Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Vlak 3 ‘sal nie 3de vlaag van infeksies stuit’

Suid-Afrika se skuif na vlak 3 van die nasionale staat van inperking sal min doen om die stygende getal Covid-19-infeksies te stuit.

Dit is die mening van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMV). Die vereniging glo meer moet eerder gedoen word om die sukkelende gesondheidstelsel te help om die huidige stortvloed van gevalle te kan hanteer.

Pres. Cyril Ramaphosa het Dinsdagaand aangekondig beslissende en vinnige optrede is nodig om lewens te red te midde van die stygende getal koronavirusinfeksies, veral in Gauteng.

Strenger inperkings het saam met dié skuif na vlak 3 gekom. Dit sluit in ’n vervroegde aandklokreël, 'n beperking op die verkoop van alkohol en die getal mense wat saamtrekke mag bywoon.

'Beperkings te laat'
Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging. Foto: Rapport/Deon Raath

Dr. Angelique Coetzee, SAMV-voorsitter, voel strenger maatreëls word vereis omdat daar nou meer infeksies as ooit is en hospitale en gesondheidswerkers onder erge druk verkeer.

“Die beperkinge laat steeds te veel ruimte vir sosiale interaksie, wat ons weet sonder behoorlike voorsorgmaatreëls plaasvind. Terselfdertyd is ons private en openbare hospitale op volle kapasiteit en hulpbronne word maksimaal gerek. Sonder behoorlike, doeltreffende en beslissende maatreëls om die verspreiding van die virus te bekamp, gaan ons infeksie- en sterftesyfer nog verder styg.”

Coetzee het bygevoeg dat skole ook steeds oop is, terwyl reise en openbare vervoer steeds toegelaat word.

“Dit moenie toegelaat word nie. Niks het aansienlik verander nie. Die strenger aandklokreël en beperkinge op drankverkope beteken dat mense eenvoudig net hul gedrag sal verander om die beperkings te akkommodeer. Dit sal min impak op hul daaglikse roetine hê. Dít is wat beperkings eintlik moes geteiken het.”

Meer moet gedoen word vir gesondheidswerkers

Sizwe Pamla, Cosatu-woordvoerder, dink ook meer moet gedoen moet word om gesondheidsinstellings en gesondheidswerkers by te staan. Hy sê dié ANC-alliansievennoot is diep bekommerd oor die vinnige styging in die getal nuwe infeksies en sterftes.

Cosatu glo die nuwe inperkings sal net werk as dit behoorlik afgedwing word. Hy bly verder teleurgesteld met die “louwarm tempo” van die inentingsprogram.

Politieke reaksie

Die EFF het die skuif na vlak 3 en strenger beperkinge beskryf as ’n “toegewing van mislukking deur ’n regering wat te besig was met plundery en misluk het om ’n omvattende inentingsprogram op alle vlakke daar te stel”.

“Weens hierdie regering se lojaliteit aan Westerse farmaseutiese reuse is Suid-Afrika in die wildernis gelaat wat inentings betref, met die Suid-Afrikaanse owerhede wat aktief weier om die Russiese Sputnik V- en Chinese Sinovac-entstof goed te keur,” sê Vuyani Pambo, EFF-woordvoerder.

Sommige mense sal met hul lewe vir die regering se mislukkings betaal. Ander sal geliefdes verloor. Talle sal ook hul lewensbestaan verloor.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit-beweging, het Dinsdagaand met verwysing na Ramaphosa se “familievergadering” en aankondiging gesê dat die “pa die familie in die steek gelaat het”.

Buys is ook bekommerd oor die inentingsprogram wat sloer en “ ’n totale mislukking is”.

John Steenhuisen, DA-leier, sê die strenger inperkings is nodig omdat Ramaphosa se regering versuim het om ’n doeltreffende inentingsprogram in werking te stel.

“Sommige mense sal met hul lewe vir die regering se mislukkings betaal. Ander sal geliefdes verloor. Talle sal ook hul lewensbestaan verloor,” sê Steenhuisen.

“Almal se lewe sal ontwrig word.”

Die politieke party Good het in ’n verklaring ook die skuld vir die derde vlaag van infeksies voor die stadige inentingsprogram se deur gelê.

Abigail Moyo, woordvoerder vir die vakbond Uasa, het Ramaphosa se aankondigings verwelkom.

“Terwyl ons wag vir elkeen om ingeënt te word, raai Uasa sake-eienaars, werknemers, die jeug en bejaardes en alle ander Suid-Afrikaners aan om verantwoordelikheid te neem en om pioniers te wees wat die verspreiding van Covid-19 beveg.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.