Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Covid-19: Hospitale in Bloem onder druk

'n Pasiënt wat nie haar naam genoem wil hê nie, is Donderdagaand by die Mediclinic Bloemfontein en die Life Rosepark-hospitaal na 'n dagkliniek verwys, en daar is aan haar gesê dit is omdat daar geen beddens meer vir Covid-19-gevalle beskikbaar is nie.

Sy is daarna in die Sterling-daghospitaal in Langenhovenpark opgeneem.

Dit kom te midde van 'n kommerwekkende styging in die getal nuwe Covid-19-gevalle in die provinsie.

Die Vrystaat het luidens Donderdag se verslag van die nasionale departement van gesondheid meer as 400 nuwe Covid-19-gevalle aangemeld.

Die gevalle het van Woensdag tot Donderdag met 446 gestyg.

Die vorige dag is daar ook meer as 400 nuwe gevalle aangemeld, waarvan 60 nog aan distrikte toegewys moet word.

Boshof se getalle het volgens inwoners skielik die hoogte ingeskiet.

“Gister is die derde begrafnis weens Covid-19 uit die NG gemeente Boshof gehou,” sê ’n inwoner wat anoniem wil bly.

'n Covid-19-pasiënt in die Mediclinic Bloemfontein. Foto: Argief

Barbara Steenkamp, woordvoerder van die Mediclinic Bloemfontein, het Vrydag gesê die hospitaal is baie vol, en dat hulle ’n hoë besetting van beddens het, maar dit is nie weens Covid-19 nie, maar alle tipes gevalle.

Maar, sê sy, hulle het teen Vrydagoggend 52 Covid-19-pasiënte gehad, van wie 35 in sale en 17 in die waakeenheid is. Van die 17 word 13 mense geventileer.

“Dit verander mos daagliks, maar ons het hier en daar plek vir ’n Covid-19-pasiënt.”

Hulle plaas die pasiënte uit wat hulle kan en neem net Covid-19-pasiënte in wat “regtig in nood verkeer”.

Hanika Struwig, bemarkings- en kommunikasiebestuurder van die Life Rosepark-hospitaal, sê met die derde vlaag wat getref het, is hul bedbesetting “definitief onder druk”.

“Dit is interessant dat die Vrystaat skielik aan die voorpunt is.”

Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaat se gesondheidsdepartement, sê van die meer as 400 nuwe gevalle wat Woensdag aangemeld is, was 200 in Mangaung, 95 in Lejweleputswa en 21 in Xhariep.

“Ons vra dat ons gemeenskappe na hulself omsien en alle nie-farmaseutiese Covid-19-maatreëls volg, want daar is geen kuur vir Covid-19 en al sy ontluikende muterende variante nie.”

Dit is interessant dat die Vrystaat skielik aan die voorpunt is

Hy sê dié provinsie se vermoë om mense te behandel, kan onnodig gestrem word weens ’n onwilligheid om die maatreëls te volg.

“Ons sien oor die wêreld heen geen gesondheidstelsel kan die hoë syfers en vraag na suurstof en intensiewe sorg hanteer nie.”

Hy moedig Vrystaters aan om op die EVDS-stelsel te registreer vir inenting. Mense van 60 jaar en ouer kan nou registreer.

Mense kan op hul skootrekenaar of slimfoon registreer by https://vaccine.enroll.health.gov.za/, of *134*832# skakel. Mense kan ook ’n WhatsApp stuur na 0600 123 456.

Meer oor:  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.