Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Vlak 1 toe ná ses maande se swaarkry’ – Ramaphosa
cyril ramaphosa
Pres. Cyril Ramaphosa Woensdagaand in die Uniegebou in Pretoria. Foto: Presidensie

Deur saam te staan het Suid-Afrikaners die storm van die Covid-19-pandemie weerstaan en daarom kan die inperkingsvlak nou ná ses maande van swaarkry tot vlak 1 verlaag word.

Dit is van Sondagnag om middernag van krag.

Só het pres. Cyril Ramaphosa Woensdagaand in ’n regstreekse uitsending uit die Uniegebou aangekondig.

“Ons het die storm weerstaan. Nou is die tyd om ons land, sy mense en ons ekonomie terug te laat keer na ’n situasie wat meer normaal is en wat lyk na die lewe wat ons ses maande gelede geleef het.

“Dit is tyd om te skuif na wat ons nuwe normaal sal word vir so lank as wat die virus met ons is,” het die president gesê.

Tot soveel as 250 mense sal van Maandag af by binnemuurse byeenkomste kan saamkom en nie meer as 500 by buitelugbyeenkomste nie.

Begrafnisse

100 mense kan nou begrafnisse bywoon, waar dit voorheen 50 was. Ramaphosa het gesê dit word steeds as ’n samekoms beskou wat ’n hoë risiko vir infeksies inhou. Nagwake word steeds verbied.

“Plekke gemik op oefening, ontspanning en vermaak, soos gimnasiums en teaters, wat ook tot 50 mense beperk was, sal nou toegelaat word om tot 50% van hul kapasiteit toe te laat.”

Die beperkings op sportgebeurtenisse is egter steeds van krag.

Ons het die storm weerstaan. Nou is die tyd om ons land, sy mense en ons ekonomie terug te laat keer na ’n situasie wat meer normaal is en wat lyk na die lewe wat ons ses maande gelede geleef het.

“Die verkope van drank by drankwinkels vir verbruik by die huis sal nou van Maandae tot Vrydae van 09:00 tot 17:00 toegelaat word.

“Die verkoop van drank om op die perseel te drink, sal slegs in gelisensieerde plekke toegelaat word en hulle moet streng by die aandklokreël hou.”

Aandklokreël

Die aandklokreël geld nou van 24:00 tot 04:00.

Toerisme

Ramaphosa het gesê die toerismesektor is een van die land se vernaamste ekonomiese dryfvere. “Suid-Afrika is reg om te heropen en toeriste by ons toeristebestemming te verwelkom.”

Daarom sal reise na en van Suid-Afrika ook vir sake, ontspanning en ander doeleindes van 1 Oktober onder streng voorwaardes toegelaat word.

Dit sluit reise na en van lande met hoë infeksievlakke uit. ’n Lys van die lande sal binnekort gepubliseer word.

Volgens Ramaphosa sal reisigers bewyse van ’n negatiewe koronavirustoets met hul aankoms by een van die drie hooflughawens in die land moet indien. Daarsonder sal hulle op eie onkoste in verpligte kwarantyn geplaas word.

Ramaphosa het gesê meer as 15 000 mense is dood en meer as 650 000 het die laaste ses maande die koronavirus opgedoen.

“Twee maande gelede in die middel van die storm het ons ’n kommerwekkende 12 000 nuwe gevalle per dag aangeteken. Nou het ons gemiddeld 2 000 nuwe gevalle per dag. Nou het ons ’n herstelvlak van 89%.”

Hy het egter gewaarsku dat sommige lande in baie gevalle ’n tweede golf van infeksies ervaar, wat erger as die eerste een was.

“Ons kan nie ’n tweede golf bekostig nie, want dit sal verwoestend wees.

“Dit hang nou van elke Suid-Afrikaner af om te verseker dat dit nie gebeur nie.”

Hy het ’n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om die Covid Alert SA-app op hul selfone af te laai.

Dit sal dit makliker maak om nuwe uitbrekings doeltreffend te identifiseer en te beveg.

Dié app sal mense in kennis stel as hulle die vorige 14 dae in noue kontak was met iemand wat met die virus besmet is.

“Ons moet onsself nou veilig hou om ons ekonomie oop te hou,” het Ramaphosa gesê.

“Ons moet die ekonomie weer laat groei om werksgeleenthede te kan skep.”

Entstof

Die president sê daar word ook voorbereidings gedoen vir wanneer ’n entstof teen die virus beskikbaar word.

“Suid-Afrika neem deel aan ’n wêreldwye inisiatief van die Wêreldgesondheidsorganisasie waar hulpbronne saamgevoeg word om só ’n entstof bekostigbaar te maak.

“As voorsitter van die Afrika-Unie het ons voorspraak gemaak vir gelyke toegang tot die entstof sodat geen land agtergelaat word nie.

“Suid-Afrika berei hom ook voor om ’n sleutelrol te speel in die verspreiding van ’n entstof.”

Ramaphosa sê die pandemie het die omvang van korrupsie in die samelewing ontbloot. Die spesiale ondersoekeenheid maak egter goeie vordering in sy ondersoeke en het reeds sy eerste verslag aan hom oorhandig.

Sodra al die ondersoeke afgehandel is, sal dit bekend gemaak word.

Op 24 September vier Suid-Afrika Erfenisdag. “Kom ons gebruik dié vakansiedag as ’n familiedag om te besin oor die moeilike reis waardeur ons almal is en dié te onthou wat gesterf het.”

Hy sê Suid-Afrikaners het in dié tyd gewys wat hulle kan regkry wanneer hulle verenig saamwerk. “Kom ons wys vir die wêreld ons Suid-Afrikaansheid deur almal saam op die ‘Jerusalema’-liedjie te dans en fees te vier.

“Kom ons bou voort op die eenheid wat ons tot nou toe getoon het.”


Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Vlak 1
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.