Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Vrou (23) met breingewasse moet dringend operasie kry

Marlize Kriel (23), by wie Von Hippel-Lindau se siekte onlangs gediagnoseer is, word Maandag in die Dr George Mukhari-hospitaal in Ga-Rankuwa, Pretoria, geopereer om die gewasse op haar brein te verwyder.

Sy sou die operasie eers later ondergaan, maar die jong vrou van Witbank, Mpumalanga, se toestand het die laaste ruk drasties verswak.

Vroeër is berig dat sy en haar verloofde, Adam Viljoen (28), genoodsaak was om die spaargeld vir hul troue in Mei volgende jaar te gebruik vir mediese skanderings.

Marlize Kriel (23) sal Maandag ’n operasie ondergaan om die twee gewasse op haar brein te verwyder. Haar verloofde, Adam Viljoen (28), sê sy het die laaste ruk baie verswak. Foto: Verskaf

Von Hippel-Lindau se siekte is by Kriel gediagnoseer nadat sy sedert Februarie erge hoofpyne gekry het.

Dit is ’n oorerflike, seldsame genetiese siekte wat gekenmerk word deur siste en gewasse in verskeie orgaansisteme, het dr. Nico Enslin, ’n neurochirurg van die Rooikruis-kinderhospitaal en Mediclinic Constantiaberg, Kaapstad, vroeër gesê. Van hierdie gewasse kan ook later kwaadaardig word.

Met ’n MRI-skandering in April is daar opgemerk dat die vog op Kriel se brein nie dreineer nie en dat daar twee gewasse op haar brein is.

Daar is ’n groot gewas op die boonste oppervlak van die brein wat geopereer moet word en ’n kleiner gewas op die breinstam wat met bestraling vernietig kan word, het Viljoen vroeër gesê.

Sy het reeds ’n operasie in die Mediclinic Kloof-hospitaal in Pretoria ondergaan waar ’n toestel, bekend as ’n shunt, ingesit is om te help met die dreinering van die vog.

“Dit is ’n elektroniese toestel wat in die skedel geplaas word met ’n pypie wat na die blaas lei,” het Viljoen gesê.

Die vog het veroorsaak dat haar oë verkleur en skeefgetrek het.

Omdat die paartjie nie ’n mediese fonds het nie, het hul familie R150 000 ingesamel vir die operasie en hul trougeld vir die skandering gebruik.

Kriel het ná die operasie steeds hoofpyne gekry en het medisyne gebruik om dit onder beheer te bring.

Marlize Kriel en Adam Viljoen beplan om Mei volgende jaar te trou.Foto: Verskaf

Die paartjie wou die gewasse op haar brein in die Mediclinic Kloof-hospitaal laat verwyder, wat sowat R500 000 sou beloop.

Viljoen het ’n veldtog begin met BackaBuddy-skarefinansiering om geld in te samel vir sy verloofde se mediese sorg in ’n privaat hospitaal.

“Marlize se toestand het die laaste ruk egter verswak en haar medisyne is klaar. Haar linkerhand is dom en sy is baie van balans af, en haar kop en nek pyn,” sê Viljoen.

Sy sou die dokter by die Dr George Mukhari-hospitaal aanvanklik op 23 Augustus besoek om ’n skandering van haar rugmurg te laat doen.

Omdat Kriel só verswak het, het sy verlede week vir dié skandering gegaan by die Mediclinic Kloof-hospitaal, waarvoor haar ma, Bertie, betaal het.

“Gelukkig is daar geen gewasse op haar rugstring nie, maar sy moet dringend geopereer word. Sy sou Donderdag geopereer word, maar weens ’n ander noodoperasie word sy Maandag geopereer,” sê Viljoen.

Marlize Kriel (23) ná die operasie toe die dokters vir haar ’n toestel ingesit het wat sal help om die vog op die brein te dreineer.Foto: Verskaf

“Sy is nogal teleurgesteld daaroor.”

Hy sê Kriel is ook baie emosioneel nadat die dokter aan hulle verduidelik het dat dit ’n baie delikate operasie is.

“Die risiko’s is groot. Sy kan ’n virus opdoen of sy kan doodbloei, maar die dokter het gesê hy sal haar nie in gevaar stel nie,” sê Viljoen.

Kriel sal Saterdag in die Dr George Mukhari-hospitaal opgeneem word vir Maandag se operasie.

Die paartjie het sowat R40 000 van die publiek ingesamel.

Hoewel Kriel nie in ’n privaat hospitaal geopereer word nie, sal dié geld steeds vir ’n noodgeval ingespan word, sê Viljoen.

“Ons het nog nie aan dié geld geraak nie, maar sal moontlik daarvan gebruik om haar oor te plaas na ’n hospitaal nader aan ons. Ons stel reeds ondersoek in na ambulansdienste wat haar kan vervoer.”

Viljoen bedank elkeen wat tot dusver ’n bydrae gelewer het en wat vir hulle bid.

“Elke gebed is noodsaaklik,” sê hy.

Meer oor:  Gesondheid  |  Operasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.