Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Virusreëls: Jong paartjie in 2 lande kan nou net hoop

Om na Auckland in Nieu-Seeland te verhuis sou vir Laykanne (25) en Eben (30) Coetzee ’n simbool van ’n nuwe begin en lewe wees.

Maar toe kom die Covid-19-pandemie en die paartjie, oorspronklik van Johannesburg, se planne is in die wiele gery.

Vandag is hulle al meer as agt maande weg van mekaar en daar is meer as 12 000 km tussen dié jong getroudes. En hulle weet ook nie hoe lank dit nog sal duur nie weens die Nieu-Seelandse regering se besluit om die land se grense te sluit.

Laykanne sê Eben is in November 2019 na Nieu-Seeland nadat hy ’n goeie aanbod gekry het om as ingenieur daar te gaan werk. Sy sou in Maart vanjaar by hom aangesluit het.

“Ek sou op 19 Maart gevlieg het. Daardie oggend het ek gehoor Nieu-Seeland het sy grense gesluit en dat slegs burgers van die land toegelaat sal word om te reis,” sê Laykanne.

Laykanne (25) en Eben (30) Coetzee het daarna uitgesien om ’n nuwe lewe te begin in Nieu-Seeland in Maart vanjaar. Nou is hulle reeds agt maande lank weg van mekaar af en daar lê meer as 12 000 km tussen hulle weens ’n reisverbod in Nieu-Seeland.

Nietemin is sy daardie dag met tas en al na die O.R. Tambo-lughawe om haar Qantas-vlug na Sydney in Australië en dan na Auckland op die noordelike eiland van Nieu-Seeland te haal.

"Toe ek die nuus hoor het ek ’n koue gevoel oor my lyf gekry. Ek het gehoop hulle sou my toelaat om te reis omdat Eben ’n visum het om daar te werk en ek ’n visum as sy lewensmaat bekom het,” sê Laykanne.

Ná ’n lang gesukkel by die lughawe en verskeie oproepe na die Nieu-Seelandse emigrasiekantoor, is ek nie toegelaat om te reis nie,” sê Laykanne.

Sy sê die regering daar sê net landburgers sal toegelaat word omdat daar ’n beperking is op kwarantyngeriewe in die land.

Laykanne is met tas en al terug na haar ouers se huis.

“Drie dae lank het ek net in die bed gelê en gewonder wat nou? Ek het my gesin gegroet en dit was baie emosioneel. Nou sal ek weer deur daardie hartseer moet gaan,” sê sy.

Die reisverbod het op ’n ramp afgespeel vir die Coetzees.

Ek sit nou met basies niks. Ons huis en motors is verkoop en ons mediese fonds is gestop omdat ons oorsee sou gaan

"Ek sit nou met basies niks. Ons huis en motors is verkoop en ons mediese fonds is gestop omdat ons oorsee sou gaan,” sê Laykanne.

Sy woon steeds by haar ouers in Boksburg totdat sy by Eben kan aansluit.

Sy het egter nie veel hoop om hom gou weer te sien nie.

“Die Nieu-Seelandse regering het aansoekvorms om die land binne te kom op hul webtuiste. Ons het nou al verskeie kere aansoek gedoen, maar kom elke keer by ’n doodloopstraat. Dit was nog elke keer afgekeur,” sê Laykanne.

Sy sê dit is moeilik om sonder Eben te wees omdat hulle nou eers byna twee jaar getroud is.

“Ek het depressie weens die situasie en kry ook hulp vir angsaanvalle. Wat dit erger maak, is dat Eben moet geld stuur vir die medisyne en doktersbesoeke omdat ek nie meer lid is van ’n mediese fonds nie,” sê Laykanne.

Dat Eben gerepatrieer word, is ook nie ’n opsie vir die Coetzees nie. “As hy moet terugkom na Suid-Afrika, sal hy nie weer kan teruggaan nie. Hy sal ook sy werk moet los.

Al wat ons kan doen, is om te hoop, al is dit moeilik. Ons sal aanhou aansoek doen. Hopelik sal die regering my eendag daar toelaat.

"Al wat ons kan doen, is om te hoop, al is dit moeilik. Ons sal aanhou aansoek doen. Hopelik sal die regering my eendag daar toelaat,” sê Laykanne.

Sy sê uit ’n Suid-Afrikaanse oogpunt is daar geen probleem om haar met haar man te verenig nie. “Al wat ek kort, is die dokumente wat aandui dat ek in Nieu-Seeland toegelaat word,” sê Laykanne.

Meer oor:  Paartjie  |  Hoop  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.