Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Virus eis reeds 81 in Vrystaat-onderwys
Montseng Tsiu, LUR vir gesondheid, word teen die koronavirus ingeënt. Foto: Argief

Die Vrystaatse onderwysdepartement het tot dusver 81 Covid-19-sterftes gehad – vyf leerlinge, 73 onderwysers en drie nie-onderwyspersoneellede.

Sisi Ntombela, premier van die Vrystaat. Foto: Mlungisi Louw

Howard Ndaba, die departement se kommunikasiehoof, sê geen Vrystaatse skool is tans weens die koronavirus-pandemie gesluit nie. Die een wat wel onlangs gesluit was, is intussen heropen.

Sisi Ntombela, premier, besoek Bethlehem en Qwaqwa Maandag om die inentingsprogram vir mense ouer as 60 jaar hier bekend te stel.

“Sy pleit by mense ouer as 60 jaar, asook diegene met onderliggende siektes soos hoë bloeddruk en diabetes, om hulle te laat inent,” sê Sello Pietersen, haar woordvoerder.

Sy vra ook dat mense steeds maskers in die openbaar dra en met ander koronavirus-protokolle volhou.

Montseng Tsiu, Vrystaatse LUR vir gesondheid, sê die inentingsveldtog vir mense ouer as 60 in die Vrystaat word Maandag by die Thekolohelong-tehuis vir bejaardes in Qwaqwa bekend gestel en in Bloemfontein by die Boikhuco-tehuis. Albei geleenthede begin om 10:00.

Tsiu sê die getal koronavirusinfeksies bly toeneem in die Vrystaat. “Ons kom agter die meeste plekke waar mense die virus opdoen, is by skole en by familiebyeenkomste soos begrafnisse en verjaarsdagpartytjies.”

Dit is wel verblydend dat die voorkoms van infeksies onder dokters en verpleegpersoneel in die Vrystaat nie meer so hoog is nie omdat ’n groot persentasie van hulle reeds ingeënt is, sê sy.

Dr. David Motau, hoof van die Vrystaatse departement van gesondheid. Foto: Mlungisi Louw
Howard Ndaba, woordvoerder van die Vrystaatse departement van gesondheid. Foto: Argief

“Die polisie bring egter nie genoeg sy kant om mense te dwing om maskers te dra en nie groot sosiale byeenkomste te hou nie.

“Ons doen ’n beroep op ons wetstoepassers om te help om die verspreiding van die virus te bekamp.”

Dr. David Motau, hoof van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, sê sowat 22 000 gesondheidswerkers in die Vrystaat is al ingeënt. Nog tussen 8 000 en 9 000 moet ingeënt word. Hulle sal van Maandag af as deel van fase 2 ingeënt word.

Hy sê hulle gebruik nou die Pfizer-entstof.

Motau sê daar word nou meer as 500 nuwe bevestigde gevalle van die koronavirus per dag in die Vrystaat aangemeld.

Jaco Smit van Jaco Smit-begrafnisdienste in Bloemfontein sê hy het oor die nege dae tot Sondag ses Covid-19-sterfgevalle in Bloemfontein hanteer waar lyke by hospitale gaan haal moes word.

Die oorledenes was almal ouer as 35. Een was van Dewetsdorp en die ander almal van Bloemfontein.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.