Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Vrystaat se ‘skokkende’ Covid-19-syfers oud, sê LUR
Mariëtte PittawayFoto: Argiewe

Die DA het sy kommer uitgespreek omdat die Vrystaat oënskynlik die provinsie met die tweede meeste aktiewe Covid-19-gevalle is, maar die LUR vir gesondheid sê dié kommer is op verouderde statistieke gegrond.

Mariëtte Pittaway, DA-wetgewerlid belas met gesondheidsake, sê in ’n nuusverklaring die Vrystaat het op 20 September 14 044 aktiewe gevalle gehad, vergeleke met Gauteng, wat die meeste gevalle het, se 20 187 en Limpopo (die minste) se 788.

Sy sê dit is rede tot groot kommer omdat die Vrystaat daarvolgens die tweede meeste aktiewe gevalle in die land het, terwyl die provinsie die tweede minste mense in die land het. Die Noord-Kaap, met die minste inwoners, het 3 500 aktiewe Covid-19-gevalle.

Pittaway sê pres. Cyril Ramaphosa het onlangs ’n nasionale herstelkoers van 89,2% vir Suid-Afrika voorgehou. Dit is ver hoër as die wêreldwye koers van 73%.

“Maar op 20 September het die Vrystaat 44 037 Covid-19-gevalle gehad van wie 29 049 herstel het, wat ’n 65%-herstelkoers is. Die Vrystaat bly ver onder sowel die nasionale as die wêreldwye herstelkoers.”

Montseng Tsiu, Vrystaatse LUR vir gesondheid, sê egter dié data is verouderd. Daar word nou saam met klinieke en distrikte gewerk om die statistieke op datum te bring.

“Ons gebruik ’n nuwe stelsel, Go Data, om die data van die Vrystaat te verwerk.”

Die vars data sal aantoon dat daar nie so baie aktiewe gevalle is nie en dat die getal mense wat herstel baie meer is as wat die verouderde statistieke laat blyk.

Tsiu sê verder moet onthou word dat die Vrystaat sy piek baie later as die meeste ander provinsies gehad het, en dat mense nog herstel.

Daar is egter steeds daagliks meer as 100 nuwe gevalle in die Vrystaat, wat beteken dat die provinsie nog baie hard sal moet werk.

Pittaway sê intussen het dit ook aan die lig gekom dat 101 van die 105 kwarantynbeddens in die Fezile Dabi-distrik (Noord-Vrystaat) leegstaan en dat slegs 108 van die 195 kwarantynbeddens in Lejweleputswa (Wes-Vrystaat) gebruik word.

Montseng TsiuFoto: Argiewe

Pittaway sê die distrikte het ’n hoë voorkoms van Covid-19 en die onderbenutte kwarantyn-geriewe dra tot die lae herstelkoers in die Vrystaat by.

“Die DA het op 9 September vrae aan die LUR gerig oor die kommerwekkende statistieke en die onderbenutting van kwarantyn-geriewe in die Vrystaat, maar sy het nie hierop geantwoord nie,” sê Pittaway.

Sy sê in sterk kontras hiermee is die Wes-Kaap onder DA-leiding lof toegeswaai omdat die Wes-Kaap se beslissende leierskap ’n groot rol gespeel het om die Covid-19-besmettings laag te hou.

Die DA in die Vrystaat sal steeds druk op die LUR toepas om te verseker dat die Vrystaters die gesondheidsorgdienste kry wat hulle verdien.

* Tsiu sê die statistieke in die provinsie sal binne ’n week of twee op datum wees.

Sy sê baie Vrystaatse hospitale staan leeg sonder Covid-19-pasiënte omdat toestande al heelwat verbeter het en die uitbreking ook nie so erg was soos wat verwag is nie.

Meer oor:  Mariëtte Pittaway  |  Koronavirus  |  Da  |  Verouderde Statistiek  |  Anc  |  Syfers  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.