Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Vraag na doodsertifikate neem skerp toe

Die druk op die departement van binnelandse sake om weens die verslegtende koronaviruspandemie al hoe meer doodsertifikate uit te reik, is so groot dat die departement se kantore voorlopig tot 15 Februarie tot 19:00 oop sal wees, sê dr. Aaron Motsoaledi, die minister.

Hy het Dinsdag op ’n mediakonferensie gesê dit word gedoen om mense te help wie se naasbestaandes aan Covid-19 dood is en ook om die druk op lykshuise en begrafnisondernemings te verlig. Dit sal ook help dat mense binne 72 uur begrawe of veras kan word.

“Ons stel voor dat alle sterfgevalle en geboortes geregistreer word by die gesondheidsgerief waar die sterfte of geboorte plaasgevind het en daar kantore van die departement is.”

Die minister sê sedert die begin van Desember het die getal aansoeke vir doodsertifikate algaande toegeneem.

“Die verwagting is dat ons teen die einde van Januarie heelwat meer doodsertifikate sal uitgereik het as in Desember.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake. Foto: Argief

“In Desember 2018 het die departement in totaal 36 826 doodsertifikate uitgereik, in Desember 2019 38 620 en die afgelope Desember 55 676 (nie net Covid-19-gevalle nie, maar alle sterftes).

“Op 4 en 5 Januarie – die eerste twee werkdae van die jaar – het die departement 10 582 sterfgevalle geregistreer.

As dié tendens voortduur, kan ons regmaak vir ’n nog groter vraag na doodsertifikate,” sê Motsoaledi.

“Om dié rede het die departement besluit om tydelik sekere van sy aktiwiteite en dienste op te hef. Ons word deur die omstandighede gedwing om dit te doen.”

Onder die dienste wat opgeskort word, is aansoeke om ID-kaarte (behalwe vir matriekleerlinge), paspoorte (behalwe vir diegene wat ingevolge die inperkingsmaatreëls mag reis) en huweliksregistrasies.

Mense moet ook slegs kantore van die departement besoek om ID-dokumente af te haal as hulle ’n SMS van die departement ontvang het.

Die pandemie het die departement se personeel ook swaar getref.

Van die departement se meer as 5 700 werknemers wat dienste aan die publiek lewer, is 4 502 op die een of ander wyse geraak. Die meeste was in Gauteng, die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal.

“In die eerste agt dae van vanjaar is 116 personeellede positief getoets en sewe is dood.

“Die situasie word vererger deur die feit dat van hul kollegas wat met hulle in aanraking was, onder kwarantyn moet gaan.

“Ons moes ook lede van die publiek wat met hulle in aanraking was, opspoor en kantore moes tydelik gesluit word.”

Dit alles het dienslewering nadelig geraak.

“Sedert die pandemie in Maart verlede jaar uitgebreek het, moes 266 van die departement se 412 kantore landwyd in ’n stadium gesluit word om eers gereinig te word nadat personeellede positief vir die virus getoets is.”

• Wat die sluiting van die landgrensposte betref, het Motsoaledi gesê behalwe vragverkeer, mag mense wat terugkeer na hul huise – hetsy in Suid-Afrika of na ander lande – steeds die grensposte gebruik. Dit sluit ook in leerlinge van buurlande wat in Suid-Afrika skoolgaan, maar saans in hul eie lande slaap.

Sekere ander sake sal met sy goedkeuring op meriete en onder sekere voorwaardes oorweeg word. Dit sluit onder meer ’n bewys in van waar hulle in Suid-Afrika sal tuisgaan.

Almal wat die land binnekom, sal steeds moet voldoen aan al die koronavirusmaatreëls.

Oor die probleme by onder meer die Beitbrug- en Lebombo-grenspos die laaste paar weke, sê die minister ’n waarnemende kommissaris vir grensbeheer is begin vandeesmaand aangestel.

“Sedert die pandemie in Maart verlede jaar uitgebreek het, moes 266 van die departement se 412 kantore landwyd in ’n stadium gesluit word om eers gereinig te word nadat personeellede positief vir die virus getoets is.

Grenswagte sal aangestel word om te keer dat mense die land onwettig binnekom.

Die probleme met grensbeheer word vererger deur die feit dat daar gemeenskappe in byvoorbeeld Suid-Afrika en Botswana is wat deur ’n grens geskei word.

“Die soort gemeenskappe sal in die toekoms volgens ’n ooreenkoms tussen Suid-Afrika en sy buurlande spesiale toestemming kry om vrylik oor grense te beweeg. Die pandemie het dié proses egter onderbreek.”

Meer oor:  Koronavirus  |  Aaron Motsoaledi  |  Covid-19  |  Doodsertifikate
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.