Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Virus vererger tekort aan medisyne

Suid-Afrikaanse psigiatriese staatspasiënte trek opnuut aan die kortste ent – dié keer omdat daar nie genoeg medisyne vir toestande soos skisofrenie is nie.

Marius Bosman van die San Michele-tehuis in Brakpan, Gauteng, waar sowat 200 verstandelik gestremde en psigiatriese staatspasiënte versorg word, sê hy is moedeloos gesukkel. Foto: Elizabeth Sejake

Tehuise wat dié pasiënte versorg, sukkel al sedert verlede jaar met medisynevoorrade en die situasie het met die koms van Covid-19 versleg.

“Dis veral sedert September verlede jaar ’n groot probleem. In ons tehuis versorg ons sowat 300 volwassenes en kinders wat verstandelik gestrem is én psigiatriese toestande het. Ons gee R18 000 tot R32 000 per maand uit aan medikasie wat ons by private apteke koop omdat dit nie by staatsapteke beskikbaar is nie,” sê die bestuurder van ’n tehuis in Johannesburg op voorwaarde van anonimiteit.

“En soos wat dit is, is dit natuurlik ’n maandelikse stryd om te oorleef met die bietjie geld wat ons het. Die probleem is ook dat jy die medikasie twee maande vooruit aanvra en dan ’n maand later voorraad kry vir twee maande. Maar ons weet nooit wat ons gaan kry totdat ons dit by die staatsapteek gaan oplaai nie.”

Nog ’n bestuurder van ’n Johannesburgse tehuis sê hulle het verlede maand nie medisyne gehad vir 50 pasiënte met skisofrenie nie. “Psigiatriese pasiënte raak psigoties as hulle nie hul medikasie kry nie en is dan ’n groot gevaar vir hulself, die ander pasiënte en ook die personeel. Boonop vat dit dan maande om hulle weer te stabiliseer (as hulle weer medisyne kry).

Pasiënte het spesifieke medikasie nodig om te oorleef. As dit nie beskikbaar is nie moet ons met die gevolge saamleef.

“NRO’s (nieregeringsorganisasies) kan ook nie die kans vat dat pasiënte agteruitgaan nie. Ons moet sulke pasiënte hospitaal toe neem voordat dit gebeur omdat ons nie ingerig is om die pasiënte dan te hanteer nie.”

Sy vertel van ’n nuwe pasiënt wat die afgelope week uit ’n staatshospitaal ontslaan en na hul instelling gestuur is. Die pasiënt het net genoeg medikasie gehad vir ’n week. “Staatspasiënte is veronderstel om by ons aan te kom met medikasie vir ’n maand, want dit vat lank om hulle te registreer en dan die medikasie van die staat kry. Maar Maandag is sy medikasie klaar en dan sal ons hom moet terugstuur hospitaal toe.”

Marius Bosman, ’n bestuurder van die San Michele-tehuis in Brakpan waar sowat 200 verstandelik gestremde en psigiatriese pasiënte versorg word, voel magteloos. “Jy wéét pasiënte het spesifieke medikasie nodig om te oor- leef en as dit nie beskikbaar is nie, moet ons almal met die gevolge saamleef. Ons het nie geld om medikasie by private instansies te koop nie.”

Volgens hom is daar ook nie altyd generiese (en dus goedkoper) medikasie beskikbaar nie en boonop is dit baie ontwrigtend vir psigiatriese pasiënte as hulle nuwe medisyne moet kry.

Die ander bestuurders hier sê dit is baie sleg om te sien hoe die pasiënte ly, paniekaanvalle kry, angstig, naar en siek word en ernstige terugslae beleef.

Dr. Mvuyiso Talatala, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Geestesgesondheid, sê die deurlopende medisynetekorte kan aan swak bestuur toegeskryf word. “Dis nie as gevolg van Covid-19 nie. Ek kry gereeld klagtes van psigiaters oor dié probleem in die staatsdiens. Baie medikasie is nooit beskikbaar by die staatsapteke nie maar wel by private apteke. Dit moet dringend aandag kry.”

Volgens Ruth Dube van die Stop Stockouts-projek, ’n NRO wat medisynetekorte monitor, is sowat 10% van die psigiatriese medikasie wat in die eerste twee weke van Oktober landwyd aangevra is nie beskikbaar nie. Meer as die helfte van dié medisyne wat in Gauteng bestel is, is nie beskikbaar nie. “In die algemeen kry ons meer klagtes van Gauteng as die ander provinsies,” sê Dube.

Kwara Kekana, woordvoerder van die Gautengse departement van gesondheid, sê dit is ’n landwye probleem. “Ons ervaar dat die aanvraag na psigiatriese medikasie gestyg het. Boonop kry ons die meeste van ons medikasie van China en Indië en daar is invoe­r­uitdagings weens Covid-19.”

Popo Maja, woordvoerder van die nasionale departement van gesondheid, pak die skuld ook op die pandemie. Volgens hom was daar vroeër uitdagings, maar Covid-19 het dit vererger. “Maar ons probeer en kan sê dat ons vordering maak.”

Meer oor:  Marius Bosman  |  Medisyne  |  Staatshospitale  |  Covid-19  |  Medisynevoorrade  |  Medikasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.