Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Malema waarsku skole moet binne week sluit

As die regering weens die derde vlaag van die koronavirus nie die skole binne sewe dae sluit nie, sal die EFF dit doen.

Só het Julius Malema, EFF-leier, Donderdag in Johannesburg op ’n mediakonferensie van sy party gedreig.

“Al hoe meer kinders word siek en dít kan ons nie toelaat nie. Ons kinders moet veilig wees.

“In die lig van die skerp toename in die aantal infeksies moet alle kontakonderrig gestaak word.

“Waar is die minister van onderwys (Angie Motshekga) in dié krisis? Nêrens nie,” het Malema gesê.

Waar is die minister van onderwys (Angie Motshekga) in dié krisis? Nêrens nie.

Hy het ook op die mediakonferensie van twee uur lank gewaarsku die munisipale verkiesing op 27 Oktober sal nie vry en regverdig wees as politieke partye weens die Covid-19-pandemie nie toegelaat word om verkiesingsveldtogte te hou nie.

Die EFF-leier het skerp uitgevaar teen die Verkiesingskommissie (OVK), wat Woensdag ’n bewusmakingsveldtog vir die verkiesing aangekondig het terwyl Dikgang Moseneke, voormalige adjunkhoofregter, nog besig is met sy ondersoek om vas te stel of die verkiesing weens die pandemie wel kan plaasvind.

Julius Malema, EFF-leier.

“Die verkiesing sal ’n superverspreider van die virus wees. Mense moet lewend wees om te kan stem,” het Malema gekla.

“ ’n Verkiesing bestaan in elk geval nie net uit die dag waarop mense stem nie. Een van die belangrikste bestanddele van ’n verkiesing is verkiesingsveldtogte.

“Hoe kan ons dit hou onder die huidige (Covid-19-)besprekings? Ons kan ook nie eens takverkiesings hou nie, want hoe bepaal jy wie mag dit bywoon en wie nie?”

Die EFF sal ’n voorlegging aan Moseneke maak (in wie hy “volle vertroue het omdat hy ’n man van integriteit is”) oor waarom die EFF meen die verkiesing moet uitgestel word.

Die party wag op Moseneke se verslag voordat hy sal besluit wat sy volgende stap is.

(Wat Malema nie gesê het nie, is dat sy party tot dusver vanjaar in tussenverkiesings sleg vertoon het teenoor die ANC.)

Malema sê pres. Cyril Ramaphosa moet besluit of hy verkiesing wil hou en of mense se lewe wil red.

Tog het hy gesê die ANC sal nie die verkiesing wen nie. “Nie eens in die landelike gebiede nie. Die ANC is besig om te sterf.”

Hy het Ramaphosa en die regering skerp aangeval oor sy hantering van die inentingsveldtog.

“Selfs Zimbabwe vaar beter as ons daarmee. Dit is hoekom baie Suid-Afrikaners daarheen gaan om hulle te laat inent – al kos die inenting hulle $50.”

Hy sê Ramaphosa hanteer dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid wat op spesiale verlof is weens die Digital Vibes-skandaal, met handskoene “omdat hy lid is van Ramaphosa se kabaal”.

Malema het Ramaphosa daarvan beskuldig dat dit vir hom belangriker is om wins te maak as om mense se lewe te red.

Dit is hoekom hy nie wil toelaat dat Russiese en Chinese entstowwe in Suid-Afrika gebruik word nie.

Malema het soos gewoonlik uitgevaar teen “witmonopoliekapitaal”, oudpres. FW de Klerk en sy stigting, “wat steeds die land beheer” en “die Indiër-kabaal, wat die regbank beheer” en deur Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, gelei word.

Hy het ook gesê die nasionale vervolgingsgesag, Valke, spesiale ondersoekeenheid en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens word ter wille van faksie-gevegte in die ANC misbruik.

“Suid-Afrika is nou slegter daaraan toe as wat hy onder (oudpres. Jacob) Zuma was.”

Die EFF-leier het Frankryk ook aangeval en gesê sy inmenging in Afrika se sake was die rede dat die sitting van die Pan-Afrika Parlement, wat in Midrand sit, verlede week in chaos geëindig het.

Meer oor:  Eff  |  Covid-19  |  Skole  |  3De Vlaag  |  Koronavirus  |  Dreigement
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.