Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Volgende vlae van virus ‘gaan al hoe vinniger kom’

Vergeet van strenger inperkings – die enigste verweer wat ons nou teen die koronaviruspandemie het, is dat almal in die land ingeënt word.

Só sê dr. Freek Bester, Bloemfonteinse internis.

Hy meen ook die volgende vlae van infeksies gaan al hoe vinniger op mekaar volg. “Dit is ’n nagmerrie.”

Hoe gouer almal ingeënt word, hoe beter.

Dr. Freek Bester Foto: Argief

Hy meen die vlak 3-inperking wat pres. Cyril Ramaphosa Dinsdagaand aangekondig het, het hopeloos te laat gekom vir die Vrystaat en die Noord-Kaap, wat al drie weke lank onder die derde vlaag van infeksies steier.

“Die perd is reeds uit die stal en dit help nie jy klap nou die staldeur toe nie. Ons sien daagliks hoe mense voor ons oë sterf. Daar is nie genoeg hospitaalbeddens en suurstofmasjiene nie.

“Spesialiste en dokters raak uitgebrand en word daagliks gekonfronteer met moeilike keuses, soos aan wie om die oorblywende suurstofmasjien te gee, terwyl ander sterf, of aan wie om die enigste beskikbare hoësorgbed te gee terwyl vyf sterwende pasiënte dit nodig het.”

Hy sê hulle het onlangs in die middel van die nag vir ’n baie siek pasiënt ’n hoësorgbed in Bloemfontein gesoek. Die enigste een wat hulle kon opspoor, was in Empangeni in Natal. “Voordat ons pasiënt daar aangekom het, het hy reeds gesterf.”

Hy sê daar is geen beddens meer beskikbaar in die Vrystaat en die Noord-Kaap nie – insluitend die Universitas Akademiese Hospitaal en die Pelonomi-streekhospitaal in Bloemfontein.

“Onthou, ’n hoësorgbed moet ook ’n dokter en verpleegpersoneel hê.”

Bester sê hulle het tans sowat 50 Covid-19-pasiënte in die Life Rosepark-hospitaal in Bloemfontein.

“Ons is glad nie die grootste hospitaal hiervoor in Bloemfontein nie, maar ons is vol.”

Fopnuus oor entstowwe

Bester meen daar word te veel negatiewe inligting oor die entstowwe op sosiale media versprei en dat dit meestal fopnuus is.

Geen mens sal doodgaan van die entstowwe nie. Dit veroorsaak wel soms ’n gevoel van grieperigheid of kopseer vir ’n paar dae, maar dit gaan oor.

Dit veroorsaak ’n huiwerigheid by sommige mense bo 60 jaar oud om ingeënt te word en die gevolge hiervan is dikwels rampspoeding.

“Geen mens sal doodgaan van die entstowwe nie. Dit veroorsaak wel soms ’n gevoel van grieperigheid of kopseer vir ’n paar dae, maar dit gaan oor.”

Hy sê enige medisyne het newe-effekte. “Maar as die positiewe voordele van die medisyne heelwat meer is as die negatiewe gevolge, is dit die moeite werd om te neem.”

Montseng Tsiu, Vrystaatse LUR vir gesondheid, sê daar is genoeg entstof vir mense ouer as 60 jaar. “Ons het egter ’n probleem dat daar nie meer so baie mense hiervoor by die Universitas- en Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein opdaag soos aan die begin nie, asook in al vier ander Vrystaatse distrikte waar dit toegedien word.

“Maar ons gaan nou uit na die mense en mobiliseer hulle om vir inentings te gaan. Ons gaan ook plase besoek om inentings te doen.”

Montseng Tsiu, Vrystaatse LUR vir gesondheid, word ingeënt. Foto: Argief

Sy sê die Vrystaatse gesondheidsdepartement is gereed om alle onderwysers te begin inent.

“Ons wag net vir daardie entstowwe om op te daag.”

Sy meen nie Ramaphosa se aankondiging van vlak 3-inperkings was te laat nie. “Daar is sommige mense wat nie die koronavirusprotokolle handhaaf nie, wat veroorsaak dat die virus versprei.”

Tsiu sê sy is nie bekommerd nie. “Ons doen goeie werk en sal sorg dat Vrystaters ingeënt word.”

Meer oor:  Bloemfontein  |  Virus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.