Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Verwoes: Kliniek teen Covid

Om saam met die ANC-raadslid Danile Khatshwa te stap deur die geplunderde oorblyfsels van die gemeenskapsentrum in Khayelitsha se wyk 96 breek jou hart.

Raadslid Danile Khatshwa.

Hier, waar die bloeddrukmasjiene, die bloedsuikermonitors, die stetoskope en kliniekbeddens verlede naweek nog blink reggestaan het vir die eerste Covid-19-pasiënte, is daar nou niks. Die biblioteek en kleuterskooltjie is ook verwoes.

Water dam op die vloere op, die deure is stukkend geskop. Wat kon brand, het gebrand. Wat weggedra kon word, is weg.

Die skuldiges is mense wat hulself bestempel as haweloses. Maar huise is nie waarvoor hulle veg nie, sê Khatshwa bitter. “Hulle veg vir plakkerskampe.”

‘Raadslid, hulle kom vir jou huis!’

Hy het verlede Dinsdag die eerste keer met die plunderaars kennis gemaak toe hulle grond in sy wyk wou beset wat toegewys is vir ’n behuisingsprojek. Hy wou gaan mooipraat. Die polisie het kort ná hom daar opgedaag en die besetters verwilder.

Dié voorval was een van 17 die afgelope twee weke in die Kaapse metropool. Die EFF in die Wes-Kaap het gesê hy steun die grondbesetting.

Saterdag was Khatshwa se wyk wéér aan die beurt. Dié keer het die gemeenskapsentrum in die slag gebly.

Gedwonge toegang. Die beskadigde deure van die veeldoelige sentrum in Khayelitsha.

En toe kom hulle vir Khatshwa. Hulle het geglo dat dit hy was wat die vorige Dinsdag die polisie ontbied het.

Hy het Saterdagmiddag 18:00 die oproep gekry: “‘Raadslid, hulle kom vir jou huis!”

“Ek’t my vrou gebel, haar gesê om met die kinders te vlug.

“Hulle het my huis geplunder, vensters gebreek, selfs ’n motor beskadig en goed gesteel wat ek wou gebruik.”

Die ANC-raadslid Danile Khatshwa ondersoek die geplunderde oorvloeigerief vir primêre mediese sorg, wat in die middel van ’n basketbal-baan in die veeldoelige sentrum in Khayelitsha opgerig is. Foto’s: Edrea du Toit

Khatshwa gee “gesigloses” die skuld. Dis nie wyk 96 se mense nie. Dis ander wat die kwaad hier kom stook, sê hy.

“Hulle kom van buite die gebied, inwoners sluit aan en sê f*k die raadslid.

“Dis hartseer, want dis die gebied waar Covid-19 op sy ergste is. Ons het voorsorg getref dat ons die virus kan beveg, ons het die saal omskep (in ’n tydelike Covid-19-kliniek) om seker te maak dat ons nie baie mense verloor nie . . . en nou dít.”

Dit het hom geruk, sê hy. Maar dis deel van sy werk as raadslid. “Ek het my hand opgesteek, gesê ek is beskikbaar. Ek wens dat ons samelewing beter opgevoed kan word, want geweld en vernietiging van eiendom sal nie die behuisingsprobleem oplos nie.”

Kaapstad het op die oomblik 464 plakkerskampe. Sowat 30 behuisingsprojekte word tans beplan. In die afgelope jaar was daar 209 grondbesettings.

Khatshwa sê sy droom is dat mense huise moet hê, maar hulle eis plakkerskampe.

“Jy sien, jy soek die beste vir die gemeenskap, maar dan kom jy agter hulle wil nie die beste hê nie. Dit verwar my. Dis hartseer as jy veg vir die goeie en dan in botsing kom met die oproerige skare wat die ergste eis.”

Dis mense se drome wat die afgelope week hier gekaap is, sê hy.

“Nou sien ons die mense, die plunderaars. Hulle loop in die strate, asof niks gebeur het nie. Dit voel soms asof die reg aan die kant is van dié wat die wet verbreek.”

Maandag sou die Covid-19-kliniek sy deure geopen het. Dit sou gehelp het om die las te verlig by die Matthew Goniwe- en die Luvuyo-kliniek, waar amper 140 000 pasiënte in die vorige jaar behandel is.

Dit gaan lank neem om die skade te herstel, wat beteken mense gaan nou langer wag by die klinieke, en die kans dat hulle Covid-19 kan opdoen, is groter, sê dr. Zahid Badroodien, raadslid en burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid.

“Daar is geen verskoning vir die vandalisme en vernietiging wat ons in die afgelope weke gesien het nie. Die optrede van ’n selfsugtige minderheid het ongekende skade vir inwoners veroorsaak.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.