Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Virus: G’n kwarantyn-geriewe kom in Vrystaat, sê staat

Staatsdepartemente ontken dit dat hulle van plan is om kwarantyngeriewe vir Suid-Afrikaners wat uit China terugkeer, op die Vrystaatse dorp Thaba Nchu op te rig.

Dit kom nadat die Mail & Guardian Vrydag berig het dat die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) met die weermag gaan saamwerk om in die lig van die nuwe koronavirus-uitbreking Suid-Afrikaners in China huis toe te bring.

As deel van die planne sal dié Suid-Afrikaners vir twee weke in kwarantyn in Thaba Nchu, sowat 70 km oos van Bloemfontein, moet wees, lui die berig.

Thanduxolo Jika, een van die joernaliste wat die berig geskryf het, sê by navraag hy staan by die feite in die berig wat grootliks op inligting van anonieme bronne steun.

Dirco, die weermag en die nasionale sowel as die Vrystaatse departement van gesondheid sê by navraag hulle weet niks van die beweerde planne waaroor Mail & Gaurdian berig het nie.

Lunga Ngqengelele, woordvoerder van Dirco, sê dié departement oorweeg dit steeds nie om Suid-Afrikaners uit China terug te bring nie.

“Geen besluit is geneem nie. Ons kyk wel na moontlikhede wat deurgevoer kan word as die nood dit vereis.”

Tog blyk dit dat Dirco Suid-Afrikaners in China bystaan.

Alet van der Walt berig ’n Suid-Afrikaanse onderwyser wat in China skoolhou, Gert Hoffmann, sê Dirco het hom in die week gekontak om te hoor of hy hulp nodig het om na Suid-Afrika terug te keer.

Kingsley Litbale, DA-raadslid vir Thaba Nchu, sê daar is geen teken daarvan dat die regering besig is om kwarantyn-geriewe in dié dorp op te rig nie. Volgens hom het die regering ook nie dorpenaars oor enige planne hiervoor ingelig nie.

“Ek het vanoggend van die storie op Morning Live gehoor en ek was verstom,” sê Litbale.

China het sedert die uitbreking van die virussiekte, wat nou amptelik as Covid-19 bekend staan, streng kwarantynmaatreëls in sy Hubei-provinsie ingestel waar die virus vermoedelik ontstaan het. Só poog die Chinese regering om die verspreiding van die virus – wat reeds die dood van meer as 1 350 mense veroorsaak het – te beperk.

Daar is nog geen bevestigde geval van iemand in Suid-Afrika wat met die virus besmet is nie. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het vandeesweek aangekondig dat hy 13 Afrika-lande, onder meer Suid-Afrika, sal bystaan om ’n uitbreking hier te keer.

Meer oor:  Lunga Ngqengelele  |  Thanduxolo Jika  |  Kingsley Litbale  |  Vrystaat  |  Thaba Nchu  |  China  |  Covid-19-Virus  |  Koronavirus  |  Kwarantyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.