Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Vyf van Alex in kwarantyn

Vyf mense van Alexandra in Johannesburg is onder kwarantyn geplaas nadat hulle in kontak was met ’n man wat in ’n taxi na Limpopo gereis het nadat hy reeds positief vir die virussiekte Covid-19 getoets het.

So het die Gautengse departement van gesondheid Maandag gesê. Die man, wat oorspronklik van Limpopo is, is dus ook die eerste bevestigde geval in dié digbevolkte township.

Die 30-jarige man is in isolasie in die TB-hospitaal in Modimolle. Hy het in Gauteng positief getoets en ten spyte daarvan verlede week na Limpopo gereis. Hy is Vrydagaand in Tzaneen in hegtenis geneem.

“Amptenare stel nog vas met wie hy (nog) in kontak was om hulle te toets,” sê dr. Phophi Ramathuba, LUR vir gesondheid in Limpopo.

Meer as 200 mense is ook Maandag op dag 4 van die nasionale staat van inperking in Noordwes in hegtenis geneem weens die oortreding van inperkingsregulasies.

Sodra iemand vermoed dat hulle Covid-19 het en die wet gehoorsaam en hulself isoleer, kan die verspreiding van die siekte gekeer word.

Hulle is onder meer vasgetrek weens versuim om in hul woonplekke te bly, reis tussen munisipale en distriksgebiede of omdat hulle voorgegee het hulle is met Covid-19 besmet. Ander is in hegtenis geneem omdat hulle geweier het om drankpersele te sluit of omdat hulle in groepe byeenkom­, sê Noordwes se departement van openbare veiligheid.

Intussen is Noordwes se gesondheidsdepartement van plan om kwarantyngeriewe in hotelle in te rig en hulp van private hospitale te kry om seker te maak daar is genoeg kwarantynbeddens, hoësorggeriewe en ventilators beskikbaar indien die aantal Covid-19-besmettings in die provinsie toeneem.

Tebogo Lekgethwane, woordvoerder van Noordwes se gesondheidsdepartement, sê daar is vier gevalle in Rustenburg, een in Mahikeng en een in Bloemhof.

Nie een van hulle is ernstig siek nie en almal behalwe een is in selfisolasie tuis.

Lekgethwane erken dit is moeilik om genoeg beskermende drag, soos handskoene en gesigmaskers, vir gesondheidspersoneel te kry en sê die publiek is aandadig daaraan deurdat hulle voorrade uitput.

In Limpopo het slegs een van die 13 Covid-19-pasiënte moontlik by iemand binne die provinsie se grense aangesteek.

Ramathuba sê die res van die mense het almal in die buiteland gereis.

Die 28-jarige dokter van Mankweng wat meer as twee weke gelede positief vir Covid-19 getoets het nadat hy in Frankryk en Nederland was, het ná 14 dae in selfisolasie negatief getoets.

“Dié geval moet die publiek ook hoop gee. Sodra iemand vermoed dat hulle Covid-19 het en die wet gehoorsaam en hulself isoleer, kan die verspreiding van die siekte gekeer word,” sê Ramathuba.

Intussen is die toetsuitslae van Polly Boshielo, LUR vir onderwys, en Thandi Moraka, LUR vir sport, kuns en kultuur in Limpopo, wat in kontak was met Cecilia Molokwane, president van Netbal Suid-Afrika wat positief vir Covid-19 getoets het, negatief. Almal met wie hulle in aanraking was, is ook reeds opgespoor en het negatief getoets.

Stan Mathabatha, premier, maan inwoners om gehoor te gee aan die nasionale inperking.

Verreweg die meeste van Limpopo se 6 miljoen inwoners is arm en woon in afgeleë landelike gebiede. ’n Groot aantal mense is MIV-positief, wat hulle kwesbaarder maak.

Maandag is LUR’e in Limpopo na betaalpunte van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) ontplooi om te kyk dat sake glad verloop.

Nkakareng Rakgoale, LUR vir maatskaplike ontwikkeling, was onder meer by die poskantoor in Lenyenye buite Tzaneen, waar bejaardes 1 m uit mekaar op plastiekstoele op die uitbetaling van hul Sassa-geld gewag het.

Inisiasieskole is ook reeds in Limpopo verbied.

In Mpumalanga, waar nege Covid-19-gevalle aangemeld is, is die tradisionele inisiasie-tydperk vir jong seuns opgeskort.

Mandla Msibi, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, sê dit is gedoen om die verspreiding van die virus te beperk en pleit dat tradisionele leiers­ die opskorting moet gehoorsaam. Hy sê hy is dankbaar dat die provinsiale huis van tradisionele leiers alle kulturele seremonies uitgestel of afgestel het.

Inisiasieskole is ook reeds in Limpopo verbied.

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse onderwysdepartement, het Maandag gesê dit is nog nie nodig om skoolkoshuise te gebruik om hawelose mense ten tyde van die staat van inperking te huisves nie, berig Dennis Delport.

Dit nadat Panyaza Lesufi, waarnemende Gautengse LUR vir maatskaplike ontwikkeling, verlede week gesê het die provinsie se hawelose mense sal by staatskole gehuisves word. – Marietie Louw-Carstens, Susan Cilliers en Bonolo Selebano

Meer oor:  Isolasie  |  Inperking  |  Kwarantyn  |  Alexandra  |  Johannesburg  |  Koronavirus  |  Virus  |  Covid 19-Virus  |  Koronavirussiekte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.