Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Vrystaat reg met water, dienste

Die Vrystaatse provinsiale regering is gereed om in die tydperk van inperking nog water na die mense van die provinsie te bring en om die vullisverwyderingsdiens te verskerp.

So sê Skully Nxangisa, Vrystaatse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake.

Verder word lede van die weermag ook reeds ontplooi om toe te sien dat mense in dié tyd in hul huise bly en net uitgaan om noodsaaklikhede te gaan koop soos kos of medisyne.

Nxangis sê 56 vragmotors vol water sal in die volgende drie weke aan die droogtegeteisterde gebiede van Qwaqwa gelewer word. Mense sal ook nou twee keer per dag, pleks van net een keer, by boorgate kan gaan water haal.

Hy sê watertenkwaens sal ook twee keer per dag water bring aan gebiede in die Vrystaat waar mense nie water het nie.

Hulle sal sorg dat geen kragonderbrekings in munisipaliteite plaasvind nie sodat pompe water kan pomp. “Beurtkrag word deur Eskom beheer, en ons kan nie daaroor besluit nie,” sê hy.

Die verwydering van vullis gaan in die volgende 21 dae by al die Vrystaatse munisipaliteite verskerp word.

Hy sê die verwydering van vullis gaan in die volgende 21 dae by al die Vrystaatse munisipaliteite verskerp word.

Waar die emmerstelsel nog in veral Botshabelo, Thaba Nchu en in Qwaqwa gebruik word, sal emmers gereeld skoongemaak word, terwyl die VIP-toilette ook meer gereeld gediens gaan word.

Nxanisa sê die regering gaan voorts humanitêre dienste lewer aan inwoners in informele nedersettings, al bly die inwoners op stukke grond wat nie aan hulle toegedeel is nie. “Ons sal vir hulle dienste soos water en vullisverwydering bring.”

Mariëtte Pittaway, DA-lid in die Vrystaatse wetgewer en die party se woordvoerder oor gesondheidsake, sê hulle is bekommerd oor mense se toegang tot water.

Ander probleme wat in dié tyd kan opduik, is die gebrek aan medisyne by klinieke soos dié vir diabetes.

Sy sê sy is beïndruk met die wyse waarop dr. David Motau, hoof van die departement van gesondheid in die Vrystaat, die saak benader om die verspreiding van die koronavirus te probeer keer.

Hy is innoverend en het homself daartoe verbind, maar die publiek sal moet help.

Sy sê nie al die verpleegkundiges by klinieke is al opgelei om korona-pasiënte te hanteer nie.

Armand Cloete, VF Plus-LP, sê die voorbereidings vir die inperking in die Vrystaat soos die res van die land, staan onder leiding van die provinsiale bevelsraad.

Toegang tot water, veral in informele nedersetting, is een van die grootste uitdagings in die Vrystaat.

Dié raad word gelei deur die Vrystaatse premier, Sisi Ntombela, en Kapung Ralikontsane, direkteur-generaal van die provinsiale regering, LUR’e en departementshoofde asook verteenwoordigers van alle politieke partye in die wetgewer is betrek.

“Ons het Vrydag vergader en Maandagoggend moes die departementshoofde ’n plan van aksie op die tafel sit van hoe dit gaan werk met die inperking.”

Cloete sê hy is bekommerd dat min planne Maandag op die tafel gesit kon word, terwyl dr. Zweli Mkhize, nasionale minister van gesondheid, aangekondig het dat daar Woensdag reeds 33 positiewe gevalle in die provinsie was.

Die provinsiale bevelsraad sou weer Woensdag vergader het om terugvoer te gee oor wat alles in plek is.

Hy stem saam dat toegang tot water, veral in informele nedersetting, een van die grootste uitdagings in die Vrystaat is.

Nxangisa het op ’n vraag gesê Bloemwater sal ná gesprekke met die regering nie meer water van Mangaung ontkoppel nie. Die Mangaung-metro skuld Bloemwater glo R760 miljoen, maar die metro betwis ’n gedeelte van die bedrag.

Ralikontsane het gesê die premier hou Donderdag om 14:00 by Vrystaathuis ’n mediakonferensie om presies te sê hoe gereed die Vrystaat vir die 21 dae van inperking is.

Pieter Lotriet, DA-raadslid van die Mangaung-metro, sê hy glo die regering gaan die beste binne sy vermoë doen. “Of dit goed genoeg gaan wees om die maatreëls op te dwing en die verspreiding stop te sit, is ’n ope vraag.

“Dit is hoekom selfdissipline van deurslaggewende belang gaan wees. Ek vrees ’n maatskaplike ineenstorting as die provinsie nie gaan omsien na die armstes van armes nie. Dit kan ’n tydbom wees. Daar is niks so gevaarlik soos mense wat niks het om te verloor nie.

“Omgee is vreeslik belangrik. Die Vrystaatse regering gaan dit nie op sy eie deurgetrek kry nie. Almal se hulp is nou nodig om die verspreiding van die siekte te stop.”

Adv. Mzhwake Mofokeng, administrateur van die Mangaung-metro, sê in tyd van inperking sal noodsaaklike munisipale dienste soos water, elektrisiteit, riool en vullisverwydering so goed as moontlik in Bloemfontein en omliggende dorpe in die metro-gebied gelewer word.

Meer oor:  Vrystaat  |  Water  |  Korona  |  Vullisverwyderingsdiens  |  Dienste  |  Inperking  |  Covid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.