Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Vrou vertel van hel in kraamafdeling

Sy is so hardhandig van ’n teaterbed na ’n hospitaalbed gegooi dat haar wonde met steke daarin begin bloei het.

Sy en haar baba moes boonop byna ’n dag lank in bloedbevlekte beddegoed en plasse bloed in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein lê. Dit is nooit skoongemaak nie.

Sy moes ook vir twee dae ’n swaar skottel water ente ver met die steke in haar wonde dra om te gaan was terwyl sy van die pyn gekreun het. Geen verpleegkundige was in sig om te help nie, sê Palesa Rateling (31) ’n maatskaplike werker by ’n bekende Engelse skool in Bloemfontein.

Palesa Raleting (31) en haar seun, Troy.Foto: Verskaf

Sewe maande ná die geboorte van haar seun, Troy, bars sy steeds in trane uit as sy praat oor die trauma wat sy deurgemaak het.

Sy moes met behulp van ’n keisersnee geboorte gee en moes daarna haar pasgebore baba telkens alleen op die bed los omdat daar niemand was om na hom te kyk nie.

Raleting sê dat sy boonop nie kos, water of sanitêre doekies ontvang het nie, en bitter min pynmedikasie. Net ’n paar los pille toe sy ontslaan is.

“Die eerste keer wat ek geëet het was toe my familie vir my kos in die hospitaal gebring het nadat ek geboorte gegee het.”

Sy beweer die afstootlike gedrag en onprofessionele optrede van die verpleegpersoneel wat geen “omgee” in hulle het nie en wat die verpleegberoep nie as ’n roeping beskou nie, het haar lewe ondraaglik gemaak.

Van die personeel het boonop gestaak.

Palesa Raleting (31), ’n maatskaplike werker van Bloemfontein, toe sy nog gedink het dit gaan wonderlik wees om geboorte te gee, sê sy. Foto: Verskaf

“Toe ons daar aangekom het, het een vir ons gesê: ‘Dit was lekker om die baba te maak, nè? Nou kom lê julle hier en huil.’

“My suster, die pa van my kind en ander familielede is uit die hospitaal verjaag “omdat hulle soos veiligheidsbeamptes kom rondstaan”.

“My suster moes voor die geboorte ’n kombers insmokkel want dit was verskriklik koud en daar was nie beddegoed of verwarmers nie. Daar is heeltyd op my suster geskree.”

Sy sê sy is aanvanklik op 1 Junie 2018 in die Nasionale-hospitaal in Bloemfontein opgeneem waar die verpleegkundiges haar nie gegroet het nie en hulle baie onvriendelik was.

“Daar is net gevra: ‘Wat is jou probleem?’”

Later is sy na Pelonomi oorgeplaas omdat daar nie operasies oor naweke in die Nasionale-hospitaal gedoen word nie.

Sy moes tot die volgende dag sonder kos of water in die kraamafdeling van Pelonomi lê sonder dat daar aan haar verduidelik is wanneer die keisersnee gedoen sou word. Ander noodgevalle is voor haar ingedruk.

’n Getraumatiseerde Palesa Raleting het aanmekaar gehuil toe sy van haar hel in die kraamafdeling van die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein vertel het. Foto: Katleho Mokuena

“Ek het later gedink ek gaan van honger en dors sterf. ”

Palesa sê daar is ook ’n kateter vir haar ingesit, maar toe dit vol was, wou niemand dit leegmaak nie. Dit het later tot nierinfeksie gely.

“Dit was eers op 3 Junie dat ek om 03:45 teater toe geneem is waar my baba om 04:40 gebore is.

“Ek is net uit die teater gestoot en moes self soebat dat ’n vreemdeling my terug saal toe neem.”

Palesa Raleting verduidelik haar nagmerrieondervinding in die kraamafdeling van die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein. Foto: Katleho Mokuena

Sy sê sy het om 09:00 met borsvoeding begin, maar daar was niemand om haar te leer nie.

“Die verpleegpersoneel wou ook nie sanitêre doekies aan ons gee nie en het telkens op ons geskree dat ons dit nie mag misbruik nie.”

Sy sê sy het kort ná die voorval aan die Vrystaatse gesondheidsdepartement geskryf en moes vier maande ná die geboorte voor ’n paneel verskyn. Daar het daarna nog niks gebeur nie. “Niemand het na my teruggekom soos wat beloof is nie.”

* Mondli Mvambi, woordvoerder van die gesondheidsdepartement, sê ’n volledige ondersoek sal deur die kliëntediensafdeling van die hospitaal gedoen word.

“Dit het sewe maande gelede gebeur. Ons sal eers moet vasstel waarom die probleem ontstaan het en wat presies gebeur het.”

Palesa Raleting Foto: Katleho Mokuena
Meer oor:  Pelonomi-Hospitaal  |  Bloemfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.