Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Vinnige optrede’ nodig om lewens te red – Cyril

Beslissende en vinnige optrede was nodig om lewens te red te midde van die stygende aantal Covid-19-aanmeldings in die land, en veral in Gauteng.

cyril ramaphosa
Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Reuters

Dit was Dinsdagaand pres. Cyril Ramaphosa se woorde toe hy aankondig dat die kabinet besluit het om die land terug te plaas op vlak 3 van die nasionale staat van inperking.

Dit is omdat “ ’n derde vlaag van infeksies hier is” en strenger inperkings die “massiewe” styging in nuwe infeksies moet help beperk.

Vlak 3 sal intree sodra die regulasies Dinsdagaand in die Staatskoerant gepubliseer word.

Dit beteken dat die aandklokreël nou van 22:00 tot 04:00 sal duur.

“Nienoodsaaklike instellings soos restaurante, kroeë en fiksheidsentrums sal teen 21:00 moet sluit om hul werknemers en klante toe te laat om voor die begin van die aandklokreël by die huis te wees,” het Ramaphosa bygevoeg.

Dit terwyl alle godsdienstige, politieke en maatskaplike saamtrekke beperk word tot 50 mense binnenshuis en 100 buitenshuis. Dit sluit restaurante, kroeë, tavernes en soortgelyke plekke in.

Daar sal voortaan ook net 50 mense by begrafnisse toegelaat word, met nagwake en “aftertears”-saamtrekke wat steeds verbied word.

“Alkohol kan net van Maandag tot Donderdag tussen 10:00 en 18:00 in drankwinkels verkoop word. Dit sluit openbare vakansiedae uit.

“Plekke met dranklisensies kan tot 21:00 drank verkoop. Alkoholverbruik in alle openbare plekke soos strande en parke word ook streng verbied.”

Maskers moet te alle tye in die openbaar gedra word. Dit is ’n misdaad as dit nié gedoen word nie.

Ramaphosa het gesê gepaste optrede is nodig om die ekonomie te beskerm, maar ook om te keer dat beheer oor die virus verloor word.

Dit is veral nadat die gemiddelde aantal daaglikse nuwe infeksies sedert sy laaste “familievergadering” twee weke gelede, verdubbel het.

Toe was daar nog rondom 3 700 daaglikse infeksies, terwyl 7 500 gemiddelde daaglikse infeksies oor die laaste sewe dae aangeteken is.

Hospitaalopnames in die laaste 14 dae is 59% hoër as in die vorige 14 dae, terwyl die gemiddelde sterftes met 48% toegeneem het in die laaste sewe dae.

Volgens Ramaphosa ervaar al die provinsies, behalwe die Noord-Kaap, stygende infeksies.

Gauteng, die Vrystaat, Noordwes en die Noord-Kaap is amptelik in ’n derde vlaag, terwyl ander provinsies dit nader.

Gauteng word die ergste geraak en is verantwoordelik vir bykans twee derdes van alle nuwe infeksies die afgelope week.

Die styging in infeksies in Gauteng is nou vinniger en steiler as wat dit was in dieselfde tydperk in die vorige vlae.

“Die styging in infeksies in Gauteng is nou vinniger en steiler as wat dit was in dieselfde tydperk in die vorige vlae. Binne ’n paar dae is dit waarskynlik dat die aantal nuwe gevalle in Gauteng die piek van die tweede golf sal verbysteek.”

Volgens Ramaphosa is private hospitale in Gauteng byna vol.

Sy administrasie se prioriteit is nou om te verseker dat daar genoeg hospitaalbeddens, gesondheidswerkers, asemhalingstoestelle en suurstof is vir die “beste moontlike sorg aan elke persoon”.

Hy het bygevoeg dat die nasionale inentingsprogram, ondanks verskeie vertragings, op koers is en dat byna 2 miljoen mense reeds ingeënt is.

Daar word geskat dat ons die kapasiteit het om ten minste 150 000 mense per dag in te ent, en ons beplan om dit tot 250 000 per dag op te stoot.

“Die probleme met die Johnson & Johnson-entstof is nou opgelos. Die Aspen-aanleg in Gqeberha (Port Elizabeth) kan voortgaan om nuwe dosisse te vervaardig.”

Volgens Ramaphosa sal Aspen die land binne die volgende paar dae met nuwe entstowwe begin voorsien.

J&J het aangedui dat die land na verwagting na raming 2 miljoen nuwe dosisse sal ontvang. Dit sal volgens Ramaphosa gebruik word om eers onderwysers en daarna veiligheidspersoneel aan die voorste linie in te ent.

Teen einde Junie sal die land ook nog 700 000 Pfizer-dosisse ontvang.

“Noudat die vertragings in die verskaffing van entstowwe grootliks opgelos is, is ons onmiddellike taak om die inenting van almal ouer as 60 te voltooi.

“Daar word geskat dat ons die kapasiteit het om ten minste 150 000 mense per dag in te ent, en ons beplan om dit tot 250 000 per dag op te stoot.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.