Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Virus: Stappe kom teen NHLS-werknemer oor ‘fopnuus’

“Dis met goeie rede dat die regering die standpunt ingeneem het dat slegs Zweli Mkhize, minister van gesondheid, gemagtig is om enige bevestigde gevalle van die nuwe koronavirus (Covid-19) bekend te maak sodat ál die inligting aan die publiek waar, akkuraat en geloofwaardig is.”

So sê Nomagugu Simelane-Zulu, LUR vir gesondheid in KwaZulu-Natal, in ’n verklaring nadat sy bekend gemaak het dat tugstappe gaan volg teen ’n werknemer van die nasionale gesondheidslaboratoriumdiens (NHLS), wat glo vals inligting oor die nuwe koronavirus in ’n WhatsApp-stemboodskap uitgestuur het.

Volgens die verklaring, wat vroeg Maandagoggend uitgereik is, skets die betrokke vrou “’n valse scenario van paniek” oor die aantal pasiënte wat Covid-19 opgedoen het en in die Prince Mshiyeni Memorial Hospital (PMMH) behandel word.

Die bestuur van die hospitaal ontken die bewerings ten sterkste. Die bestuur asook die staat se gesondheidslaboratoriumdiens beoog tugstappe teen die betrokke werknemer.

“Dié stemboodskap bevat fopnuus en misleidende inligting oor Covid-19 en is wyd op WhatsApp en ander sosialemediaplatforms gedeel,” lui die verklaring.

Simelane-Zulu sê sy verwelkom enige optrede teen enigiemand wat roekeloos optree en vals inligting versprei.

Volgens haar is dit belangrik dat almal kalm bly en dat daar eerder ’n bewusmaking rondom die virus en hoe dit voorkom kan word, geskep word.

Sy het ’n beroep op die publiek gedoen om verantwoordelik op te tree en nie fopnuus te versprei nie.

Volgens haar moet regeringsamptenare van beter weet en nie vals nuus die wêreld instuur nie.

“Hierdie geval moet dus dien as ’n waarskuwing dat ons nie sal toelaat dat enige goeie werk wat deur die regering gedoen word, ondermyn word nie.”

Ook Sasekani Manzini, LUR vir gesondheid in Mpumalanga, het in ’n verklaring oor vals berigte oor Covid-19 in die provinsie gemaan.

“Saterdag is op sosiale media beweer dat iemand in Mbombela positief vir die virus getoets het. Sondag het ’n ‘spesiale verslag’ kop uitgesteek waarin gesê is dat ’n geval in Emalahleni bevestig is.”

Sy het benadruk dat nog geen gevalle van die virus in die provinsie aangemeld is nie en ’n beroep gedoen op die publiek om nie paniekerig te raak nie.

“Ons verseker die publiek dat die departement slaggereed is vir die moontlike uitbreking van die virus en ons sal die publiek onmiddellik in kennis stel indien die virus uitbreek,” sê sy.

Daar is slegs drie bevestigde gevalle van Covid-19 in Suid-Afrika.

Die eerste en derde geval is in KZN aangemeld. Dit is die man en sy vrou wat vroeg in Maart na Suid-Afrika teruggekeer het nadat hulle met vakansie in Italië was.

Albei het positief vir die virus getoets, waarna die regering die ander mense wat met hulle in kontak was, opgespoor het.

Die regering het die naweek bekend gemaak dat daar ook ’n geval in Gauteng is wat regstreeks verband hou met die groep vakansiegangers wat in Italië was.

Meer oor:  Nhls  |  Nomagugu Simelane-Zulu  |  Koronavirus  |  Fopnuus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.