Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Virus eis boer van Hartswater

’n Boer en sakeman van Hartswater in die Noord-Kaap is een van tien mense van die Vaalharts-skema wat binne tien dae aan die Covid-19-virus dood is. 

Jaco Vermeulen (53) het Maandag,  twee weke nadat hy simptome gekry het, in die Mediclinic Gariep in Kimberley gesterf. Hy sou op 31 Mei 54 geword het. 

Sy dood kom te midde van die skerp styging in koronavirusgevalle in die provinsie. Die Noord-Kaap het met 8 040 gevalle, naas Gauteng, die meeste aktiewe gevalle in die land.

Jaco Vermeulen (53), bekende boer en sakeman van Hartswater, is Maandag in die Mediclinic Gariep aan Covid-19 dood. Foto: Verskaf

Lebogang Majaha, woordvoerder van die provinsiale gesondheidsdepartement, het gesê twee van die vyf streke in die Noord-Kaap – Frances Baard en John Taolo Gaetsewe – toon ’n kommerwekkende daaglikse styging van 40% in nuwe gevalle.

Die Vaalharts-skema, wat Hartswater en Jan Kempdorp insluit, gaan erg onder die virus gebuk. Dit is deel van Frances Baard se plaaslike Phokwane-munisipaliteit. Die jongste syfers toon 436 aktiewe gevalle onder die inwoners.

Volgens Vermeulen se vrou, Mareli, het hulle voorverlede Maandagmiddag (10 Mei) gaan fietsry voordat hy die aand begin kla het dat hy siek voel. “Jaco was daardie Dinsdag in die bed, want hy het gedink hy het griep.”

Mareli sê Jaco het sy dokter die volgende dag besoek nadat die simptome vererger het. “Die dokter het dadelik plate van Jaco se longe laat neem, wat die virus gewys het.”

Die dokter het hom sedertdien behandel, maar die afgelope Saterdag was sy asemhaling vlak. “Hy het gehoes en het geweldig pyn gehad.”

Haar ma het haar na ’n kliniek in Hartswater verwys wat nog beddens vir Covid-19-pasiënte beskikbaar gehad het, maar die egpaar se dokter het hulle aangeraai om hom onmiddellik na Kimberley te neem. Hy is Sondag (23 Mei) in die Mediclinic Gariep opgeneem.

“Ondanks die personeel se wonderlike diens en besorgdheid het sy toestand bly versleg.”

In ’n uitsondering op die streng maatreëls is Mareli die geleentheid gegun om haar man Sondag te besoek. Dit was die laaste keer.

“Ek is so dankbaar hiervoor. Hy was oudergewoonte oor almal behalwe homself bekommerd – sy kinders, werknemers en kliënte.”

Vermeulen se suurstofvlakke het tot 80% gedaal, waarna hy op ’n ventilator geplaas is.

Hy het sy stryd teen die virus Maandag om 07:25 verloor.

Mareli, wat self ook boer, baklei hard teen die trane, want sy moet sterk wees.

“Hy was nie net ’n sakeman nie. Hy het sy werk uit liefde vir sy gemeenskap gedoen, omdat hy mense wóú help.”

Vermeulen se suster, Juanita Adriaanse (’n oudredaksielid van Volksblad), het haar broer as ’n groot gees met ’n hart vir mense beskryf.

“As landbou-ekonoom en voorligter wou hy boere help.” 

Jan-Hendrik van der Linden, ’n boer van Hartswater, sê Vermeulen was baie gaaf en altyd gereed om te help of om raad te gee. “En daar was altyd raad op raad.”

’n Roudiens word volgende Woensdag om 10:00 in Die Venue in Hartswater gehou.

Die diens sal op die grasperk onder die bome wees en ook regstreeks op YouTube uitgesaai word.

Jaco word ook deur sy ouers, Wikkie en Elsa Vermeulen, drie kinders uit ’n vorige huwelik en vyf kleinkinders oorleef.

* Die berig is aangepas nadat dit aanvanklik gepubliseer is.

Meer oor:  Hartswater  |  Covid-Sterfte  |  Virus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.