Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Vlak 3 veels te laat,’ sê opposisie

Hoewel politieke partye pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging verwelkom dat die hele Suid-Afrika op 1 Junie na vlak 3 van die staat van inperking beweeg, glo sommiges dat dié stap te laat vir veral die sukkelende ekonomie gekom het.

John Steenhuisen, waarnemende DA-leier. Foto: Felix Dlangamandla

Ander meen dat die verantwoordelikheid nou na elke Suid-Afrikaner oorskuif wat hul persoonlike voorkomingsmaatreëls drasties sal moet opskerp, veral omdat die Covid-19-pandemie nog nie sy piek bereik het nie.

Pule Mabe, ANC-woordvoerder, het Sondagaand in ’n regstreekse uitsending op die SAUK-nuuskanaal namens die ANC alle landsburgers versoek om voortaan nog nouer met die regering saam te werk om die verspreiding van die pandemie te bekamp.

Volgens hom is al die besluite van die Ramaphosa-administrasie en die nasionale koronavirus-bevelsraad op wetenskaplike advies gegrond en moet landsburgers daardie besluite ondersteun.

Mabe het bygevoeg dat daar ook wyd met alle sektore van die samelewing gekonsulteer is voordat die aankondiging Sondagaand gedoen is.

'Geen rasionaal vir harde inperking'

John Steenhuisen, tussentydse DA-leier, het in 'n verklaring gesê dat die DA bly is dat groot dele van die ekonomie weer sal heropen en onderworpe aan streng higiëniese maatreëls, soos die dra van maskers en protokolle vir gesonde afstande, sal wees.

“Terwyl dit kritiek is dat ons nou red wat te redde is van die ekonomie, moet dit gesê word dat dit ’n volle ses weke te laat gekom het. Daar was geen rasionale regverdiging om die harde inperking ná die aanvanklike drie weke te verleng nie en dit het onherstelbare skade aan ons ekonomie aangerig.

“Die gevolglike swaarkry en lyding en uiteindelik die voortydige sterftes van Suid-Afrikaanse burgers weens dit, sou grootliks vermy kon wees. Die regering en pres. Ramaphosa sal moet rekenskap gee daarvoor,” het Steenhuisen gesê.

'Te laat vir kleiner ondernemings'

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, het gesê die ontsluiting van Suid-Afrika se ekonomie vind te stadig plaas om ernstige langtermyn-skade te voorkom, veral in die lig van die feit dat Ramaphosa Sondagaand opnuut bevestig het dat die inperking sy doel gedien het.

“Sake-ondernemings kon lank reeds met die korrekte gesondheidsprotokolle in plek in bedryf getree het.

“Vir baie kleiner ondernemings is dit reeds te laat en die effek daarvan sal ’n swaar las plaas op die land se reeds sukkelende ekonomie en sy groot werkloosheidsprobleem.

“Die VF Plus is bekommerd oor die feit dat talle irrasionele maatreëls steeds in plek is, soos die verbod op sigaretverkope, asook die dreigement dat daar selfs terugbeweeg kan word na vlak 5 in sekere gebiede afhangende van infeksiekoerse.

“Die VF Plus sal om hierdie redes voortgaan met sy saak om die geldigheid van die Rampbestuurswet en irrasionele inperkingsmaatreëls in ’n hof te laat toets,” het hy gesê.

'Baie moeilike' aankondiging

Mkhuleko Hlengwa, IVP-woordvoerder, het in ’n verklaring gesê dat die party versigtig bly is oor die “baie moeilike” aankondiging van Ramaphosa.

Volgens die IVP is die skuif na vlak 3 voortydig en gaan dit die samewerking van alle sektore in die samelewing vereis.

“Die verantwoordelikheid skuif ook nou na elke Suid-Afrikaner om buitengewone voorsorgmaatreëls te tref as hulle nie by die huis is nie.”

Brett Herron, sekretaris-generaal van die Good-party, het saamgestem dat daar nou van elke Suid-Afrikaner verwag sal word om die verdere verspreiding van die virus te help bestry.

Meer oor:  Pule Mabe  |  John Steenhuisen  |  Pieter Groenewald  |  Covid-19  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Pandemie  |  Vlak 3  |  Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.