Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Virus: Gauteng ‘kan binne dae hoogste syfer hê’

Gauteng kan na verwagting binne dae weer die provinsie word met die meeste positiewe koronavirusgevalle.

Die Gautengse departement van gesondheid het Sondag sy kommer uitgespreek met die bekendmaking van die provinsie se jongste syfers.

“Ons glo dat Gauteng binne die komende dae die hoogste Covid-19-syfers sal hê,” sê dr. Zwelini Mkhize, minister van gesondheid, in ’n verklaring.

Dr. Zweli Mkhize
Dr. Zweli Mkhize Foto: Christiaan du Plessis

Tussen Saterdag en Sondag is daar 2 610 nuwe gevalle en agt nuwe sterftes in Gauteng aangemeld.

Saterdag is 7 210 bevestigde gevalle binne 24 uur in Suid-Afrika aangemeld – die meeste tot nog toe in een dag, berig Christiaan du Plessis.

In ’n week se tyd is daar meer gevalle gerapporteer as in die Wes-Kaap, waar die virus nou op die oog af stadiger versprei.

Die styging word toegeskryf aan die migrasie van mense na Gauteng, asook die digte bevolking in die metro’s van Johannesburg, Ekurhuleni en Tshwane, en die feit dat die land nou in die middel van die winter is.

“Toe die nasionale staat van inperking afgebring is tot vlak 3 was daar ’n groot beweging van mense na Gauteng soos ekonomiese aktiwiteite hervat het . . . dit was dus onvermydelik dat daar (weer) ’n uitbreking van infeksies sou wees,” sê Mkhize.

In die volgende paar dae sal die agterstand met Covid-19-toetse opgevang word en sal die werklike stand van sake bekend wees, sê Mkhize.

Hy het Sondag op SABC-televisie gesê nie net Gauteng nie, maar ook die res van die land kan nog meer infeksies verwag.

gauteng, covid-19

Mkhize het ook die versekering gegee dat daar saamgewerk word om die provinsie se gesondheidsinfrastruktuur op ’n dringende grondslag gereed te kry. Dit beteken nie net meer ventilators nie, maar ook meer hospitaalbeddens, sê die minister.

Die Gautengse departement van gesondheid het reeds oor die naweek gesê die vraag na suurstof en ventilators het drasties toegeneem.

“Namate meer gevalle van Covid-19 aangemeld word, het die aantal opnames in hospitale vir kritieke pasiënte ook toegeneem. Dit plaas meer druk op die beskikbaarheid van ventilators en suurstofvoorraad,” het die departement in ’n verklaring gesê.

As mens kyk na die werklike getalle teenoor dit wat voorspel is, kan die provinsie se syfers nog skerp styg.
Dr. Zweli Mkhize

Van Gauteng se vyf distrikte word Johannesburg die swaarste getref. Teen Saterdag was daar al 16 712 positiewe gevalle en 84 sterftes. Ekurhuleni is tweede met ’n totaal van 7 196 gevalle en 33 sterftes, terwyl Tshwane 5 381 gevalle en 21 sterftes het.

Aan die Wes-Rand is daar nou al 2 247 gevalle en 12 sterftes, terwyl Sedibeng teen Saterdag 1 207 gevalle en 16 sterftes aangemeld het.

Daarbenewens is daar nog 1 542 gevalle wat nog aan ’n distrik toegewys moet word, sê die provinsie.

Wat die res van die land betref word daar ’n toename in infeksies in al die provinsies verwag, sê Mkhize. Sondag was daar in totaal van 138 134 bevestigde gevalle.

Die provinsies wat brandpunte bly, is die Wes- en Oos-Kaap.

Wes-Kaap

Die Wes-Kaap, waar die syfers nou konstant bly, het nog nie hul piek bereik nie. “As mens kyk na die werklike getalle teenoor dit wat voorspel is, kan die provinsie se syfers nog skerp styg,” sê die minister. Dit tel wel in die provinsie se guns dat hy intensiewe kontakopsporing doen van positiewe gevalle en streng isolasieprogramme het. Die provinsie se hospitalisasie-syfer is ook hoog, wat die sterftesyfer afbring, sê Mkhize.

In die Oos-Kaap, waar werkers ook heen en weer tussen dié provinsie en die Wes-Kaap beweeg, sal daar dringend gekyk word om die gesondheidsinfrastruktuur te verbeter. Dié provinsie se gesondheidstelsel is kwesbaar, sê die minister.

covid-19, 28 junie


Meer oor:  Zweli Mkhezi  |  Covid-19  |  Gauteng  |  Koroanvirus  |  Infeksiekoers  |  Wes-Kaap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.