Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
VS-Kunstefees dalk uitgestel oor virus

Die Vrystaat Kunstefees, wat jaarliks duisende mense na die UV-kampus met Bloemfontein se wintervakansie lok, sal moontlik na die tweede helfte van die jaar geskuif word.

So sê dr. Ricardo Peach, direkteur van die kunstefees na aanleiding van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees wat Saterdag weens die Covid-19-virussiekte gekanselleer is.

Die Vrystaat Kunstefees se raad sal Woensdag vergader oor ander datums wat die universiteit sal pas.

Prof. Prakash Naidoo, viserektor: bedryf, is nog altyd die fees goedgesind en hy glo hy sal hulle tegemoetkom, sê Peach.

Hoewel almal “geskok” is oor die KKNK wat afgestel is, het Peach dit verwag.

“Ons het gesien wat gebeur in Europa en elders en ons het ’n verantwoordelikheid teenoor die samelewing om die regte ding te doen.”

Hy sê die raad is reeds vir weke besig om stappe uit te werk.

“Dit is eintlik onmoontlik om dit op die gewone datum (29 Junie tot 5 Julie) te hou.”

Die land se kunstefees-forum sal ook eersdaags vergader om maniere te bespreek om die bedryf aan die gang te hou, sê hy.

“Een fees is afhanklik van die volgende fees. Die kunstefeeste leef in ’n totale simbiose.”

Dit is volgens hom ’n enorme terugslag vir kunstenaars se inkomste.

Jakkie Louw het Saterdagaand by die Laerskool Sand du Plessis se Droogtehulpfees opgetree. By hom is Janine Cronje en Christine Trollip. Foto: Cheréne Pienaar

Die sanger Jakkie Louw sê hy verloor minstens R70 000 met die KKNK wat weens die virus afgestel is. Hy het Saterdag by Laerskool Sand du Plessis vir die Droogtehulpfees opgetree.

Net sowat 30 mense het by die skool se sopnat rugbyveld opgedaag nadat dit Vrydag goed gereën het.

Daleen Joubert van Uitsig sê Bloemfonteiners het teleurgestel.

Dit is nie oor die virus wat hulle weggebly het nie, sê sy.

“Want die virus is nie hier nie.”

Danie du Toit, hoofsanger van die immergewilde groep Spoegwolf, sê hulle is nie bekommerd oor die virus nie.

“Die koronavirus is glad nie vir ons ’n probleem nie en ons sal aanhou speel solank as wat ons kan.”

Hy glo die hele histerie oor die virus is ongegrond en mense oorreageer.

“Dit is nie nodig om nou al vertonings te kanselleer nie.”

Die komediant Schalk Bezuidenhout sê hy is nie ’n kenner in virologie nie, maar hy vertrou die bestuur van feeste om ’n ingeligte besluit te neem.

“Ek, en meeste kunstenaars wat ek ken, sal steeds wil optree, maar ons glo die bestuur tree in die beste belange van almal betrokke op.”

Meer oor:  Bloemfontein  |  Kunstefees  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.