Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Virus woed soos wilde veldbrand in Gauteng – premier

Die Gautengse gesondheidstelsel is erg onder druk terwyl die infeksiesyfers in die provinsie soos ’n wilde veldbrand voortwoed.

Daar word voorspel dat daar tussen 65 000 en 70 000 aktiewe gevalle in die provinsie sal wees wanneer die piek moontlik teen die eerste week van Julie bereik word.

Intussen sê David Makhura, premier, die provinsiale Covid-19-bevelsraad vergader binnekort en daar is ’n moontlikheid dat ’n hoër vlak van inperking vir Gauteng gevra kan word.

“As die premier van die provinsie wil ek nie ’n boodskap stuur dat alles oukei is nie. Die boodskap moet duidelik wees: Die huis is aan die brand,” het Makhura Maandag gesê by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Diepkloof, waar hy en dr. Nomathemba Mokgethi, Gauteng se LUR vir gesondheid, weermaglede verwelkom het.

Makhura het gesê die provinsie het in die derde vlaag meer hulp nodig as in die eerste twee vlae. Die kans om besmet te word is oral in Gauteng hoog.

Mediese werkers (blou) gesels met nooddienswerkers (wit) in die Covid-19-saal van die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Diepkloof. Foto: Deaan Vivier
Die boodskap moet duidelik wees: Die huis is aan die brand.

Makhura het gesê hy praat met drankhandelaars en geestelike leiers sodat almal dieselfde boodskap verstaan: Die pandemie is buite beheer.

Makhura het ook gepraat oor die druk op gesondheidswerkers en die beskikbaarheid van hospitaalbeddens.

“Ek wil nie sê dat ons baie beddens het nie. Elke tweede dag raak die beddens in die hospitale vol. As ons vandag 100 beddens het, is daar geen waarborg dat ons die beddens aan die einde van 48 uur sal hê nie. Ons het die departement nog R1,5 miljard gegee om ekstra personeel in te bring en diegene te behou wat ons tydens die eerste en tweede vlaag gehad het. Die LUR het ook aangedui dat dié personeel nie eens voldoende is vir die soort getalle wat nou gesien word nie.”

Makhura het gesê hospitale kyk na beskikbare ruimte om beddens in beskikbare geriewe te kry. Hulle verwag dat nog meer mense in die volgende twee weke gehospitaliseer gaan word.

‘Hospitale voel die druk’

Mokgethi het gesê dit lyk of mense se waaksaamheid verslap het. Inwoners het met die eerste en tweede vlaag van die pandemie aan die maatreëls voldoen.

David Makhura (tweede van regs), premier van Gauteng, en die LUR vir gesondheid, dr. Nomathemba Mokgethi (heel regs), verwelkom die mediese personeel van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag by die Covid-19-saal van die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Diepkloof. Van links is dr. Mohammad Desai, lt.kol. Salaminah Seemola, lt.kol. Likomo Mpoane, kol. Libako Fosa, brig.genl. Mafi Mgobozi en brig.genl Zuziwe Maso. Foto: Deaan Vivier

“Ons getalle styg daagliks. Ek kan ook sê dat ons stelsel nou onder druk is nadat ons daarin geslaag het om die infeksies in die eerste en tweede vlaag in bedwang te hou.”

Prof. Bruce Mellado, hoofmodelleerder van die Gautengse Covid-19-bevelsraad, het later aan Netwerk24 gesê daar word verwag dat Gauteng op sy piek tussen 65 000 en 70 000 aktiewe gevalle gaan hê.

Die voorspelling kom ooreen met die benadering van die “ergste moontlike scenario” wat die provinsie tans volg.

Van die weermag se mediese personeel stap deur die Covid-19-saal van die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Diepkloof. Foto: Deaan Vivier

Mellado het gesê hoewel aanvanklik verwag is dat die derde vlaag nie so erg soos die tweede sou wees nie, is die teenoorgestelde nou waar.

“Ons het altyd meer as een scenario gehad. In die ergste moontlike scenario, wat nou voorkom, besef ons dat mense nie by die regulasies hou nie en dat die maatreëls nie so streng is soos die vorige vlaag nie. Ons besef nou dat mense ook meer as voorheen rondbeweeg,” het Mellado gesê.

Brig.genl. Zuziwe Maso van die Suid-Afrikaanse militêre gesondheidsdiens het gesê die weermaglede sal in die provinsie se gesondheidsektor ontplooi word om die pandemie te help beveg en verligting vir die stelsel te bring. Weermaglede sal in groepe ontplooi word sodra hulle ingeënt is.

Lt.kol. Likomo Mpooane en brig.genl. Mafi Mgobozi se hande word met handreiniger gespuit waar hulle uit die Covid-19-saal stap by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Diepkloof. Foto: Deaan Vivier

“Ons het opdrag gekry om te help. Ons het dokters, verpleegsters en mediese praktisyns.”

Prof. Guy Richards, ’n emeritus professor in kritieke sorg aan die Universiteit van die Witwatersrand, het gesê hospitale is oorvol en daar is beslis ’n tekort aan beddens.

“ ’n Pasiënt moet in ’n bed wees voordat hy kan suurstof kry. Dit kan dalk wees dat daar ’n tekort aan suurstof ook is, maar die groot probleem lê by beddens,” het hy gesê.

Premier David Makhura praat met mediese personeel van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag wat in Gauteng ontplooi word. Foto: Deaan Vivier

Imtiaz Sooliman, woordvoerder van Gift of the Givers, beskryf die situasie in Gauteng as ’n “massiewe krisis, groter as wat enigeen besef. Dit blyk uit die oproepe van desperaatheid van mediese werkers, gesinne en pasiënte. Die versoek vir suurstofkonsentreerders, suurstofsilinders, suurstof of beddens in hospitale is oorweldigend.”

Sooliman het gesê die organisasie het van die volgende probleme in die provinsie opgemerk:

• Openbare en private hospitale is vol;

• Pasiënte gaan van die een hospitaal na die ander in ’n desperate poging om opgeneem te word;

• ’n Tekort aan personeel;

• Watertekorte by sommige hospitale; en

• ’n Tekort aan persoonlike beskermende toerusting;

Hy het gesê dit is ook ’n probleem dat sommige openbare hospitale nie funksioneer soos hulle moet nie of selfs gesluit is.

Die Gautengse departement van gesondheid het nie op Netwerk24 se navrae gereageer nie.

Meer oor:  Prof. Guy Richards  |  David Makhura  |  Imtiaz Sooliman  |  Gauteng  |  Infeksiekoers  |  Covid-19  |  Hospitaalbeddens  |  Weermag  |  Koronavirus  |  Pandemie  |  Bevelsraad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.