Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Virusgevalle in N-Kaap styg skerp

’n Skielike skerp styging in daaglikse nuwe koronavirusgevalle in die Noord-Kaap is rede tot erge kommer, sê die Noord-Kaapse gesondheidsdepartement.

In die laaste 24 uur is 564 mense in die provinsie positief vir die virus getoets.

Waar die daaglikse syfer Maandag slegs 94 en Dinsdag 151 was, het die syfer Woensdag skielik tot 411 en Donderdag tot 423 die hoogte in geskiet.

Die laaste keer dat meer as 500 gevalle in die provinsie aangeteken is, was op 31 Mei.

Brig. Frances Hender word in Kuruman ingeënt. Foto: Verskaf

Die meeste van die gevalle wat in die afgelope 24 uur aangeteken is, was in die ZF Mgcawu-streek, waar 232 mense die virus opgedoen het.

Die Namakwa-streek het 110, die Pixley ka Seme-streek het 87, die Frances Baard-streek het 80 en die John Taolo Gaetsewe-streek het 52 nuwe gevalle bevestig.

Dit is die eerste keer dat die ZF Mgcawu-streek soveel nuwe gevalle op een dag aanteken.

Drie nuwe sterfgevalle is ook in die laaste 24 uur aangemeld, wat die totale Covid-19-sterftes in die provinsie op 1 745 te staan bring.

Lebogang Majaha, departementele woordvoerder, sê die totale syfer aktiewe gevalle het nou die 5 000-merk verbygesteek.

“Daar is nou 5 074 mense in die provinsie wat die virus onder lede het. Ons is baie bekommerd oor die hoë infeksiekoers in die provinsie en die skielike skerp styging oor die afgelope drie dae.”

Kapt. Ricky Daniels word in Postmasburg ingeënt. Foto: Verskaf

Die gesondheidsdepartement het daarom bykomende entstoflokale beskikbaar gestel wat oor naweke in drie van die vyf onderskeie distrikte oop sal wees om mense in te ent. Die distrikte is die ZF Mgcawu-, die John Taolo Gaetsewe- en die Frances Baard-distrik.

“Al die lokale sal mense aanvaar wat instap, ongeag of hulle reeds geregistreer het of nie. Daar sal personeel wees wat mense kan help om te registreer.

“Die geweldige skerp styging is ’n ernstige rede tot kommer en ons kan dit nie genoeg beklemtoon hoe belangrik dit is dat mense die entstof ontvang en ook die Covid-19-maatreëls moet toepas nie,” sê Majaha.

Die departement het ’n beroep op mense 35 jaar en ouer gedoen om so gou moontlik in hul onderskeie dorpe aan te meld om ingeënt te word.

Intussen het talle polisiekantore se lede in die Noord-Kaap sedert Donderdag aangetree om ingeënt te word.

Kol. Mashay Gamieldien, polisiewoordvoerder, sê sedert die entstofprogram vir die polisiediens Donderdag begin het, het die personeel van 15 stasies en 13 eenhede in die John Taolo Gaetsewe-distrik dadelik by die Kuruman-polisiekantoor aangemeld om ingeënt te word.

Genl.maj. Joey Kers, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, was Donderdag by die polisiekantoor om die lede te ondersteun en aan te moedig om ingeënt te word.

Brig. Frances Hender, waarnemende distrikbevelvoerder, het sommer eerste aangetree om die entstof te ontvang, gevolg deur brig. Kenneth Baloyi, bevelvoerder van die Kuruman-polisiekantoor.

In die ZF Mgcawu-distrik by die Postmasburg- en die Upington-polisiekantoor het die program vlot en bedrywig verloop met lede wat flink vir hul beurt opgedaag het.

Brig. Johnny Besnaar, distrikbevelvoerder van die ZF Mgcawu-distrik, sê hy is baie tevrede met die goeie opkoms van lede wat aangemeld het om ingeënt te word.

“Hulle het die regte ding gedoen.”

Meer oor:  Noord-Kaap  |  Pandemie  |  Covid-19  |  Entstowwe  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.