Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Virus: SA het geen reisbeperkings – vir eers

Ten spyte daarvan dat 16 van die 17 mense wat tot dusver in Suid-Afrika positief vir die koronavirus getoets het onlangs uit die buiteland gekom het, is daar nog geen onmiddellike planne van die regering om enige reisbeperkings in te stel nie.

Jackson Mthembu, minister in die presidensie, het Donderdag joernaliste by die parlement ingelig oor besluite wat op Woensdag se kabinetsvergadering geneem is. Die jongste rakende Covid-19 is op dié vergadering bespreek.

Mthembu is oor reisbeperkings uitgevra nadat dit bekend geword het dat 16 van die 17 positiewe gevalle in die land onlangs deur lughawens vanaf oorsese lande soos Italië, Amerika, Engeland, Dubai, Oostenryk, Duitsland en Portugal binnegekom het.

Dit kom ook nadat pres. Donald Trump van Amerika Woensdag ’n verbod van 30 dae op vlugte uit Europa, behalwe die Verenigde Koninkryk, na Amerika geplaas het.

Jackson MthembuFoto: Jabu Kumalo

Volgens Mthembu het die kabinet wel besluit om eerskomende Sondag ’n spesiale kabinetsvergadering in Pretoria te hou waar die algehele invloed van die virus op Suid-Afrika en die ekonomie, sowel as die pad vorentoe, deeglik bespreek sal word. Die interministeriële taakspan oor die virus, onder leiding van dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, en die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios), sal deel van die besprekings daar wees.

Mthembu sê die kabinet sal heel waarskynlik Sondag besluit of enige reisbeperkings ingestel moet word, al dan nie.

“Covid-19 sal Sondag die hoofbesprekingspunt wees. Daardie vergadering sal deeglik na elke moontlike kwessie oor die virus, wat reisbeperkings insluit, kyk. So ook oor of sport- en kerksaamtrekke verbied moet word, sowel as die kwessie van skole wat weens die virus gesluit word en die invloed van die virus op byvoorbeeld toerisme en die ekonomie. Alles sal in fyn besonderhede bespreek word.”

Volgens Mthembu sal die land direk daarna op die hoogte gebring word oor die pad vorentoe.

Mthembu is ook gevra of die kabinet tevrede is met die huidige gehalte van die siftingsprosesse en ander voorsorgmaatreëls teen die virus op Suid-Afrika se lughawens en by ander toegangspunte, veral omdat die meeste positiewe gevalle die land daardeur ingekom het.

Volgens hom is die kabinet tevrede met Suid-Afrika se huidige stand van gereedheid teen die virus.

“Dit is egter so dat mense die land binnekom wat geen tekens van die siekte met hul aankoms toon nie. Hulle ontwikkel eers dae later die simptome nadat hulle reeds in die land is. Daarom sal die skanderings (op die lughawens) niks optel as hulle die land inkom nie.”

Dit is volgens Mthembu daarom nie regverdig om te sê dat die personeel by lughawens of ander toegangspunte in sulke gevalle nie hul werk behoorlik gedoen het nie.

“Benewens die toetse is daar byvoorbeeld op die O.R. Tambo-lughawe fasiliteite om iemand in kwarantyn te plaas,” sê Mthembu.

Intussen sal pres. Cyril Ramaphosa volgens hom ook binnekort alle politieke partye in die parlement, sowel as kerkleiers, oor die jongste verwikkelinge rakende die virus toespreek.

Meer oor:  Jackson Mthembu  |  Covid-19  |  Coronavirus  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.