Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Verslap regulasies, vra drankbedryf en kenners

Die drank- en die gasvryheidsbedryf is op hul knieë en pleit by pres. Cyril Ramaphosa vir ligter inperkingsregulasies.

En kenners stem met hulle saam dat die algehele verbod op drankverkope maar verslap kan word en dat restaurante kan heropen – maar meen dat al die ander vlak 4-regulasies minstens nog twee weke lank moet geld.

Pres. Cyril Ramaphosa sal na verwagting Sondag die land toespreek en sê of hy die nasionale inperking gaan verleng en hoe dit aangepas gaan word. Foto: Argief

Dit sluit in die sluiting van skole en die verbod op byeenkomste.

Die nasionale Covid-19-bevelsraad vergader Sondag en Ramaphosa sal na verwagting Sondagaand aankondig of vlak 4 van die inperking verleng gaan word en watter, indien enige, aanpassings gemaak gaan word.

Dr. Sandile Buthelezi, direkteur-generaal van die departement van gesondheid, het Vrydag op ’n nuuskonferensie gesê die ministeriële advieskomitee gaan reeds Vrydag ’n voorlegging doen aan Mmamoloko Kubayi-Ngubane, waarnemende minister van gesondheid.

Sy sal die inligting in ag neem vir haar voorlegging aan die Covid-19-bevelsraad, wat besluit oor verdere inperkings.

Kubayi-Ngubane sê hulle monitor gewoonlik Suid-Afrika se syfers oor ’n tydperk van sewe dae, op grond waarvan die ministeriële advieskomitee sy aanbeveling aan haar doen.

Sy sê daar is ernstige kommer daaroor dat die getal nuwe gevalle, hospitalisasies en sterftes ondanks die aangepaste vlak 4-inperkings steeds styg.

Die restaurantvereniging van Suid-Afrika (Rasa) en die gasvryheidsvereniging Fedhasa pleit albei in verklarings dat die inperking op restaurante verslap moet word.

“Meneer die president, jy is besig om ons te vernietig. Die bedryf sal nie ’n verlenging van die inperking ondersteun nie. Die regering luister nie vir ons nie. Ons lys van restaurante wat al hul deure moes sluit, is buite beheer,” lui Rasa se verklaring.

LEES OOK: Keelvol restaurante vra 5 vrae aan regering

Die vereniging van drankhandelsnaameienaars (Salba) sê die verliese weens die drankverbod sal met 50% styg vir elke bykomende week wat die verbod voortduur.

Ook Salba pleit dat inperkings verslap word.

Prof. Susan Goldstein, ’n kenner van openbare gesondheid verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) en ’n lid van die Suid-Afrikaanse drankbeleidsalliansie, sê daar moenie ’n algehele verbod op drankverkope wees nie.

Die Delta-variant is lankal nie meer net in Gauteng nie en daarom maak dit nie sin om grense te sluit nie.

“Die gebruik van alkohol in openbare plekke kan steeds verbode wees, maar mense moet kan drank koop op byvoorbeeld beperkte tye. Op dié manier word daar steeds nie byeenkomste gehou nie.”

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama), stem met Goldstein saam. Sy meen ook dat restaurante onder streng regulasies kan heropen. “Daar is mense hier wat ook aan die lewe moet bly.”

Coetzee meen skole moet nog twee weke lank gesluit bly en alle byeenkomste moet verbied word.

Prof. Alex van den Heever, hoof van die skool vir regeerkunde aan Wits, sê hy vermoed die regulasies sal tweeweekliks hersien word totdat daar ’n daadwerklike afname in Covid-19-gevalle is.

“Ek dink nie dit is verstandig om terug te keer skool toe voordat die vlaag verby is nie. Dit is ook nie nodig om alle interprovinsiale reise te verbied nie,” sê Van den Heever.

Goldstein en Coetzee is dit met Van Den Heever eens oor interprovinsiale reise.

“Die Delta-variant is lankal nie meer net in Gauteng nie en daarom maak dit nie sin om grense te sluit nie.”

So styg gevalle en sterftes

• Van 1 Junie tot 8 Julie is 466 015 nuwe infeksies aangemeld.

• In dieselfde tydperk is 6 898 mense dood, van wie 3 721 sedert 27 Junie.

• ’n Rekordgetal nuwe gevalle per dag van 26 485 is op 3 Julie aangemeld. Die vorige rekord was 21 980 op 8 Januarie.

• Aktiewe gevalle tans: 208 847. In die piek van die tweede vlaag was daar 239 799 aktiewe gevalle op een dag.


Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Covid-19  |  Inperkingsmaatreëls  |  Koronavirus  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.