Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Virus: 'Ek is met die dood geïnfekteer,' sê Vrystaatse boer

’n Vrystaatse boer wat reeds vyf dae lank in die hospitaal vir Covid-19 behandel word, sê die geestelike stryd teen die gevreesde siekte is erger as die vleeslike stryd.

Dries Delport (63) van die plaas Sterkstroom buite Boshof in die Vrystaat word in die Mediclinic Gariep in Kimberley behandel.

“Ek is met die dood geïnfekteer,” sê hy.

“My grootste vraag was of ek gereed is of nie. Gelukkig het ek nog kans gehad om te dink voor my toestand versleg het of my saak met die Here reg is of nie.”

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Vrydag bekend gemaak dat Suid-Afrika sy eerste twee Covid-19-sterftes gehad het en nou ook al meer as 1 000 bevestigde gevalle.

In die Noord-Kaap het die pastoor-egpaar Henk en Berna Kruger van Hartswater positief getoets, asook Nico Coetzee van Warrenton. Die Krugers, Coetzee en Delport was al drie by ’n kerkdiens drie weke gelede in Bloemfontein waar oorsese sprekers met Covid-19 onder lede teenwoordig was.

Ulrich Hendricks, SAUK-joernalis, het intussen bevestig hy het ook positief getoets. Die SAUK se kantoor in Kimberley is onder kwarantyn geplaas.

Daleen en Dries Delport. Dries het positief getoets vir die Covid-19-virus en is in 'n hospitaal in Kimberley. Foto: Facebook

Delport het per WhatsApp uit sy hospitaalbed oor sy ervaring gesels.

“Ek was baie, baie siek voordat ek ingekom het. Ek en my gesin het eers Nagmaal gehou en toe het ek sterker gevoel, ’n oorwinning in die gees beleef. Die simptome was soos ’n erge boonstelugweginfeksie. Ek kon nie asemhaal nie. Dit het baie beter gegaan toe ek behandeling in die hospitaal met suurstof ontvang het.”

Volgens hom verskil ’n mens se vleeslike en geestelike ervaring.

“My geloof is versterk. Jy stry ’n geestelike stryd met die dood wanneer jy besmet is, jy wonder of jy gereed is of nie. ’n Mens besef dis nie speletjies nie, dis ’n werklikheid. Soos jou toestand versleg, bekommer jy jou oor jou vrou, jou gesin en jou familie. Jou geloof is daarom belangrik: Is jou saak met die Here reg of nie?” sê hy.

“Gelukkig het ek baie ondersteuning van familie, vriende en geloofsvriende gehad. Ek kon met hulle op my selfoon kommunikeer, wat baie gehelp het. Ek was gerus dat dit goed met my vrou en op die plaas gaan.”

Sy vrou, Daleen, is in selfisolasie op die plaas en toon geen simptome nie.

“Wat ook baie sleg is, is dat ek voordat ek siek geword en positief getoets is, interaksie met mense gehad het. Dit is erg om te dink jy kon hulle aangesteek het. Gelukkig is moontlik net een mens siek,” sê Delport.

“Die goeie ding is dat baie meer mense nou bewus van die siekte is en voorsorg tref om meer higiënies en gesonder te leef. Niemand kan meer gaan waar hulle wil en doen wat hulle wil nie, wat die verspreiding van die siekte kan beperk.”

Hy sê hy voel baie gelukkig.

Meer oor:  Vrystaat  |  Koronavirus  |  Boer  |  Stryd
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.