Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Virus: So gaan dit op ‘skip van onheil’

Die skip van onheil – dit is wat van die ingeperkte passasiers op die Diamond Princess dié skip noem wat weens die uitbreking van die virussiekte Covid-19 buite Tokio se hawe onder kwarantyn geanker lê.

’n Skip waar mense in klein kajuite sonder vensters “vasgekeer” is, is genoeg om enigiemand benoud te maak.

Meer as 200 passasiers is reeds positief getoets en die res van die 2 666 gaste sit in hul kajuite waar hulle alles kry wat hulle nodig het – maar alles, die suurstof en die water, word deur die skip gesirkuleer.

Al die kos kom ook uit die kombuise en die rioleringstelsel sirkuleer op die skip.

Enige kontak met ’n personeellid of medepassasier hou die gevaar in dat die virus oorgedra kan word en op ’n skip is daar duisende plekke vir die virus om “weg te kruip”.

“ ’n Passasierskip is ’n self-gereguleerde geheel. Daar sal opnuut na maniere gekyk moet word om strategieë (vir so ’n situasie) in te stel,” sê prof. Jean-Paul Rodrigue van die departement vervoergeografie aan die Hofstra-Universiteit in New York, Amerika.

Die mense in hul kajuite op die Diamond Princess weet ook nog nie dat hul tyd in kwarantyn elke keer weer 14 dae word sodra nog mense op die skip siek word.

Kent Frasure van Oregon in Amerika sê niemand het nog enigiets vir hulle gesê oor die moontlikheid van ’n langer kwarantyn nie. Vir hulle is gesê die kwarantyn sal tot 19 Februarie duur, dit is Woensdag, maar duidelik is dit nie die einde nie.

Sy vrou is positief vir Covid-19 getoets en is na ’n hospitaal noord van Tokio geneem. Frasure sit steeds in die kajuit waar sy vrou siek geword het. Tot dusver is hy nog nie met die virus besmet nie, maar hy is steeds in die kamer wat nie ontsmet is nie.

“Ek wens hulle kan net vir my Clorox (’n ontsmetmiddel) Wipes of iets gee,” sê Frasure.

“Ons is almal bang die kwarantyn gaan verleng word. Dis al waaraan ons dink.”

Rodrigue sê gewoonlik sou die passasiers almal aan wal gaan en die hele skip ontsmet word.

“As jy ’n reuse-passasierskip met 3 000 mense aan boord het, het jy die kans om ’n virus aan boord te hê baie vergroot,” sê prof. Peter Andrew White, ’n mikrobioloog aan die Universiteit van Nieu-Suid-Wallis in Australië.

“Die passasierskip-bedryf sal nuwe gesondheidsreëls moet instel.”

Die Cruise Lines International Association sê sy lede het verlede jaar sowat 30 miljoen mense op skepe vervoer.

Die getal passasiers in Asië het in die laaste vyf jaar tot 2018 tot 4,26 miljoen verdriedubbel. Daar is 39 maatskappye wat daar vaar met 79 skepe, luidens die groep.

Die meeste skepe is daarop ingestel om veral virusse in die maagdermkanaal te bekamp. Mense met maagdermontsteking versprei miljarde norovirus-deeltjies, maar dit kan makliker doodgemaak word met bestaande middels en deur aanhoudend hande te was.

Dit kan sielkundig baie sleg wees vir mense wat vasgekeer in hul kajuite sit. Personeel probeer die passasiers op die Diamond Princess in hul kajuite vermaak met flieks vir Afrika, die internet en oefenlesse.

Sommige passasiers is in die laaste ses dae net een uur ’n dag buite toegelaat.

John Haering en sy vrou, Melanie, het op die skeepsreis gegaan om sy aftrede te vier. Nou lê hy in Japan in ’n hospitaal met ’n koors van 39° en is positief getoets vir Covid-19, terwyl sy op die skip sit.

“Ek is alleen in my kamer en sal eerder terug op die skip wil wees,” sê Haering.

Selfs in Japan is mense bang en die restaurante, teaters en kroeë is net halfvol.

“Jy weet nie waar die kieme is nie, ons weet steeds nie regtig hoe dit oorgedra word nie,” sê Maggie Rulli, wat vir ABC News verslag doen.

“Ek was my hande aanmekaar. Ek het die heeltyd ontsmettingsmiddel by my, ek het nat doekies, ek probeer my selfoon elke uur daarmee skoonmaak.”

David Abel en sy vrou, Sally, glimlag nog, hoewel hul vriende, Alan en Wendy Steele, besig is om mal te word in hul kajuit – die twee is op hul wittebroodsreis.

Abel (74) sê ’n mens moet maar die beste van die situasie maak. Hul reis is reeds met twee weke verleng, al is dit nou in ’n beknopte ruimte. Hy en sy vrou het hul 50ste huweliksherdenking met ’n reis na Barbados gevier.

“Ek is seker ek gaan oor nog tien of 12 dae my hare begin uittrek. Mense met ’n balkonnetjie kan darem nog met hul bure praat, maar daar kry ’n mens ook maar net swartgalligheid.

“Wat van die arme mense sonder vensters? Kan jy jou dit indink? Dit sal wees soos om in ’n hangkas toegesluit te word. Geen vars lug, geen natuurlike lig. Dit moet regtig hel wees vir daai mense.”

Teen Dinsdag is meer as 1 800 mense reeds weens die virus dood. - Bykomende bronne: Fortune.com, Washington Post.




Meer oor:  Diamond Princess  |  Coronavirus  |  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.