Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Vroeë tekens’ dat W-Kaap piek van 2de vlaag nader

Die Wes-Kaap wys vroeë tekens dat hy die piek van die tweede vlaag van die koronaviruspandemie bereik, hoewel hospitalisasies en sterftes steeds hewige druk op gesondheidsdienste plaas.

Dr. Keith Cloete, hoof van die provinsiale departement van gesondheid, het Woensdag aan die parlement gesê dit begin lyk asof die getal nuwe bevestigde gevalle en hospitalisasies begin stabiliseer en dat die Wes-Kaap in die volgende twee tot drie weke in die voetspore van die Tuinroete en Oos-Kaap kan volg.

Cloete het aan die portefeuljekomitee vir gesondheid verduidelik dat die reproduksie- (R) koers vir die provinsie op een staan en op sommige plekke laer gedaal het.

Die R-koers verwys na die getal besmettings wat een mens veroorsaak. As dit hoër as een is, dui dit daarop dat infeksies deur ’n bevolking versprei.

Dr. Sibongile Zungu Foto: Jabulani Langa

Dit was vroeg in Desember meer as R1,5 en het in die eerste piek, toe besmettings die vinnigste gegroei het, op tussen R1,3 en R1,4 gestaan, volgens Cloete.

Die getal aktiewe gevalle in Kaapstad begin stabiliseer, sowel as in die Kaapse Wynlande en die Overberg, terwyl dit reeds in die Tuinroete begin daal nadat dié distrik vroeër sy piek bereik het.

Cloete sê daar is egter steeds ’n toename in die Weskus. Dié getalle sal na verwagting volgende week begin stabiliseer.

Tans is daar 3 323 pasiënte met Covid-19 in Wes-Kaapse hospitale, waarvan 1 889 in staatshospitale en 1 434 in private hospitale is. Dit sluit nie pasiënte in wat vir Covid-19 ondersoek word en waarvoor daar op toetsuitslae gewag word nie.

Kaapstad se hospitale het ’n gemiddelde besettingskoers van 93%, George 61%, die Paarl 74% en Worcester 73%, luidens die voorlegging.

Gevalle van Covid-19 en pasiënte wat daarvoor ondersoek word, maak 35% van hospitaalpasiënte in die metro en landelike distrikte uit.

Die Hospitaal van Hoop in Brackengate het 305 pasiënte, die Hospitaal van Hoop in Mitchells Plain het 92 en die Sonstraal-veldhospitaal in die Paarl het 60.

Tydelike tente is ook by die Khayelitsha-, Wesfleur-, Mitchells Plain-, Eersterivier-, Helderberg-, Karl Bremer- en Brackengate-hospitaal aangebring vir die ontslag van pasiënte om die omkeertyd vir beddens te verbeter.

By Brackengate is daar twee tente, onderskeidelik vir pasiënte wat ontslaan en opgeneem word.

Suurstofgebruik deur staatshospitale het in die tweede vlaag ’n piek van 46 ton per dag bereik, teenoor 27 ton per dag met die eerste piek en 12 ton per dag voor die koronaviruspandemie. Dit het daartoe gelei dat die suurstofvoorraad aangevul moes word omdat Afrox in die Wes-Kaap se maksimum produksievermoë 70 ton per dag is, sê Cloete.

Van die 8 088 gesondheidswerkers in die provinsie wat al Covid-19 gehad het, het 6 967 herstel en is 92 dood.

Dr. Keith Cloete Foto: Jaco Marais

Tans is daar 1 029 aktiewe gevalle, waarvan byna die helfte verpleegsters is.

Cloete sê die provinsie se inentingstrategie sal in drie fases plaasvind, met 100 000 mense wat in die eerste fase ingeënt sal word.

In die eerste fase word gesondheidswerkers, versorgers en mediese studente geteiken, waarna noodsaaklike werkers, mense ouer as 60 jaar en mense ouer as 18 jaar met onderliggende siektes, in fase twee geteiken sal word.

Die datums en die getal mense wat die entstof in die fases gaan ontvang, sal mettertyd bekend gemaak word. Intussen word daar op die regulasies vir die gebruik van entstowwe gewag.

Navorsers kyk ook na die doeltreffendheid van entstowwe teen die nuwe variant in Suid-Afrika en Cloete sê terugvoer word binnekort verwag.

Oos-Kaap

Dr. Sibongile Zungu, waarnemende hoof van die Oos-Kaapse departement van gesondheid, sê dié provinsie het sy piek in die week van 10 tot 16 Desember bereik en die aantal gevalle het sedertdien afgeneem, hoewel daar in die eerste week van Januarie meer gevalle as in die laaste week van Desember was.

Teen Dinsdag was daar 7 379 aktiewe gevalle in die Oos-Kaap en 1 705 gevalle in die hospitaal, waarvan 144 in die waak- en 64 in die hoësorgeenheid is.

In dié provinsie is daar kumulatief al 182 507 bevestigde gevalle aangemeld, waarvan 166 092 herstel het en 9 036 dood is.

Zungu sê die provinsie het teen 9 Januarie ’n herstelkoers van 91% gehad en ’n toetspositiwiteitskoers van 24%.

Sekere munisipaliteite soos Nelson Mandelabaai (37%) Chris Hani (33%) en Buffalo City (32%) het egter nog toetspositiwiteitskoerse bo 30%.

Terwyl die weeklikse getal gevalle afneem, bly dit hoog op meer as 100 gevalle per 100 000 van die bevolking. Die teiken is om dit tot onder 50 gevalle per 100 000 van die bevolking te bring.

Altesaam 9 249 gesondheidswerkers in die Oos-Kaap is al positief getoets en 161 is dood.

Die provinsie beoog om 3,7 miljoen mense ouer as 18 jaar in drie fases in te ent, met gesondheidswerkers, bejaardes en kwesbare mense eerste.

In die eerste fase gaan 200 000 mense die entstof ontvang, gevolg deur 1,5 miljoen in fase twee en twee miljoen in fase drie.

• Kyk die volle sitting van die portefeuljekomitee hier.


Meer oor:  Wes-Kaap  |  Piek  |  Covid-19  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.