sy eerste AstraZeneca-doserings van Covax, die wêreldwye entstof-verspreider, gekry het.

Hy het gesê die ontwikkelaars van Rusland se Sputnik V-entstof het ’n volle dossier met data aan die Afrika-CDC oorhandig en dat ’n paneel van kundiges in die komende dae die data sal hersien en uitsluitsel daaroor sal gee.

“Ons het nog nie dossiere van ons kollegas in China ontvang nie, maar ons bly optimisties dat hulle dit vir ons sal stuur.”

Talle lande, insluitende Egipte, Zimbabwe en Senegal het reeds Chinese Covid-19 entstowwe versprei. – Reuters

Meer oor:  Au  |  Covid-19  |  Entstowwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.