Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
W-Kaap betree piek met genoeg beddens, sê Winde

Die Wes-Kaap gaan die piek van sy Covid-19-infeksies in die laaste week van Junie en die eerste week van Julie binne, sê die premier, Alan Winde.

Dr. Nomafrench Mbombo, LUR vir gesondheid. Foto: Edrea du Toit

Die piek kan selfs langer wees en tot drie of vier weke duur, maar hopelik sal die aantal nuwe gevalle daarna begin afneem, het Winde op ’n aanlyn mediavergadering van die provinsiale regering gesê.

“Ons gaan voort om die data na te gaan en te hersien om ons modelle by te werk en vra ook hulp van buite. Ons is voorbereid en is steeds besig om verder gereed te maak sodat daar ’n voldoende reaksie deur openbare gesondheid is.”

Winde sê dit is ook noodsaaklik om namate die ekonomie en die skole verder heropen word die infeksiekurwe so plat as moontlik te hou.

Die provinsiale departement van gesondheid het aangedui dat sy kapasiteit vir beddens in hospitale en waakeenhede nog nie oorskry is nie, terwyl duisende beddens steeds in plekke van kwarantyn en isolasie beskikbaar is.

Die beskikbaarheid van hospitaalbeddens word deurlopend gemonitor en is daar “snellerpunte” gestel wat afgaan namate die kapasiteit bereik word.

Met die uitwissing van die agterstand met toetsing in die provinsie en bykomende kapasiteit wat aanlyn gaan kom, kan die kriteria vir toetsing hersien en moontlik verslap word om wyer toetsing toe te laat.

Dr. Nomafrench Mbombo, LUR van gesondheid, het benadruk dat kwarantyn en afsondering deel is van die ingrypings om die verspreiding van die virussiekte te keer.

“Daarom is sy bekommerd dat dié geriewe onderbenut word en selfs minder as 50% van dié beddens beset is. Ons moet verstaan waarom mense dit nie wil gebruik nie en ook begrip daarvoor hê dat dit oorweldigend kan wees om hul families agter te laat.”

Woensdag was daar 4 766 beddens in kwarantyn- en isolasiegeriewe, waarvan 3 760 beskikbaar is.

Shane Hindley van die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke het in ’n voorlegging gesê teen Woensdag was daar 4 766 beddens in kwarantyn- en isolasiegeriewe, waarvan 3 760 beskikbaar is.

Die geriewe in staatsbesit sluit vyf in die Kaapse Wynlande-distrik, vier in die Kaapstadse metropool, een in die Tuinroete, een in die Overberg en vier in die Weskus in.

Dit kom neer op 2 220 beddens, waarvan 177 beset is.

Die geriewe in private besit sluit in vyf in die Kaapse Wynlande, 13 in Kaapstad, sewe in die Overberg en twee in die Weskus. Dit kom neer op 2 546 beddens, waarvan 829 beset is.

Slegs 21% van die beddens in plekke van kwarantyn en isolasie in die provinsie word tans gebruik, luidens Hindley se voorlegging.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, op ’n besoek aan die tydelike hospitaal in die Kaapstad Internasionale Konferensiesentrum (Kiks). Foto: Jaco Marais

Nog beddens kan ook vinnig in diens gestel word indien ’n tekort ontstaan.

Dr. Saadiq Kariem, bedryfshoof van die provinsiale departement van gesondheid, het gesê daar is tans ’n gemiddeld van meer as 60 Covid-19-sterftes per dag in die provinsie. Daar is op die oomblik meer as 1 700 mense met die siekte in hospitale, van wie 250 in waakeenhede.

“Ons verwag dat daar nou voortdurend ’n uiters hoë vraag na ons dienste sal wees.”

Tans word 19 sentrums vir toetsing en sifting van pasiënte in die provinsie gebruik, waarvan 15 in Kaapstad is.

Nog 16 word gebou of is pas voltooi, waarvan 14 in die metrogebied teen 1 Julie in diens gestel gaan word en twee in die platteland voltooi is.

Daarby word nog 24 van dié sentrums beplan.

Tydelike geriewe vir massasterftes word ook teen 1 Julie by die Tygerberg-hospitaal in samewerking met die Kaapstadse metroraad aangebring. Dit sluit 12 koelkaste in.

Die provinsie het 2 170 bykomende hospitaalbeddens verskaf met die uitbreiding van hospitale en tydelike geriewe wat ingerig is.

Die tydelike hospitale vir matige gevalle sluit in die Kaapstad Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) met 862 beddens en 230 pasiënte tans, terwyl 176 mense al ontslaan is sedert dit geopen is.

Kariem het bevestig dat 13 sterftes al in dié tydelike hospitaal aangemeld is.

Verder is daar planne vir nog 32 beddens in Hermanus, 20 in Vredendal en 20 in George.

Die Thusong-sentrum in Khayelitsha het ook 60 beddens en 25 mense wat tans opgeneem is, met 63 wat al ontslaan is.

Verder is daar planne vir nog 32 beddens in Hermanus, 20 in Vredendal en 20 in George.

Die tydelike hospitaal in Brackengate met 330 beddens gaan op 10 Julie die eerste pasiënte ontvang en die Sonstraal-hospitaal in die Kaapse Wynlande kan teen die eerste week van Julie 63 van sy 150 beddens beskikbaar stel.

Volgens Kariem het die bykomende waakeenheidbeddens in die private sektor ’n aansienlike uitwerking op hospitale gehad en die druk verlig sodat die aantal pasiënte steeds “bestuurbaar” is. Die gebruik van steroïdes en hoë-vloei-suurstof het ook ’n groot verskil gemaak.

Die bestaande kapasiteit vir kritiekesorgbeddens, wat die waak- en hoësorg-eenheid insluit, is 90 tot 100 beddens, met nog 300 beddens wat by die private sektor aangekoop gaan word.

Diensvlakooreenkomste met die private sektor word afgehandel, terwyl die provinsiale regering die operasionele vereistes nagaan en riglyne voorberei het.

Bykomende kapasiteit vir toetsing word ook verkry met die hulp van die private sektor en universiteite, terwyl nog laboratoriums in die provinsie geakkrediteer word.

covid-19, 25 junie
Meer oor:  Alan Winde  |  Piek  |  Voorbereiding  |  Koronavirus  |  Koronapiek  |  Genoeg Beddens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.