Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
W-Kaap ‘nou in 3de vlaag’ met meer as 9 800 gevalle

Die Wes-Kaap is nou amptelik in die derde vlaag van koronavirusinfeksies met 9 826 aktiewe gevalle.

Meer as 1 000 nuwe gevalle is die afgelope 24 uur aangemeld, is vroegaand op die provinsiale regering se Covid-19-inligtingspaneel bekend gemaak.

Die aktrise Annelize van der Ryst, bekend vir haar rol as matrone Netta Nortje in die sepie ‘7de Laan’, word Donderdag by die Huis McCrone-kliniek in Wellington teen Covid-19 ingeënt. Foto: Alan Winde/Facebook

“Ons sien die toenames,” het Alan Winde, Wes-Kaapse premier, Donderdag op sy weeklikse digitale nuuskonferensie gesê. “Daarom moet ons altyd waaksaam wees. Ons het dit vantevore gedoen en kan dit weer doen.”

Op die vraag wanneer die derde vlaag se piek verwag word, het dr. Keith Cloete, hoof van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, verduidelik gedurende die tweede vlaag is daar na ander plekke gekyk vir aanduidings. Vir die derde vlaag word byvoorbeeld gekyk na wat in Gauteng en ander Suid-Afrikaanse provinsies gebeur. Die Wes-Kaap is sowat twee tot drie weke agter Gauteng in die derde vlaag en daar is ook variante om in ag te neem.

Cloete sê rofweg word dit geskat op ses tot agt weke, maar daar moet na alle tekens gekyk word. Dit neem ook weer vier of vyf weke vir die getal gevalle om weer af te neem.

Nog kundiges wat genader is, soos prof. Glenda Gray, president van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, sê dit is moeilik om te sê presies wanneer die piek sal wees.

Prof. Wolfgang Preiser, hoof van die afdeling mediese virologie aan die Universiteit Stellenbosch (US), sê onder meer hy dink nie iemand kan so ’n raaiskoot waag nie. Dié keer is die Wes-Kaap agter Gauteng (anders as in die vorige twee vlae), maar dis onduidelik hoe ver agter, volgens hom. Alles is baie spekulatief en as voorsorgmaatreël is dit waarskynlik die beste om aan te neem die Wes-Kaap sal so hard getref word soos Gauteng en dat die provinsie se gesondheidstelsel so voorbereid is as wat dit kan wees.

covid-19

Winde sê meer as 1 000 Covid-19-pasiënte is tans in private en openbare hospitale in die Wes-Kaap en daar was ’n week-tot-week-toename van  20% in nuwe gevalle. Die persentasie koronavirustoetse wat positief is, het ook toegeneem en was Maandag 20,6%. Daar sterf tans gemiddeld 13 mense per dag aan Covid-19.

Daar is orals toenames in infeksies – in die metro-gebied, asook landelike gebiede. Cloete is ook bekommerd oor die toename in traumagevalle by hospitale op Saterdae en Sondae en soms ook op Maandae, en vir die tyd wanneer traumagevalle met Covid-19-gevalle gaan begin meeding om beskikbare hospitaalbeddens. Baie van die traumagevalle is interpersoonlike geweld wat voorkom kan word, volgens hom.

Die Wes-Kaap ervaar tans ’n tekort aan entstof, wat sy inentingsplan beïnvloed. Hy kon tot nou toe nie sy teiken van 120 000 inentings per week bereik nie.

Dit volg op die aankondiging van die Amerikaanse voedsel-en-medisyne-owerheid dat 60 miljoen dosisse van Johnson & Johnson (J&J) se entstof weggegooi moet word, en die daaropvolgende aankondiging deur die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad (Sahpra) dat 2 miljoen dosisse wat in die Aspen-aanleg in Gqeberha in die Oos-Kaap vervaardig is, ook weggegooi moet word.

Op 24 Junie sal die Wes-Kaap ’n geskatte 140 000 Pfizer-dosisse ontvang, wat die inentingsprogram ’n hupstoot sal gee. Daar word ook gehoop dat die aankoms van meer J&J-enstof sal help.



Pandemie en skole

Oor die voorkoms van koronavirusinfeksies in skole sê Kerry Mauchline, woordvoerder vir Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys, dat die syfers eers weer Maandag opgedateer word. Tans is daar 314 aktiewe gevalle onder leerlinge, 135 gevalle onder onderwysers en 13 gevalle onder ander personeel wat nie met onderrig gemoeid is nie.

Mauchline het navrae oor verskeie individuele skole aan die onderskeie distrikskantore gerig.

By die Hoër Jongenskool Paarl is daar tans 21 aktiewe gevalle onder personeellede en 30 onder leerlinge. Die skool word tans daagliks drie keer ontsmet en alle Covid-19-protokols word nagekom. Leer en onderrig is nie ontwrig nie.

Die hoof van die Wes-Kaapse departement van onderwys het toestemming gegee dat die Hoërskool Parel Vallei vir twee dae gesluit word en Maandag heropen. Dit kom nadat sewe onderwysers en 30 leerlinge positief getoets is. Die skool word ontsmet.

By die Laerskool Wynland in Worcester is daar sedert 1 Junie ses gevalle onder personeel by die skool aangemeld. Die skool het volgens Mauchline protokols gevolg en is ontsmet.

By die Laer Meisieskool La Rochelle in die Paarl is tans drie leerlinge en een algemene assistent positief getoets. Covid-19-protokols word streng gevolg en alle leer- en ander skoolruimtes word daagliks ontsmet, sê sy.

In die Kaapse Wynland-gebied het die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement aangedui dat oordrag in die gemeenskap die gebied affekteer. “Ons verwag dat gevalle wat deur skole aangemeld word, sal toeneem soos dit gebeur,” sê sy.

Die Sekondêre Skool Schoonspruit in Malmesbury het in ’n brief bekend gemaak die skool word Vrydag tydelik gesluit vir ontsmetting. Luidens die brief is ’n onderwyser Woensdag positief getoets, het nog ses simptome en is vier onderwysers en verskeie leerlinge in isolasie. Die skool heropen Maandag.


Meer oor:  3De Vlaag  |  Koronavirus  |  Wes-Kaap  |  Pandemie  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.