Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Virus muteer dalk in dié met lae immuniteit

’n Geval waar die koronavirus vir sowat 200 dae in iemand met MIV/vigs se liggaam was, is onlangs in Suid-Afrika aangeteken.

Prof. Tulio de Oliveira, direkteur van die genomika-waarnemingslaboratorium Krisp, sê oor so ’n lang tydperk in die liggaam het die koronavirus meer kans om te muteer en die draer kan ook aansienlik meer mense aansteek.

De Oliveira, wat die Beta-variant van die virus in Suid-Afrika ontdek het, sê daar is ’n soortgelyke geval in die Verenigde Koninkryk (VK) met ’n kankerpasiënt.

“Dit kan voorkom in mense met lae immuniteit. Die mense het ligte simptome van die virus gehad, hoewel dit so lank in hul liggame was. Dit gee die virus kans om te muteer omdat hy so lank teen ’n immuunrespons veg. Gemuteerde virusse is meer aansteeklik en word makliker versprei,” verduidelik De Oliveira.

Dit is egter hoogs onwaarskynlik dat ’n ander variant nou in Suid-Afrika sal oorneem, omdat die jongste vlaag reeds deur die Beta-variant gedryf word.
Prof. Tulio de Oliveira, direkteur van die genomika-waarnemingslaboratorium Krisp,

Volgens hom is die Alfa- en die Delta-variant, wat onderskeidelik in die VK en Indië ontdek is, die aansteeklikste van ál die variante.

Hoewel die Alfa- en die Delta-variant ook in Suid-Afrika voorkom, is die Beta-variant steeds oorheersend.

Die Gamma-variant, wat in Brasilië ontdek is, kom nie in Suid-Afrika voor nie.

“90% van alle infeksies in Suid-Afrika kom van die Beta-variant. Sowat 6% van die infeksies in Gauteng is nou van die Alfa-variant, terwyl die Delta-variant in beperkte mate in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap voorkom.”

Hy sê die simptome van al die variante is dieselfde as dié van die oorspronklike koronavirussiekte, wat koors, hoes, probleme met asemhaling en braking insluit.

Volgens hom is Alfa en Delta net meer oordraagbaar as die ander variante en as die oorspronklike virus.

De Oliveira sê die virus kan aanhou om te muteer en dat nuwe variante moontlik gevind kan word. “Dit is egter hoogs onwaarskynlik dat ’n ander variant nou in Suid-Afrika sal oorneem, omdat die jongste vlaag reeds deur die Beta-variant gedryf word.”

Dr. Sandile Buthelezi, direkteur-generaal van die departement van gesondheid, het bevestig dat die Beta-variant oorheersend is en die derde vlaag aanvuur, berig Meghan Lawrence.

Dr. Lwazi Manzi, woordvoerder vir die departement, sê die Beta-variant is uniek wat die bindingweefsel betref.

“Ons variant het meer sleutelmutasies – dit het drie terwyl die ander variante net twee het.”

Dit is dalk die rede hoekom die Alfa- en die Delta-variant nie in Suid-Afrika oorheers nie.

Meer oor:  Tulio De Oliveira  |  Koronavirus  |  Virus  |  Miv/Vigs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.