Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Virus versprei na informele nedersettings buite Bfn

Die eerste aanduidings is gevind dat die Covid-19-virus ook na die informele nedersettings buite Bloemfontein begin versprei.

Danksy die regering se projek van massa-skandering en -toetsing om te keer dat dié gevreesde siekte versprei, is die eerste drie gevalle van mense wat positief getoets is, Sondag in die informele nedersetting Freedom Square in Mangaung buite Bloemfontein gekry.

Dié pasiënte is na die Pelonomi-streekhospitaal gebring vir isolasie en behandeling.

Volgens betroubare bronne is daar egter reeds beslis meer gevalle van die siekte in die arm gebiede buite die stad.

Montseng Tsiu, Vrystaatse LUR vir gesondheid, wou niks hieroor sê voordat dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, amptelike aankondigings hieroor gedoen het nie.

Intussen waarsku prof. André Duvenhage, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom, die virus het die vermoë om die ekonomie van die land en die Vrystaat te vernietig as dit vinnig in informele nedersettings en townships versprei.

Hy maan ook dat dit nie genoeg is dat net die mediese sy van die siekte behoorlik bestuur word nie.

Die massa-skandering en -toetsing vir Covid-19 wat Maandag in die informele nedersettings en townships rondom Bloemfontein voortgesit is.Foto: Mlungisi Louw

Die politiek-maatskaplike en ekonomiese sy, waar die groter uitdagings lê, moet ook reg bestuur word, sê hy.

Nadat geskeduleerde toetsings verlede week by Twin City in Heidedal begin is, is dit sedertdien uitgebrei na die township Caleb Motshabi en die naweek na Freedom Square en die informele nedersetting Turflaagte.

Maandag tot Woensdag word by fase 5 tot 7 en 9 en by Bergman Square en Bloemspruit geskandeer en getoets. Hierna kom Bloemanda en Rocklands vir die res van die week aan die beurt waarna die proses herhaal word.

Dr. David Motau, hoof van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, bevestig dat daar positiewe Covid-19-gevalle om Bloemfontein is, en sê “ons is ook lank nie klaar met ons skandering en toetsing in die informele nedersettings en townships nie”.

“Ons sal egter onverpoos met massa-skandering en toetsing regdeur die Paasnaweek aangaan, want ons mag vind dat ons met ’n groot probleem sit as ons dit nie doen nie.”

Motau spreek sy kommer uit oor die winter wat in aantog is. Mense kan sieker word aan verkoues en griep waarvan die simptome aanvanklik baie soos dié van Covid-19 mag lyk.

Hy sê die voorkoms van Covid-19 in die Vrystaat het weliswaar “gestabiliseer” ná die aanvanklike hoë voorkoms twee weke ná die kerk-byeenkoms in Bloemfontein waarby ’n klomp mense die siekte aangesteek het.

Motau sê tot dusver is die voorkoms van Covid-19 nie so hoog in die Vrystaat soos in Gauteng, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap nie, as gekyk word na die aantal toetse wat reeds gedoen is nie.

Ons sal met massa-skandering en -toetsing volhou tot ná 16 April. Ons doelgerigtheid om almal in die hande te kry wat met die virus besmet is, sal ook meebring dat ons later nadat die staat van inperking opgehef is, steeds sal voortgaan met die massa-skandering en -toetsing om die toename van die siekte te laat afplat.

Hy sê die Vrystaat kry vier mobiele toetssentrums by, bykomende tot die twee bestaandes. Saam met die toetsstasie by die Universitas- Akademiese Hospitaal is daar dan sewe toetseenhede in die Vrystaat.

Die hospitale waar pasiënte vir Covid-19 behandel word, is die drie groot hospitale in Bloemfontein asook ’n private hospitaal in Bethlehem.

Mondli Mvambi, Vrystaatse woordvoerder van die gesondheidsdepartement, het Maandagaand bevestig dat daar nou 86 positiewe gevalle van Covid-19 in die Vrystaat is.

Hiervan is 76 in Mangaung, ses in die Thabo Mofutsanyana-distrik (Bethlehem, Harrismith en omgewing), twee in die Fezile Dabi-distrik (Kroonstad, Frankfort, Heilbron, Parys en omgewing), een in Xhariep (die Suid-Vrystaat) en een in die Lejweleputswa-distrik (die westelike gedeeltes van die Vrystaat met Welkom as hoofsetel).

Mvambi sê tot dusver is daar net twee sterftes in die Vrystaat.

“Ons sal met massa-skandering en -toetsing volhou tot ná 16 April. Ons doelgerigtheid om almal in die hande te kry wat met die virus besmet is, sal ook meebring dat ons later nadat die staat van inperking opgehef is, steeds sal voortgaan met die massa-skandering en -toetsing om die toename van die siekte te laat afplat.

“Ons probeer om almal wat in kontak was met mense wat positief getoets is, te skandeer.”

Mvambi sê die vyf oorsese toeriste wat die intree-gevalle in die Vrystaat was, het hul isolasie-tydperk voltooi en almal is ten volle genees.

Meer oor:  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.