Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Verslap vlak 3-regulasies in W-Kaap, vra Winde

Die presidensie swyg oor wanneer pres. Cyril Ramaphosa weer Suid-Afrikaners gaan toespreek oor of die huidige vlak 3-regulasies verslap gaan word of nie.

Dít terwyl Suid-Afrikaners hul asem ophou vir die volgende aankondiging of “familievergadering”, soos sy toesprake in die volksmond bekend staan.

Daar is reeds sterk oproepe wat opklink uit veral regerings- én politieke kringe in die Wes-Kaap – wat op die toerisme- en die gasvryheidsbedryf staatmaak en erge ekonomiese skade ly – dat strande en ander openbare plekke heropen word én dat die aandklokreël aangepas word en van 23:00 tot 04:00 geld.

Daar word ook gevra dat drankverkope weer van Maandag tot Donderdag, én naweke vir wynplase, toegelaat moet word, sowel as dat drankverkope met etes in veral restaurante weer toegelaat moet word en dat hul handelsure tot 22:00 verleng moet word.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, meen dié provinsie is reeds verby die piek van sy tweede vlaag van koronavirusinfeksies en dat die volgehoue vlak 3-regulasies tot ’n “ekonomiese ramp” kan lei.

Alan Winde Foto: Daily Sun

Dokters meen ook dat ’n verslapping van die vlak 3-regulasies in provinsies wat verby hul piek is en waar infeksies daal, oorweeg kan word.

Al wat Tyrone Seale, presidensiële woordvoerder, Dinsdag wou sê, is dat die presidensie die nodige aankondiging sal doen wanneer Ramaphosa “die land toespreek”.

“Die regering monitor egter voortdurend alle aspekte van die pandemie, wat die infeksievlakke per provinsie insluit soos blyk uit die daaglikse opdaterings van die minister van gesondheid.”

Winde sê dat hy Dinsdag aan Ramaphosa geskryf en aangedring het dat hy so gou moontlik sy presidensiële koördineringsraad byeenroep om sekere beperkinge in die Wes-Kaap dringend te wysig.

“Dit volg op my brief aan dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, verlede Dinsdag waarin ’n formele voorlegging gedoen is en duidelike bewyse ter ondersteuning van die verandering van sommige beperkings uitgestippel is. Ongelukkig is daar nie op dié brief gereageer nie.

“Ons is nou naby ’n maand sedert die aangepaste vlak 3-beperkinge in werking getree het. Dit is toe duidelik gemaak deur die president dat hierdie beperkinge vir 14 dae sou geld en ná oorweging van die bewyse hersien sou word.”

Volgens Winde is daar bewyse dat die situasie ná 28 dae in die provinsie verander het, met ’n volgehoue afname in die aktiewe koronavirusgevalle, hospitalisering, nuwe koronavirusgevalle, suurstofgebruik én infeksies onder gesondheidswerkers.

“Ons het ook ’n aantal stappe gedoen om te verseker dat ons gesondheidsorgstelsel tydens die piek opgewasse is en dit het steeds die vermoë om sorg te bied.”

Winde meen dat die Wes-Kaapse ekonomie skade van tot R2 miljard kan ly as die huidige regulasies vir ’n volle maand geld, terwyl dit 2 798 werkgeleenthede in gevaar kan stel.

Bonginkosi Madikizela, Wes-Kaapse DA-leier, steun Winde se versoek dat regulasies verslap word. “Ons kan nie toelaat dat die huidige regulasies voortgaan om ons ekonomie te verlam én ons kwesbare gemeenskappe dieper in die nood in te dryf nie.”

Ons kan nie toelaat dat die huidige regulasies voortgaan om ons ekonomie te verlam én ons kwesbare gemeenskappe dieper in die nood in te dryf nie.

Cosatu het ook Dinsdag ’n beroep op die regering en die drankbedryf gedoen om in gesprek te tree om ’n middeweg te vind vir die huidige drankverbod sodat werkgeleenthede behou kan word.

Sizwe Pamla, Cosatu-woordvoerder, sê Cosatu is baie bekommerd oor die impak van die besluit van die Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) om 550 tydelike werkers weens die drankverbod af te lê.

Intussen het dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama), wat dokters landwyd verteenwoordig, Dinsdag gesê vlak 3 is aanvanklik heringestel om druk op veral hospitale te verlig.

Sy stem saam dat die Wes-Kaap se tweede vlaag van infeksies verby sy piek is en koronavirusgevalle nou afneem.

“Ongelukkig is dit nog nie die geval in Gauteng nie, wat nog sy piek moet bereik.”

Volgens Coetzee is die land se ekonomie onder enorme druk en kan ’n verslapping van die regulasies in bepaalde provinsies oorweeg word.

Meer oor:  Koronavirus  |  Covid-1  |  Vlak 3  |  Vlak 3-Regulasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.