Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Virus verstewig sy greep op Wes-Kaap

Die gevreesde Covid-19-virussiekte het sy greep op die Wes-Kaap verstewig en meer as die helfte van die land se koro­nagevalle is nou in die provinsie.

Daarom word spesifieke ingrypingsmaatreëls beplan en bestaan die moontlikheid selfs dat afsonderlike inperkingsvlakke in verskillende plekke in die provinsie ingestel kan word.

Dr. Zwele Mkhize, minister van gesondheid. Foto: Jaco Marais

Dr. Zwele Mkhize, minister van gesondheid, het Maandag in die Oos-Kaap gesê die Wes-Kaap het nou 52% van gevalle, wat “baie kommerwekkend is”.

Daar was teen Maandag 10 652 bevestigde gevalle landwyd, waarvan 5 621 in die Wes-Kaap is.

“In die Wes-Kaap was daar die hoogste styging sedert Sondag met 453 nuwe gevalle,” het Mkhize gesê.

Die Oos-Kaap het tot dusver 1 356 gevalle aangemeld.

Volgens Mkhize dui die syfers daarop die koronavirus versprei tans die vinnigste in hierdie twee provinsies. Een van die oorsake is die beweging van mense heen en weer oor grense.

Pres. Cyril Ramaphosa gaan albei provinsies later vandeesweek besoek en verdere ondersteuningsplanne sal dan bekend gemaak word.

Mkhize, wat die Cecilia Makiwane-hospitaal in Oos-Londen besoek het, het gesê dieselfde benadering sal vir albei provinsies gevolg word omdat dit basies dieselfde gemeenskap is wat rondbeweeg.

“Die twee provinsies het dieselfde infeksietendense,” het hy gesê.

“Ons sal alles moontlik doen om die verspreiding in albei te beperk.”

Volgens hom is begrafnisse ’n groot probleem omdat hulle episentrums van die virus se verspreiding word.

“Ons weet dat mense veral uit die Wes-Kaap na begrafnisse in die Oos-Kaap reis.”

Streng maatreëls vir begrafnisse geld steeds en mense moet dit nakom.

Mkhize het gesê Kubaanse dokters gaan so gou moontlik in die twee provinsies ontplooi word omdat bykomende mediese kundigheid op veral gemeenskaps- of primêre gesondheidsorgvlak nodig is.

In dié stadium dink ons nog dit is te vroeg om dit te oorweeg, omdat ons eers moet seker maak daar is gefokusde planne wat in dié gebiede funksioneer.

Alan Winde, die Wes-Kaap se premier, het Maandag gesê die provinsie het nege verskillende geografiese brandpunte geïdentifiseer van waar die koronavirus na ander gebiede versprei.

“Daarom is dit onvermydelik dat die twee provinsies dieselfde infeksie-tendense het. Ons moet daarom albei provinsies help omdat die daaglikse beweging tussen hulle ’n impak het om die verspreiding van die virus in elk. Dit moet in ag geneem word soos ons die pandemie daar bestuur.

Hoewel dit nog te vroeg is, kan hulle nie die moontlikheid uitsluit dat daar verskillende inperkingsvlakke in dié gebiede ingestel kan word nie.

“In dié stadium dink ons nog dit is te vroeg om dit te oorweeg, omdat ons eers moet seker maak daar is gefokusde planne wat in dié gebiede funksioneer.”

Volgens Winde bestaan die brandpunte uit agt subdistrikte in die Kaapse Skiereiland, asook Witzenberg en die Breedevallei in die Kaapse Wynland-distrik.

Hy het gesê die brandpunte “word gedryf” deur “winkels en supermarkte, asook ander werkplekke oor die provinsie heen”.

Winde sê die Wes-Kaapse regering het reeds ’n gefokusde plan vir Witzenberg ontwikkel. Dit sluit samewerking in tussen die provinsiale departemente van gesondheid, landbou, ekonomiese ontwikkeling en vervoer en die plaaslike owerheid en distriksmunisipaliteit.

’n Soortgelyke plan is ontwikkel vir die brandpuntgebiede in die Kaapse metrogebied, wat later vandeesweek aangekondig sal word. Winde sê hulle monitor al die brandpunte en as daar ’n behoefte sou wees, sal bykomende stappe, wat verskillende vlakke van inperking kan insluit, oorweeg word.

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Kuba  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.