Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, het Dinsdag gesê die provinsie is gekant teen die instel van nog ’n inperking om die verspreiding van Covid-19 te stuit.
“Ek is meegedeel dat die nasionale Covid-19-bevelsraad vandag vergader het om die toename in infeksies in sommige provinsies, waaronder die Wes-Kaap, te bespreek,” het Winde in ’n verklaring gesê.
“Dit sal gevolg word deur ’n vergadering van die presidensiële koördineringsraad, waartydens die president oorleg pleeg met die nege premiers,” het hy gesê.
Volgens Winde oorweeg die Wes-Kaapse regering en plaaslike regerings in die provinsies hul eie plaaslike ingrypings en beperkings om die verspreiding van Covid-19 te bekamp. Die reaksieplan sal Donderdag bekend gemaak word.
“ ’n Inperking sal rampspoedig wees vir ons ekonomie en sal werkverliese en ’n humanitêre ramp veroorsaak, en moet tot elke prys voorkom word,” het hy gesê.
’n Inperking sal rampspoedig wees vir ons ekonomie en sal werkverliese en ’n humanitêre ramp veroorsaak, en moet tot elke prys voorkom word.
Volgens Winde is drie dinge noodsaaklik om ’n oplewing van die virus te beveg en dit is om groot saamtrekke, beperkte ruimtes en noue kontak te vermy.
“Ons het gesonde verstand en plaaslike ingrypings nodig om te verseker dat die gesondheidsorgstelsel beskerm word en ons die verspreiding van Covid-19 stuit, terwyl die ekonomie so oop as moontlik gehou word. Hierdie ingrypings moet op die jongste wetenskaplike feite gegrond wees,” het Winde gesê.
Die Suider-Afrikaanse Alkoholbeleidsalliansie het die regering Dinsdag versoek om beperkings op alkohol voor die feestyd in te stel.
Volgens Maurice Smithers, direkteur van die alliansie, verminder die gebruik van alkohol mense se vermoë om Covid-19-protokolle na te kom.
“Die land is in gevaar. Ons boodskap is dat daar iets aan gedoen moet word,” het Smithers gesê.