Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Vlak 1: Hoop en verligting vir SA'ners

Die volgende fase van inentings teen die koronavirus Sars-CoV-2 sal teen einde April en begin Mei begin, het pres. Cyril Ramaphosa in sy jongste “familiegesprek” Sondagaand met die land gesê.

Dié fase is vir onder andere ouer mense, noodsaaklike werkers en mense met onderliggende siektetoestande.

Nóg entstowwe kom

Nog ’n besending van 80 000 dosisse van Johnson & Johnson se entstof het Saterdag in die land aangekom.

Ramaphosa het gesê ’n ooreenkoms is onlangs met Johnson & Johnson gesluit om nog 11 miljoen dosisse entstof te verkry waarvan 2,8 miljoen in die tweede kwartaal gelewer word en die res deur die loop van die jaar.

Tot 20 miljoen dosisse van Pfizer se entstof sal van die tweede kwartaal af opdaag. 12 miljoen dosisse word van die Wêreldgesondheidsorganisasie se Covax-inisiatief gekoop.

Ramaphosa het gesê Vrydag sal dit presies een jaar gelede wees dat die eerste geval van Sars-CoV-2-infeksie in Suid-Afrika aangemeld is.

“Nou het ons ’n duidelike pad om die besmettings te beheer en uiteindelik die siekte te oorwin,” het Ramaphosa gesê.

Hy het gesê die skerp afname in infeksies het die kabinet laat besluit om inperkingsmaatreëls te verslap. In die afgelope week is net minder as 10 000 nuwe infeksies aangeteken teenoor meer as 40 000 ’n maand gelede en byna 90 000 in die laaste week van Desember.

Die president het gewaarsku mense moenie nou oorgerus wees nie.

Nou het ons ’n duidelike pad om die besmettings te beheer en uiteindelik die siekte te oorwin.

Derde vlaag

“Die bedreiging van ’n derde vlaag is steeds daar. Die manier waarop mense optree, sal bepaal hoe erg dit sal wees,” het Rama­phosa gesê.

“Die nuwe virusvariant 501Y.V2 is nou die heersende variant in die land. Dit kan meer mense infekteer en plaas groter druk op die gesondheidstelsel. Daarom is sosiale afstand en die dra van maskers steeds kritiek belangrik.”

Volgens hom vorder die inentingsprogram “uiters goed” en is meer as 67 000 gesondheidswerkers al ingeënt.

Die persele waar inentings gedoen word, word in die komende week van 17 tot 49 uitgebrei, wat insluit hospitale in landelike gebiede waar landelike gesondheidswerkers ook ingeënt kan word. Ramaphosa meen die pandemie het nie die land se vasbeslotenheid en unieke Suid-Afrikaanse gees geblus nie.

“Die land moet verenig en hoopvol bly,” het hy gesê.


DIT VERANDER

  • Aandklokreël geld nou van 00:00 tot 04:00.
  • Byeenkomste is nou toelaatbaar. Binnenshuis mag die lokaal nie 50% van die kapasiteit oorskry nie tot ’n maksimum van 100 mense
  • Buite mag nie meer as 50% van die terrein se kapasiteit oorskry word nie, tot ’n maksimum van 250 mense.
  •  Alkohol mag weer soos normaal verkoop word, maar geen alkohol mag verkoop word gedurende die aandklokreël nie.


DIT BLY SO

  • Nagwake en byeenkomste ná begrafnisse word nie toegelaat nie.
  • Nagklubs bly toe.
  • Die dra van maskers bly verpligtend, asook die handhawing van ’n gesonde afstand.
  • Die 35 grensposte wat tot dusver gesluit was, bly gesluit en die ander 20 bly oop.
  • Steeds is net 5 lughawens oop vir internasionale reis: O.R. Tambo, Kaapstad, King Shaka, Kruger Mpumalanga en Lanseria.


Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Covid-19  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Vlak 1
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.